Rhodespark-slagoffers het probeer selfmoord pleeg

Van links is Mduduzi Lawrence Mathibela, Edmore Ndlovu en Thabo Nkala Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: ANA

Die hooggeregshof in Johannesburg het Woensdag gehoor dat die twee vroue wat in 2015 in Rhodespark in Kensington verkrag is, sedertdien selfmoord probeer pleeg het.

Die vroue en hul mans is deur ʼn bende van 12 mans aangeval. Hulle mans is in ʼn dam ingedwing waar hulle verdrink het. Die vroue is daarna seksueel aangerand en verkrag voordat hulle beroof is. Die beproewing het die twee vroue só gebroke gelaat dat albei probeer het om hul lewe te beëindig.

Dit was die getuienis wat deur ʼn beampte van die niewinsgewende organisasie, Ikhaya Lethemba, gelewer is. Pfurisa Norah Baloyi het gesê die twee vroue het ʼn jaar lank in ʼn skuiling vir oorlewendes van geweld gebly. Sy het gesê die vroue het in Augustus verlede jaar selfmoord probeer pleeg. “Hulle het gesê hulle kan nie die pyn verduur nie en sal eerder wil dood wees om by hul mans aan te sluit.”

Sy het gesê een van die vroue het 30 tablette gedrink, terwyl die ander een ʼn halwe bottel bleikmiddel gedrink het. Hulle was vir twee dae gehospitaliseer.

Baloyi was een van die getuies wat deur die staat geroep is om ter verswaring van vonnis te getuig. Sy het ook aan die hof gesê sy gee spirituele berading aan die slagoffers in die sentrum en albei vroue sukkel om te onthou wat hulle tydens die berading geleer is.

“Ek dink nie hulle het herstel nie. Dit is nog ʼn lang pad wat voorlê. Volgens my kort hulle nie maatskaplike werkers nie, hulle benodig hulp van psigiatriese kenners,” het sy gesê.

Die aanval in Rhodespark, wat skokgolwe deur die land gestuur het, het op 17 Oktober 2015 plaasgevind. Mduduzi Lawrence Mathibela (33), Edmore Ndlovu (24) en Thabo Nkala (26) is skuldig bevind op twee aanklagte van moord, twee aanklagte van verkragting en roof met verswarende omstandighede in verband met die aanval.

Die drie het deurentyd skuld op die aanklagte teen hulle ontken.

ʼn Tweede getuie, prof. Malose Langa, is ook na die getuiebank geroep. Langa is ʼn traumaspesialis wat ook die slagoffers geassesseer het. Hy het aan die hof gesê die herinneringe van wat met hulle gebeur het sal vir ewig by die vroue spook.

Hy het gesê een van die vroue is steeds kwaad en wens dat die boosdoeners op dieselfde manier sal sterf as dié waarop haar man doodgemaak is. Hy het gesê dit is onwaarskynlik dat die vroue van die voorval sal herstel en dat hulle steeds terapie en medikasie nodig het. Volgens Langa moet albei vroue anti-depressante gebruik sedert die voorval.

Lees alle vorige berigte oor die Rhodespark-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

dirk L ·

Dankbaar hulle is skuldig bevind , al sal dit die grusaamheid en wreedheid nie kan wegneem nie. Laat hierdie twee vroue altyd in ons gebede bly, hulle en hul eggenote .

Ange ·

Ai, daar is nie genoegsame woorde om te beskryf waardeur die twee dames en hulle mans is nie. My innige simpatie en ek gaan hulle in my gebede hou. Weet nie of dominees kontak maak met mense wat deur sulke traumatiese gebeure is nie?

AL ·

Slagoffers van geweldsmisdade se lewens word geknak terwyl moordenaars ligte vonnisse kry, geleerdheid en versorging kry in tronk en voortgaan met hul lewe. Onregverdig!

Hartseer ·

My hart is bitter seer vir die vroue, hulle is deur erge trauma, hulle is geknak. Ek sal bid vir hulle dat hulle tenvolle sal herstel. Met Jesus liefde.

Stephan ·

Groot verskil tussen iemand in n dam in te dwing Wat kan swem , en eers sy hande en voete vas te bind en dan in dam te gooi. Lyk my Maroela wil doekies omdraai.

SkarrelKind ·

My hart is so seer vir hulle. Die land is in sy tjops. En die doodstraf is nie so effektief as wat mense dink dit is nie. Ons moet ‘n eiland kry, waar hierdie tipe ouens elke dag klippe kap, hulle eie kos moet plant en moewiese swaar lewens in tronke ly. En lewenslank moet
VIR ALTYD wees. Maar dan weer sal dit ‘n rasse ding word en wittes sal ook vir enige ding tronk toe gestuur word, omdat ons skuldig is net oor ons wit is. Wat is die oplossing??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.