Riah Phiyega onder skoot; dalk eersdaags gepos

Riah Phiyega Foto: GCIS/SAPA

Riah Phiyega Foto: GCIS/SAPA

Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, is onder skoot in vier verslae wat aanbeveel dat daar teen haar opgetree moet word, het City Press berig.

Agt senior bronne in die polisie het verlede aan City Press gesê die verslag oor die Marikana-tragedie beveel aan dat Phiyega strafregtelik vervolg moet word vir haar aandeel in die voorval waar 34 mynwerkers doodgeskiet is. Die verslag deur afgetrede regter Ian Farlam is verlede week aan pres. Jacob Zuma oorhandig.

ʼn Senior regeringsbron het verlede week aan City Press gesê Phiyega “veg nou vir haar lewe”. Lt.genl. Solomon Makgale, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die Marikana-verslag nie, aangesien Phiyega dit nog nie ontvang het nie.

Dié verslag is een van vier wat Phiyega se geskiktheid om haar amp te beklee in twyfel trek. Volgens City Press was daar sedert 2013 drie ander klagtes en aanbevelings teen Phiyega. Die jongste “negatiewe bevinding” teen Phiyega word gemaak in die verslag van ’n “verwysingsgroep” – ʼn paneel van regs- en veiligheidskenners – wat in Oktober deur Nathi Nhleko, minister van polisie, aangestel is.

Die paneel is aangestel om verskeie polisiekwessies, waaronder administrasie, bevorderings en dissiplinêre verhore van senior bestuurslede te ondersoek. Phiyega het geweier om saam te werk en by Zuma daaroor gekla. ʼn Lid van die verwysingsgroep het aan City Press gesê daar was ʼn bevinding. ʼn van swak leierskap en toepaslike stappe is aanbeveel.

In September verlede jaar het die nasionale vervolgingsgesag besluit om Phiyega nie vir dwarsboming van die gereg te vervolg nie. Sy het glo die Wes-Kaapse polisiehoof, Arno Lamoer, ingelig dat die Valke hom ondersoek. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) en ʼn senior aanklaer het aanbeveel dat Phiyega dissiplinêr vervolg word.

Nog ’n ernstige saak teen Phiyega is die ondersoek na die beweerde korrupte verhouding tussen die KwaZulu-Natalse polisiehoof, lt.genl. Mmamonnye Ngobeni en die Durbanse sakeman Thoshan Panday. Volgens City Press het Robert McBride, geskorste hoof van Opod, aanbeveel dat Phiyega dissiplinêre aksie teen Ngobeni moet instel. Phiyega het glo in antwoord hierop gesê “oor my dooie liggaam”.

“Dit is nie net die Marikana-aanbevelings wat haar [Phiyega] hoofbrekens besorg nie,” het ʼn senior regeringsbron gesê. “Daar is geen manier wat die president en die minister kan voortgaan om anderpad te kyk nie.”

City Press

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gert ·

En daar eet die een hond die ander hond. Daar is in toekoms nog baie sulke voorvalle. Die wiel draai.

scalla ·

Sy moes in die eesrste plek nie aangestel gewees het nie, viva nog n anc flop

Anton Smit ·

Scalla kom ons wag eers tot sy in die pad gesteek is dan juig ons want ons ken die anc

Conrad Labuschagne ·

Onbevoeg en onbekwaam. Net ‘n opgeleide Polisieman met deeglike kennis aangaande die reg kan dien as Polisie Kommissaris! Die deployment van ANC kaders is besig om ‘n welverdiende verleentheid vir die ANC te word. Net jammer mense moes sterf agv onbekwaamheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.