Rhodespark-verdagte: ‘Inhegtenisneming deel van komplot’

Thabo Nkala, Edmore Ndlovu en Mduduzi Lawrence Mathibela. Foto: Brenda Masilela/ANA

Thabo Nkala, Edmore Ndlovu en Mduduzi Lawrence Mathibela. Foto: Brenda Masilela/ANA

Een van die verdagtes wat aangekla word van moord en verkragting in die Rhodespark-saak het Vrydag in die hof volgehou sy inhegtenisneming is deel van ʼn sameswering deur die polisie teen hom.

Mduduzi Lawrence Mathibela (32) het vroeër aan die hooggeregshof in Palm Ridge gesê dat die hoof van die polisie ʼn opdrag gegee het dat hy in hegtenis geneem moet word en dat die polisiebeamptes bonusse ontvang het nadat hy in hegtenis geneem is. Mathibela het met ʼn stroewe gesig in die hof getuig dat al die getuienis wat deur die staat aan die hof voorgelê is en al die getuies wat teen hom getuig het, alles deel van die komplot is om hom agter tralies te hou.

Mathibela se DNS is binne die verkragte vrou gevind, asook op haar onderklere.

Die drie beskuldigdes, Mathibela, Edmore Ndlovu (23) en Thabo Nkala (25), word daarvan aangekla dat hulle deel van ʼn bende van 12 mans was wat twee mans en hul vroue by die Rhodesparkdam in Oktober verlede jaar oorval en vuurwapens en messe gebruik het om die egpare van hul persoonlike besittings te beroof. Die bende het die mans daarna aangerand voordat hulle hul gedwing het om in die dam te spring, waar hulle verdrink het. Die twee vroue is seksueel aangerand en verkrag.

Adv. Monde Mbaqa, die staatsaanklaer, het Mathibela onder kruisondervraging geneem oor verskeie aspekte van en teenstrydighede in sy getuienis.

Mathibela, Ndlovu en Nkala is volgens die staat vriende, maar het in die hof ten sterkste ontken dat hulle mekaar ken. Mathibela het gesê hy het voorheen sy twee medebeskuldigdes in Yeoville gesien, maar nog nooit met hulle gepraat nie.

“Dit is baie vreemd dat beskuldigdes een en twee aan die hof gesê het hulle ken jou glad nie, maar jy beweer jy sien hulle gereeld in Yeoville?” het Mbaqa gevra.

Mathibela het in sy antwoorde telkens teruggekeer na sy bewerings dat die polisie betaal is om teen hom te lieg. “So, jy is soos ʼn glanspersoonlikheid in hierdie saak en almal is agter jou aan?” het Mbaqa gevra.

“Wel, my regsverteenwoordiger van die vorige howe het vir my gesê ek is soos ʼn glanspersoonlikheid, want ek is oral in die nuus,” het Mathibela geantwoord. “Die staat het mense beloon vir my inhegtenisneming en die polisie het bonusse ontvang omdat hulle my vasgetrek het.”

Mbaqa het deur Mathibela se verklaring gegaan en hom gevra hoekom die polisie hom sou dwing om misdade wat nie met hierdie misdaad verband hou nie, asook sy familie se name te noem. “Die polisie weet alles van my af,” het hy geantwoord.

“Meneer, wil jy beweer die polisie het inligting oor jou bekom en jou bewegings gemonitor net sodat hulle jou die skuldige in hierdie misdaad kon maak?” het Mbaqa gevra. Mathibela het ja geantwoord.

“So, jy is ʼn glanspersoonlikheid?” het Mbaqa gevra. “Ek dink ek was ʼn maklike teiken,” het Mathibela geantwoord.

Mathibela kon egter nie verduidelik hoe sy DNS binne die verkragtingslagoffer gekom het nie. “Ek kan dit nie verduidelik nie, want ek verstaan nie hoe DNS werk of hoe dit my met die verkragting verbind nie,” het hy gesê.

“Jy kan dit nie verduidelik nie, want jy het haar verkrag,” het Mbaqa geantwoord.

Mathibela het toe die DNS-kenner, wat vroeër getuig het hoe DNS werk, daarvan beskuldig dat hy ou DNS-monsters gebruik het om hom (Mathibela) met die misdaad te verbind.

Die saak is tot 13 Desember uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor die Rhodespark-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

GES ·

Hulle was dalk so gerook of bedwelm dat hulle nie hulle wandade kan onthou nie. Nogal vreesaanjaend ..

Kobus ·

Dommer as grond….want n boompie kan in grond geplant word en dit sal groei met genoeg water natuurlik

Karin ·

Jou hom malkoppie dink seker hy Gaan los kom as by die goed kwyt raak .. Hahaha

Lindie ·

Sak Sarel. As dit nie so tragies was nie, sou mens kon lag. Ek hoop hy word ‘n swaar straf opgelê, buiten dat hulle misdaad wreed was, vir sy totale astrandheid. Ek kan net dink wat daardie twee vroue se laaste gedagtes was.

Skiet ·

As ek 1 van die 2 vroue was het ek hul almal dood geskiet net daar…. al sou ek sit…

Ronel ·

Weet nie van veel nie maar moor en verkrag dit weet hulle van.

Moeggepraat ·

Klink of hy bo-gemiddeld slim is…. Nog ‘n bewys dat 20% vir Wiskunde meer as genoeg is. Lmga!!! Kyk gerus na die Dunning-Kruger effek. They don’t even know what they don’t know!!! Kyk uit vir die onderpresteerders; hulle gewoonlik iets met die staat te doen en is groot voorstanders van BBBEE , korrupsie, ens….

Simon ·

Aan moeggepraat,
Wat van psigopate wees, of moontlik sosiopatie ( bepaald n gevaarlik toestand om in te wees)

Alida ·

Hy dink hy is slim. Die tegnologie en die mense met breins sal hom vir altyd agter tralies laat beland. Arogant verby.

lorayne ·

Ek sou voorstel hy onderskat nie verder Advokaat Monde Mbaqa of die Hof se intelligensie nie. . . want mense is wat dink hulle is slim, is gewoonlik NIE so slim nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.