Rhodespark-saak: Uitspraak binnekort gelewer

Van links is Mduduzi Lawrence Mathibela, Edmore Ndlovu en Thabo Nkala Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: ANA

Die vrou van een van die mans wat verdrink het nadat hy deur ʼn groep rowers in die dam by ʼn park in Johannesburg ingedwing is, het Maandag gesukkel om die trane te keer toe sy in die hooggeregshof in Johannesburg weer die gebeure van daardie dag moes aanhoor.

Die vrou het langs haar vriendin gesit wat dieselfde beproewing as sy deurgemaak het toe hulle op 17 Oktober 2015 deur 12 mans in Rhodespark in Kensington aangeval is. Sizakele Nkosi-Malobane, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, en maatskaplike werkers het die vroue in die hof bygestaan. Die vroue se identiteit word beskerm omdat hulle tydens dieselfde aanval verkrag is.

Die hof was Maandag volgepak met familielede en verslaggewers wat gekom het om die regter se uitspraak in die opspraakwekkende saak te hoor. Mduduzi Lawrence Mathibela (33), Edmore Ndlovu (24) en Thabo Nkala (26) staan al drie tereg op aanklagte van moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede.

Die staatsaanklaer Monde Mbaqa het vroeër aangevoer die mans moet almal op dieselfde aanklagte teregstaan omdat hulle saamgewerk het. Albei vroueslagoffers het getuig dat verskillende mans by hul seksuele aanranding betrokke was. Slegs Mathibela se DNS is op een van die slagoffers gekry om hom met die verkragting te verbind.

Mathibela het vroeër Maandag woedend uit die beskuldigdebank gestorm na die aanhoudingselle toe joernaliste van hom begin foto’s neem het. Hy het gesê hy sal eers terugkeer wanneer die regter in die hof is. Sy regsverteenwoordiger en polisiebeamptes moes hom oortuig om terug te keer na die beskuldigdebank.

Rhodespark in Kensington, Johannesburg (Foto: ttruluck, panoramio.com)

Ndlovu, Nkala en Mathibela word daarvan aangekla dat hulle deel van ʼn groep van 12 mans was wat twee paartjies verlede jaar in Rhodespark in Kensington aangeval het. Die bende het twee mans in die dam by Rhodespark ingedwing waar hulle verdrink het. Die bende het daarna die vroue seksueel aangerand en verkrag voordat hulle die vroue beroof het.

Al drie beskuldigdes het skuld ontken op die aanklagte teen hulle en hou vol dat hulle nie deel van die bende was nie. Die staat het tydens die verhoor swaar gesteun op beeldmateriaal van veiligheidskameras om die mans met die misdaad te verbind. ʼn Informant het die mans op die beeldmateriaal geïdentifiseer wat tot hul inhegtenisneming gelei het.

Die drie het aanvanklik beweer hulle is deur polisiebeamptes gedwing om hul verklarings af te lê, maar regter Papi Masopa het tydens die verhoor hierdie bewerings van die hand gewys.

Masopa sal na verwagting deur al die getuienisse gaan voordat hy sy uitspraak lewer. Die saak gaan weer vandag voort.

Lees alle vorige berigte oor die Rhodespark-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Erick ·

Ek wens soms dat die see die hele land sal oorspoel en die plek permanent onder die see sal insak.

Sarie ·

Ek het ookal gewens dat iets tog net moet gebeur om hierdie eens “Land van melk & heuning” & nou “Sodom & Gomorra” te reinig van àl die mensgemaakte Peste & Plae…. Dis nie meer lekker om hier te woon nie, al is ek hier gebore & leef ek hier vd afgelope 73jr… Ek vrèès as ek dink op watter manier èk moontlik eendag aan mý einde sal kom…

Johann ·

In geen mate maak ek die geval af as minder belangrik of nie barbaars wreed nie. Wat ek wel oplet is die ondersteuning wat die plaaslike LUR skielik in die saak bied? My vraag is: waar is dieselfde ondersteuning in ander soortgelyke en selfs erger sake?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.