Richard Wood: Boesemvriend gevonnis

Richard Wood (Foto: Verskaf)

Richard Wood se boesemvriend uit sy kinderjare is sewe jaar tronkstraf opgelê vir sy dood.

Christopher van der Westhuizen (23) is Dinsdag in die landdroshof in Pretoria-Noord gevonnis nadat hy verlede jaar in dié hof skuld beken het op aanklag van strafbare manslag in verband met sy vriend se dood meer as twee jaar gelede. Die twee het voor die voorval saam gewoon.

“Ek voel verlig. Dit was ’n baie lang tyd,” sê Maryna Wood, Richard se ma, ná die vonnisoplegging aan Maroela Media. Die saak het die afgelope paar jaar gesloer omdat dit herhaaldelik uitgestel moes word. Maryna glo geregtigheid het oplaas geskied. “Nou kan Richard tot ruste kom,” sê sy.

Maroela Media het vroeër berig die 26-jarige Wood is op 5 November 2017 erg beseer op die sypaadjie buite ʼn kuierplek in Pretoria opgemerk. Hy is na bewering tydens ʼn rusie erg deur sy vriende aangerand en vir dood agtergelaat.

Wood is ’n week later, op 13 November, in die hospitaal dood nadat hy ’n breinoperasie ondergaan het in ’n poging om sy lewe te red.

Van der Westhuizen het gedurende ʼn vorige verskyning in die hof erken dat hy Wood wel daardie nag met die vuis geslaan het, wat eindelik tot sy dood gelei het. Wood het ná die hou geval en sy kop gestamp. Van der Westhuizen het aanvanklik ontken dat hy aan sy vriend geslaan het. Hy het ook later erken dat hy destyds vir Wood se ma gejok het toe hy gesê het hy weet nie waar Wood is nie, nadat hy hom in ʼn bedenklike toestand by die kuierplek agtergelaat het.

Volgens Maryna het Van der Westhuizen vandag in die hof hiervoor om verskoning gevra.

Marchant Bredell (32) is ook aanvanklik van Wood se moord aangekla. Bredell is vroeër egter voorlopig vrygespreek, aangesien hy nie aandadig vir die destydse aanranding gehou kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jaco ·

ligte straf want dis mos maar net n wit man wat n wit man vermoor het. so who cares? ons anti-wit owerhede wil tog maar eintlik van al ons wit mense ontslae raak…

Pieter J ·

Ek wonder wie moet blameer word vir hierdie ligte vonnis.

Amanda ·

Baie ligte vonnis vir so bitter baie hartseer. Gelukkig sal sy straf begin as die tronkdeur agter hom toemaak, glo my!!

Charmain ·

Vir n lewe net 7 jaar! Absoluut skokkend. As dit vergelyk word met ander lande lees jy van 20/30/40 jaar sonder parool.

Marie ·

Sit iemand in ‘n kis 15 jaar, moor iemand 7 jaar. Kan dit nie verstaan nie.

Talitha ·

Ek ken die mense glad nie, maar gestel daar was drank betrokke en daar het ‘n bakleiery uitgebreek, baie van ons het dalk ook een aand al te veel gedrink. Dis so hartseer dat hy sy vriend daar gelos het en dis hartseer dat die hou so dodelik was…. Ek besef ons almal moet verantwoording doen vir ons dade, maar dalk het die een aand se fout hom 7jaar en baie hartseer veroorsaak. Dit sal altyd by hom bly. Ek kry die Wood mense uit my hart jammer, maar ons almal maak foute en kan dankbaar wees dat die Here ons beskerm het toe ons ook jonk was… Mag die Heilige Gees julle help om te vergewe. Sterkte

Louise ·

7jaar, die mannetjies van vandag wil te gou bolle rol…
Neewat hy moes lewenslank kry, dat enige JONG kind so kwaad moet raak, waar gaan ons land net nie heen nie.
Sterkte vir julle

Moedeloos ·

Moord = 7 jaar nee regtig is hierdie kind se lewe so min werd?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.