Rhodespark: Beskuldigde getuig oor ‘polisie-aanranding’

Thabo Nkala, Edmore Ndlovu en Mduduzi Lawrence Mathibela. Foto: Brenda Masilela/ANA

Thabo Nkala, Edmore Ndlovu en Mduduzi Lawrence Mathibela. Foto: Brenda Masilela/ANA

Een van die mans wat teregstaan op aanklagte van verkragting en moord in verband met die opspraakwekkende Rhodespark-aanval, het Maandag in die Palm Ridge-landdroshof volgehou hy is aangerand en deur die polisie gedwing om ʼn skulderkenning te maak toe hy in hegtenis geneem is.

ʼn Verhoor binne ʼn verhoor word nou gehou om die toelaatbaarheid van sekere getuienis vas te stel. Thabo Nkala, een van die beskuldigdes, het aan die hof verduidelik wat op 29 Oktober 2015, die dag van sy inhegtenisneming, gebeur het.

“Ek is omstreeks 09:00 in Yeoville deur vier polisiebeamptes in hegtenis geneem. Twee was swart en die ander twee was wit. Hulle het my agter in die polisiemotor gesit met my gesig na onder terwyl hulle op my getrap het. Hulle het my na ʼn huis in Yeoville toe geneem en toe ons daar kom, het hulle vir my gesê ek moet nou erken wat ek by Rhodespark gedoen het,” het Nkala gesê.

Hy het gesê hy was verward en het nie geweet waarvan die polisiebeamptes praat nie. Die beamptes het hom glo aangerand en vir hom ʼn papier met inligting daarop gegee wat hy moes memoriseer. “Hulle het pepersproei in ʼn stuk rubber gesit en dit gebruik om my gesig toe te maak. Ek kon nie asemhaal nie en as gevolg daarvan sukkel ek nou met ʼn chroniese hoes.”

Nkala, ʼn 25-jarige onwettige immigrant van Zimbabwe, het gesê hy is al sedert 2007 in Suid-Afrika. Hy het spesifiek verwys na ene “JB” en “Howard” wat konst. Lufuno Sono bygestaan het om hom in hegtenis te neem, maar beweer hy kan nie onthou wie die vierde polisiebeampte was nie.

Hy beweer hy is die volgende dag teruggeneem na die huis in Yeoville waar hy die inligting, wat in Zoeloe op die papier geskryf was, moes herhaal. Volgens Nkala was dit A4-velle papier en was die teks een en ʼn halwe bladsy lank. “Ek was bang en het die inligting op die papier herhaal om te wys ek kan dit onthou en toe het hulle die papiere teruggevat. Daarna het hulle my Rhodespark toe geneem waar ek aangesê is om met my vinger na sekere gebiede te wys,” het hy gesê.

Hy beweer die ondersoekbeampte, Bruce van der Schyff, was ook teenwoordig en het al die gebeure verfilm. Hy het ook gesê die polisiebeampte wat sy verklaring afgeneem het, het nie sy grondwetlike regte aan hom voorgelees nie.

Nkala het getuig die enigste inligting wat hy self aan die polisie gegee het, was sy naam en adres. Die res van die inligting is volgens hom deur die polisie versin.

Adv. Mutuwa Nengovhela, die staatsaanklaer, het Nkala tydens kruisondervraging gevra hoekom hy nooit die aanranding aangemeld het nie. “Al die polisiebeamptes het baie kwaai met my gepraat en ek het nie een van hulle vertrou nie,” het hy gesê.

Op ʼn vraag hoekom hy nooit ooglopende beserings aan sy lyf gehad het nie, het Nkala gesê hy het slegs inwendige beserings opgedoen en daarom het hy nou ʼn chroniese hoes. Hy het beweer hy moet soms medikasie neem weens hierdie beserings.

Nengovhela het gesê dit is verrassend dat Nkala ʼn verklaring van een en ʼn halwe bladsy gegee is om te memoriseer, maar dat sy amptelike verklaring aan die polisie vier bladsye lank is. Nkala het gesê dit is weens die vertaling van die Zoeloeteks na Engels dat sy polisieverklaring langer is.

Die beskuldigde het gesê hy was nog nooit voorheen by Rhodespark totdat die polisie hom gedwing het om daarheen te gaan en die misdaadtoneel uit te wys nie.

Moses Mbotho wat ten tyde van Nkala se inhegtenisneming die bevelvoerder by die Cleveland-polisiestasie was, het vroeër aan die hof gesê hy het ʼn versoek van die ondersoekbeampte in die saak ontvang dat reëlings getref moet word sodat Nkala en sy twee medebeskuldigdes, Edmore Ndlovu (25) en Lawrence Mathibela (32), skulderkennings kan aflê.

