Rieldans: Groep kraai koning ná vernuftige voetwerk in die stof

Betjies van Betjiesfontein: ATKV-Rieldanskampioene in die junior afdeling. Fotograaf: Jean du Plessis (verskaf aan Maroela Media deur die ATKV)

Betjies van Betjiesfontein: ATKV-Rieldanskampioene in die junior afdeling.
Fotograaf: Jean du Plessis (verskaf aan Maroela Media deur die ATKV)

Dit was die rieldansers van Clanwilliam, die Betjies van Betjiesfontein, in die junior afdeling en die Betjies Rooirots in die senior afdeling, wat met hul vernuftige voetwerk in die stof, koning gekraai het tydens die ATKV-Rieldansfinaal.

Die Rieldans as dansvorm het van die 1930’s tot die vroeë 1960’s hoogty op plase, veral onder skaapskeerders, gevier. Die riel het veral te make met die hofmakery tussen man en vrou en om dit uit te beeld word diere en voëls nageboots soos byvoorbeeld in die skoenlapperdans, die vlerksleep van ʼn haan, volstruismannetjie of kalkoen.

Die elfde jaarlikse ATKV-Rieldansfinaal het Saterdag in die Paarl in die Wes-Kaap plaasgevind.

Bernadine Fortuin van Betjies Rooirots is aangewys as Me. Rieldanspersoonlikheid seniors vir 2016 en Angelo Hugo van Boesmanland Bitterbessies as Mnr. Rieldanspersoonlikheid seniors vir 2016.

In die junior-kategorie het Lee-Ann van Wyk van Betjies van Betjiesfontein en Jason Roberts van Calvinia Sitstappers uiteindelik met die prys weggestap.

Anechia Cloete van Griekwa Ratelgat is aangewys as die beste danser: vroue in die senior afdeling en Abraham Willemse van Betjies Rooirots het stof in die ander mans se oë geskop as die beste senior danser.

In die junior afdeling het Luwandri Schrader van Brandvlei Stofskoppers en Cheslan Claaste van Betjies van Betjiesfontein koning gekraai as die beste dansers.

Die Grietjie van Garies-trofee vir die beste vordering in die senior-afdeling gaan aan Kammiesberg en in die junior-afdeling aan Net vir Pret 2.

Die Pieter van der Westhuizen-trofee vir beste Rielkitaarknyper en opteller gaan aan Marvin Hanse van Calvinia Sitstappers.

Die mees dinamiese leier in die junior-afdeling was Peter Takelo van Net vir Pret 2 en in die senior-afdeling Elsabe Cloete van Griekwa Ratelgat.

Gertruida Lombard van Boesmanland Bitterbessies spog met die trofee vir beste Rieldansliedjie en Alfred Basson van Betjies van Betjiesfontein is gekroon as die beste Rieldans-musikant.

Betjies Rooirots was die senior rieldanskampioene met Calvinia Sitstappers in die tweede plek. Kammiesberg is kort op hul hakke in die derde plek.

Betjies van Betjiesfontein was die junior rieldanskampioene en Calvinia Sitstappers het in die tweede plek geëindig. Net vir Pret 2 was in die derde plek.

Tydens die geleentheid is ’n spesiale toekenning aan Elias P. Nel oorhandig wat tien jaar gelede as ATKV-projekorganiseerder die rieldans as kultuurgoed begin bevorder het en in 2006 ʼn rieldanskompetisie gereël het waaraan sewe groepe en 105 individue deelgeneem het. In 2015 was daar 82 groepe en 1 230 deelnemers. Die ongekende opbloei wat die ATKV-Rielkompetisie oor die afgelope dekade of wat beleef het, nadat dit byna ’n uitgestorwe kultuuruiting was, is ongelooflik.

Elias P. Nel sê grappenderwys dat die rieldans toentertyd spesiaal vir mense met slap knieë, lang asems en ’n klomp speelsheid in die gene geskep is. Dis die oerdans wat ons by die Khoi en San geërf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

CHRISTA ·

Ek is seker hierdie kompetisie is op film vasgelê, Kan dit nie binnekort op SABC2 uitgesaai word nie. Ek sal dit so graag wil sien. Baie geluk aan al die wenners!!

dirk ·

hierdie mense is voetkunstenaars en skilder met hul lywe. Pragtig en ook wonderlike musiek. knap gedaan aan elke deelnemer

Agter-Pakhuis ·

Ons is trots op ons omgewing se plaasskool se kinders. Baie geluk. Dankie aan die personeel wat daardie ekstra ure insit en wat hierdie kinders ophef. As hierdie kinders Elizabethsfontein Primêr verlaat, kan mens hulle uitken tussen duisende. Hul standaarde is hoog, hul ken dissipline en hul is trots.

Jaydee Jaguar ·

Joop, hier bo, stel kortliks`n neteligheidjie wat meer mense pla. Om riel en HectorPeterson se graf aan die groot klok te hang is nie ons kultuur nie maar deel van ons geskiedenis. Maar die Afrikanerkultuur en eiesoortige geskiedenis word skromelik (so lyk dit) doodgeswyg deur `n organisasie wat uit die Afrikanerwese gebore is. Kry volkspele en danse dalk tog aandag waarvan mens net nie hoor nie, en hoor buitelanders wat na Hector Petersen se graf begelei word, tog dalk ook van Dirkie Uys en Japie Greyling, en as Amakeia dalk mee ras net `n legnde was, die gedig as samevatting van `n bloedige geskiedenis met talle sulke insidente. Mooi, geluk aan die rieldansers. Ons wi lnet vreeslik graag ook aan die volkspelers ook louriere gee, en sommer vir die (eens?) Afrikaner organisasie wat dit reël ook dankie së. Reg, of lees ek dinge verkeerd?

liza ·

Sjoe hulle kan maar dans, pragtig en baie geluk. Sou dit graag wou bygewoon het, ek dink dit kan net lekker wees……….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.