Richard Mdluli dán gevonnis

Richard Mdluli.

Die voormalige misdaadintelligensiehoof Richard Mdluli se vonnisoplegging is Donderdag in die Suid‑Gautengse hooggeregshof tot later vanjaar uitgestel.

Die vonnisoplegging is tot 7 November uitgestel.

Mdluli en sy medebeskuldigde, Mthembeni Mthunzi, het vanoggend weer in die hof verskyn in verband met misdade wat 20 jaar gelede gepleeg is.

Mdluli is in Julie vanjaar skuldig bevind op aanklagte wat verband hou met die ontvoering en aanranding in 1999 van sy voormalige geliefde se man.

Hy is skuldig bevind op vier aanklagte van intimidasie, twee van ontvoering, twee van aanranding en twee van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Mthunzi is skuldig bevind op soortgelyke aanklagte.

Die twee mans het Oupa Ramogibe geïntimideer, aangerand en ontvoer.

Ramogibe en Tshidi Buthelezi, Mdluli se voormalige geliefde, het in die geheim in Julie 1998 getrou. Ramogibe is ʼn jaar later doodgeskiet.

Aanklagte van moord is teen Mdluli en Mthunzi teruggetrek, maar staatsaanklaers kon hul saak op die ander aanklagte bewys.

Die twee mans het skuld ontken op al die aanklagte. Hulle is vrygespreek op aanklagte dat hulle Buthelezi se vriendin, Alice Manana, geïntimideer het. Hulle is ook vrygespreek op aanklag van dwarsboming van die gereg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Grobler Steyn ·

Sy appélle sal nog vir 20jaar duur hy is as zumais en vryheidsvegter onaantasbaar

Trys ·

Sal straf wees om voorts kaviaar pleks van pilchards te eet?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.