“As iemand kla oor ʼn aanranding, sal dit in die gevalleboek aangeteken word en die stasiebevelvoerder daarvan bewus wees,” het Mbotho gesê. “Ek ontken ten sterkste dat die beskuldigde aangerand is. Ek hou by my woord.”

Nkala, Ndlovu en Mathibela was na bewering deel van ʼn bende wat twee mans in die dam by Rhodespark ingedwing het waar hulle verdrink het. Die bende het daarna die mans se vroue seksueel aangerand en verkrag, voordat hulle die vroue beroof het.

Nkala sal vandag met sy getuienis voortgaan.

Lees alle vorige berigte oor die Rhodespark-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Alida ·

Het hy nou gerieflikheidshalwe vergeet waardeur sy slagoffers moes gaan. Nou dat hy sy eie medisyne kry nou kla hy.

Nadia ·

Dis nou lyk my elke 2de een se storie, die polisie het hul aangerand. Hkm moet hul enige regte hê, hul het nie hulle arme slagoffers se lewens regte en se menswees in ag geneem nie.

Sê maar net. ·

Hoe vat jy die woorde so uit my mond Nadia. Nogal interesant hoeveel nuus gebeure is daar deesdae waar die kwaaddoeners konsuis aangerand is deur die polisie /publiek, en daar word nie dadelik ‘n saak geopen nie. Foeitog. Almal wil nou in die media wees of dit goeie of slegte publisiteit is.

Elsabe ·

JA NEE MAKLIK OM TE SE HY IS AANGEVAL MAAR HET HY NIE OOK AANGEVAL NIE DIE VARK. ARME POLISIE MORE LOOP HY VRY ROND EN DOEN MAAR WEER WAT HY GEDOEN HET.

Jakes ·

Onwettig in land sedert 2007, maar sy grondwetlike reg aangetas ?

Klip in die bos ·

Grondwetlike reg “my alie” stuur hulle terug waar hulle vandaan kom. Hulle dring ons land in deur met ons mense te trou en sodoende kry hulle burgerskap.

izzy ·

Jy’s ONWETTIG!!!! Jy het GEEEEEEEN regte hier nie! Veral nie as jy ‘n so ‘n walglike misdaad gepleeg het nie.

Maak stem dik ·

Die BLIK…… mense ek hoop die regter sien deur hulle plan. Hierdie is uitgeslape uitvaagsels. Hulle lees en hoor ook wat in die media gesê word. Hulle praat presies soos die Panayiotou ouens. Gaan kyk maar

P ·

Wanneer gaan die diewe ophou om slagoffers te wees??? As jy iets verkeerds gedoen het, verdien jy wat na jou toe kom. G’n wonder gereg word in eie hande geneem nie – hierdie wette in ons land beskerm die skurke en nie die publiek of victims nie. Skandelik!

Asjas ·

Dit gaan interresant wees om te hoor wat die DNA bepaal. As DNA hulle daar plaas en die slagoffers hulle uitken het ek geen simpatie met die lot nie en gaan ‘n dowe oor en blinde oog gooi wat die Polisie se optrede aanbetref.
Ek twyfel ook baie sterk of Polisie so dom gaan wees om dit op video op te neem.
Verder voel ek ook dat as jy jou lewe van so aard leef dan gaan jy op die Polisie se radar wees, so kry vir jou.

Geen genade ·

Polisie het kamstig op jou getrap maar julle het verkrag en vermoor en mense vasgebind en hulle in ‘n dam gegooi om te verdrink? Jy kan bly wees ek was nie ‘n polisieman nie. Weet jy hoe voel dit om stadig te verdrink terwyl jou hande en voete vasgebind is en jou partner skreeu terwyl sy verkrag is en jy niks kan doen nie? Vreemd om te noem twee polisiemanne was swart en twee wit, seker weer die wittes wat so vreeslik wreed was ne?

CAV ·

Tikkel Tokkol, ek voel … vir hulle – hulle kan bly wees hulle het so lig afgekom

NONSENS ·

1. ‘n onwettige immigrant het GEEN grondwetlike reg
2. Vertaling vanaf Zoeloe na Engels is korter en NIE LANGER

JP ·

Ek sal graag will sien how word daar op hom getrap terwyl hy after in ‘n kar sit. ‘n Kar het nie dieselfde spasie en hoogte agter in as ‘n bus nie, Dan gaan die onskuldige meneer seker nog geglo word ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.