Rhodespark-aanval: Verdagte te siek om verhoor te word

Rhodespark in Kensington, Johannesburg (Foto: ttruluck, panoramio.com)

Rhodespark in Kensington, Johannesburg (Foto: ttruluck, panoramio.com)

Die verhoor van die drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle deel was van ʼn bende wat twee paartjies verlede jaar in Rhodespark in Kensington in Johannesburg aangeval het, kon nie Maandag hervat word nie aangesien een van die beskuldigdes te siek is.

In die hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, is getuig dat een van die verdagtes kla van borspyne wat sy asemhaling beïnvloed.

Adv. Robert Xaba, regsverteenwoordiger vir die sieklike Edmore Ndlovu (23), het gesê die beskuldigde het hom Maandagoggend meegedeel dat hy nie goed voel nie. Xaba het gesê sy kliënt het griepsimptome en het uitstel gevra sodat Ndlovu mediese behandeling kan ontvang.

Ndlovu het gebukkend in die beskuldigdebank gesit, tussen sy twee medebeskuldigdes, Thabo Nkala (25) en Mduduzi Lawrence Mathibela (32). Dit het voorgekom asof hy sukkel om asem te haal.

Regter Papi Masopa het beveel dat Ndlovu dadelik na ʼn hospitaal geneem word. Die saak is tot Dinsdag uitgestel.

Die drie staan tereg op aanklagte van moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede. Hulle het vroeër skuld op al die aanklagte ontken.

Maroela Media het vroeër berig twee paartjies het op 17 Oktober 2015 in Rhodespark gestap toe hulle deur ʼn groep van 12 mans voorgekeer is. Die verdagtes het die mans glo vasgebind en in die dam gegooi terwyl hulle een van die vroue verkrag het. Die ander vrou is glo seksueel aangerand voordat sy daarin kon slaag om te vlug. Albei mans het verdrink.

Lees alle vorige berigte oor die Rhodespark-aanval op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Will i am ·

Toe hulle die daad gepleeg het was hy nie siek nie. Dit net verskonings

CAV ·

Hy was nie te siek om moord te pleeg en te verkrag nie. Nou moet ons seker nog vir sy medies onkostes ook betaal

m ·

Ag spaar ons die strooi pratery. Hierdie skepsel speel vir tyd hy makeer niks nie.

Raymond Bastone ·

Hy sit meer aan as wat hy siek is. Sluit hulle toe en gooi die sleutel weg sodat hulle opfrot in die tronk en geen kos of water vir hulle.

Diagnose ·

Dis seker maar ‘n tipe skool siek. Nie lus om sy verantwoordelikhede te face nie

Boet Meintjes ·

Hulle is nooit te siek om te moor of te vermink nie…. maar laat hy net voor staan in die hof dan maak hy aanspraak op sy regte, hy wat die slagoffers nooit ‘n kans gegee het nie. Soms maak sogenaamde demokrasie nie vir my sin nie.

Tong innie kies ·

Is hy nie dalk familie van die “Schaik’s” nie?

Alida ·

Wat soek hy in die hof as hy dan kwansuis so vreeslik siek is. Twak man hy makeer niks. Kort n paar klappe.

Sputnik ·

Twee van sy slagoffers kon ook nie asemhaal nie en het deur sy toedoen verdrink! Los hom dat hy doodgaan!

Kobie ·

Miskien is dit die Natuur se manier om hom die doodstraf te gee.

Brie-brie ·

Varkgriep of longonstekking…sien dis hoe dit werk. Pleegmoord en kyk daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.