Richard Mdluli weer in hof

Mdluli (links) tydens 'n vorige verskyning, Foto: Werner Beukes/SAPA

Mdluli (links) tydens ‘n vorige verskyning, Foto: Werner Beukes/SAPA

Richard Mdluli, geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid, het Dinsdag in die Johannesburgse hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, verskyn.

Die saak is tot 5 Desember uitgestel sodat die verdediging met die nodige dokumente voorsien kan word ten einde met hul saak voort te gaan. Mdluli staan tereg op aanklagte van ontvoering, aanranding met die doel om ernstig te beseer, intimidasie en regsverydeling.

Mdluli is tydens sy vorige verskyning op 11 Desember formeel aangekla. Luidens die klagstaat was Mdluli sedert sy skooldae in ʼn verhouding met Tshidi Buthelezi en hy het aangevoer sy is sy vrou.

Mdluli en Buthelezi het saam in ʼn huis in Dawn Park gewoon en hulle het ook ʼn kind gehad. Sy het egter tydens dié verhouding vir Oupa Ramogibe ontmoet. Sy het Mdluli verlaat en het ʼn verhouding met Ramogibe aangeknoop voor hulle uiteindelik in 1998 getrou het.

Toe Mdluli uiteindelik van die huwelik te hore gekom het, het hy ʼn afskrif van die huweliksertifikaat bekom. Buthelezi en Ramogibe het gaan wegkruip toe hulle hoor dat Mdluli na hulle op soek is. Hulle het in ʼn stadium in Orange Farm weggekruip.

Mdluli het uiteindelik vir Buthelezi en Ramogibe opgespoor en na die Vosloorus-polisiekantoor geneem waar hulle aangerand is. Ramogibe is op 17 Februarie 1999 doodgeskiet. Sy familie het die volgende dag die moord by die polisie aangemeld. Sy familie voer aan hy het doodsdreigemente gekry nadat hy en Buthelezi getrou het. Hy het kort voor sy dood ʼn saak van poging tot moord aanhangig gemaak.

Volgens die klagstaat het Mdluli die polisiedossiere rakende die voorvalle laat verdwyn om te verseker dat hy nie ondersoek of vervolg kan word nie.

Kliek hier vir vorige berigte oor Richard Mdluli.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.