Richardsbaai-man dood toe inwoners ‘inbreker’ agternasit

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Inwoner van Richardsbaai is Dinsdag doodgeskiet ná ʼn reeks inbrake by verskeie huise in die Veldenvlei-buurt.

Die 54-jarige man is doodgeskiet, maar daar is steeds teenstrydige berigte oor wie hom geskiet het.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die man is deur ʼn vermeende inbreker geskiet en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die gemeenskapspolisiëringforum (GPF) van Richardsbaai het egter ʼn ander weergawe van gebeure op sy Facebook-blad gedeel.

Volgens die GPF het ʼn inbreker by ʼn hele aantal huise in die buurt ingebreek voordat ʼn plaaslike veiligheidsmaatskappy en die bure in kennis gestel is. Die inbreker is agternagesit en hy is glo ernstig beseer toe hy in die kop geskiet is.

Die GPF beweer verder die verdagte het in ʼn stadium in ʼn huis weggekruip en ʼn skoot is deur een van die inwoners in sy rigting afgevuur. Die skoot het egter per ongeluk die 54-jarige man getref wat op die toneel dood is.

Die vermeende inbreker het glo probeer vlug, maar het in die straat inmekaargesak waar iemand hom opgetel en na ʼn plaaslike kliniek geneem het. Hy is daar na bewering deur GPF-lede gevind wat hom geïdentifiseer het as die man wat hulle agternagesit het.

Volgens die GPF is die inwoner wat die skoot afgevuur het sowel as die verdagte deur die polisie ingeneem vir ondervraging. Zwane hou egter vol niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Anton Wulff, die takbestuurder van Votella Security in Richardsbaai, was ook betrokke by die jaagtog en het gesê dit het ongeveer 40 minute geduur en oor 13 of 14 erwe gestrek. Wulff beweer hy was teenwoordig toe die 54-jarige man geskiet is en het gesê die man het sy vrou beskerm toe die koeël hom getref het.

Wulff het ook gesê die inwoner wat die skoot afgevuur het, is deur die polisie in aanhouding geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Karolis ·

Ek het hierdie berig nou al ses keer deurgelees, uhm… ek gaan nou vir my ‘n dop gooi.

Dirk Breytenbach ·

Dis beter om glad nie so ‘n berig te sien nie as om deur sulke swak taalgebruik te probeer ploeter. As ek dit nog ‘n keer lees kom ek dalk agter ek is geskiet!!

Lynette ·

Ek is bietjie deurmekaar. Is twee mense in die kop geskiet? Die inbreker sowel as n bewoner wat sy vrou beskerm het? Of is dit een en dieselfde persoon. Hoekom die teenstrydighede ivm mense wat of ingeneem is vir ondervraging of nie?

Mariné Lourens ·

Dagsê Lynette

Volgens die GPF se inligting is die vermeende inbreker in sy kop geskiet, maar hy is nie oorlede nie en in ʼn plaaslike kliniek behandel. Die inwoner wat glo sy vrou beskerm het, is doodgeskiet. Die polisie kon egter nie die besering van die verdagte bevestig nie, maar het wel bevestig dat ʼn 54-jarige inwoner doodgeskiet is.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Linky ·

Ja, Karolis gooi sommer vir my ook ‘n dop, stem saam jou hahaha!!

Mariné Lourens ·

Dagsê Langtand

Soos in die berig genoem, stem die polisie se inligting nie met die inligting ooreen wat vanaf die plaaslike GPF ontvang is nie. Volgens die GPF se inligting is die vermeende inbreker in sy kop geskiet, maar hy is nie oorlede nie en in ʼn plaaslike kliniek behandel. Die inwoner wat glo sy vrou beskerm het, is doodgeskiet. Die polisie kon egter nie die besering van die verdagte bevestig nie, maar het wel bevestig dat ʼn 54-jarige inwoner doodgeskiet is.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

LTVW ·

Nee regtig, die storie is so deurmekaar aanmekaar gesit. SAP sê een ding en ontken inhegtenisname, GPF sê iets anders…
Wie het die inbreker geskiet?
Hoekom word Wulff se bevestiging dat hy teenwoordig was, as ‘n “bewering” gestel???
Betwyfel media dat Wulff teenwoordig was? Goeistes, nee wat, kry maar EERDER die storie agtermekaar.

HF ·

Hi Maroela, ek is seker maar dom. Het die berig deurgelees en verstaan. Nie nodig om prentjies te teken nie. Hou aan met julle goeie werk en GRATIS diens wat julle lewer.

Cecilia ·

HF ek stem 100% saam jou. Het die berig gelees en verstaan. Dis nou regtig nie so moeilik nie. Dankie Maroela Media.

Dee ·

Ek stem saam met HF en Cecilia. Party mense het net rede gesoek om ‘n dop te gooi en ander praat graag agterna.

Dirk Hall ·

Nee, nee dit is tog duidelik uit die berig! ‘n Onskuldige bystaander is deur ‘n trigger happy jakketrak doodgeskiet tydens ‘n poging deur die gemeenskap om ‘n inbreker te vang. Die inbreker is wel gevang. Dit is egter nie duidelik wie die trigger happy ou is of wat van hom geword het nie. Daar is drie weergawes in die verband. Wat is daar wat nie verstaanbaar is nie? Haw! Die SAPS weergawe, die GPF weergawe en Wulff se weergawe! Die boodskap is tog duidelik. Dalk moet julle liewers die dop los. Hik.

G* ·

Ja nee Dirk Hall ek stem, dis dalk daai dop se skuld dat die mense nie die artikel kan verstaan nie, of die ogies sien al klaar dubbel, dan sal ek ook nie kan lees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.