Rhodespark-saak: Drie in getuiebank, ontken steeds skuld

Thabo Nkala, Edmore Ndlovu en Mduduzi Lawrence Mathibela. Foto: Brenda Masilela/ANA

Thabo Nkala, Edmore Ndlovu en Mduduzi Lawrence Mathibela. Foto: Brenda Masilela/ANA

Die drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle twee vroue in Rhodespark in Kensington, Johannesburg, verkrag en hul mans verdrink het, beweer hulle het mekaar vir die eerste keer ontmoet toe hulle in hegtenis geneem is.

Die Rhodespark-beskuldigdes, Thabo Nkala (25), Edmore Ndlovu (23) en Mduduzi Lawrence Mathibela (32), het Donderdag weer in die hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, verskyn waar hulle teregstaan op aanklagte van moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede. Hulle was glo deel van ʼn bende wat twee paartjies op 17 Oktober verlede jaar in die park aangeval het.

Die beskuldigdes het vroeër skuld ontken op al die aanklagte en beweer hulle is erg aangerand deur die polisie en gedwing om skulderkennings te maak ná hul inhegtenisnemings. Regter Papi Masopa het egter in ʼn verhoor binne ʼn verhoor, wat gehou is om die toelaatbaarheid van sekere getuienis vas te stel, hul aantygings verwerp.

Nkala het Donderdag in die getuiebank ontken dat hy Mathibela en Ndlovu ken. Hy het bewerings ontken dat sy bynaam Rasta was, ʼn bynaam wat glo aan hom gegee is aangesien hy Rastalokke gehad het tydens sy inhegtenisneming. Sy hare is intussen kort geskeer.

Ndlovu was tweede in die getuiebank. Hy het aan die hof gesê hy ken glad nie Rhodespark nie en dat hy die dag van die misdaad in Alexander was saam met sy broer, Sipho.

Ndlovu het aanhoudend tydens sy kruisondervraging geglimlag. Op ʼn vraag deur die staatsaanklaer, Mutuwa Nengovhela, oor hoekom hy dit heeltyd doen, het Ndlovu met ʼn glimlag geantwoord: “Dit is omdat ek die waarheid praat en nie nodig het om kwaad te lyk nie.”

Hy het ongemaklik voorgekom toe hy nie kon verduidelik hoe die handskoen lyk waarmee hy glo deur die polisie aangerand is nie.

Hy het volgehou dat hy onskuldig is en ontken dat hy deel was van ’n groep van agt mans wat op kringtelevisiebeeldmateriaal, wat wys hoe agt kort ná die voorval van die misdaadtoneel vlug, afgeneem is.

Mathibela was daarna in die getuiebank en het soos sy medebeskuldigdes volgehou hy is onskuldig. Hy het beweer dat die dokter wat hom ondersoek het, hom beledig het. Hy het ook die dokter se verslag [wat noem hy het nie beserings waargeneem nie] betwis en gesê die dokter was onprofessioneel. “Ek het inwendige beserings gehad,” het hy gesê.

Portia Phahlane, Mathibela se prokureur, het hom gevra of hy homself op die kringtelevisiebeeldmateriaal kan identifiseer.

“Ek is nie op die beeldmateriaal nie. Selfs al wys jy dit aan iemand wat my goed ken, sal hulle saamstem,” het hy geantwoord. “Wat ek aan die hof kan sê, is dat ek nie verantwoordelik is vir die misdaad nie. Die polisie het seker gemaak ek bely oor die misdaad en dat ek van die misdaad aangekla gaan word, of ek lewend of dood is.”

Die saak is tot Vrydag uitgestel wanneer Mathibela met sy getuienis sal voortgaan.

Lees alle vorige berigte oor die Rhodespark-saak op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elsabe ·

Ja Hennie glo so as hulle vas is is hulle altyd of aangerand of totally onskuldig.

Topster ·

Dit is nie in sekere mense se geaardheid om verantwoording vir jou dade te neem nie en ek sien dit in die werksplek ook en dit gaan ook nie nou verander nie al wys jy daai person op beeld material dan gaan by nog steeds stry dit was nie hy nie

Johanna Botha ·

So gaan alles net om en om in sirkels vir dae maande en jare en kom daar niks van nie

Ben Prinsloo ·

Geagte leser het u al ooit op 1 afgekom wat skuld erken het al het jy hom “red handed” gevang? Ek het nog nooit so 1 teegekom nie. Wys jou maar weer net wat is sy denkwyse. Die volstruis druk sy kop in n gat en dink hy kan sodoende nie gesien word nie, nogal skreeusnaaks. Ek vergelyk hulle egter nie met volstruise nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.