‘Rietbok’-vliegramp: ‘Ons sal nie vergeet’

Dit is vandag presies 57 jaar gelede wat ʼn tragiese vliegongeluk – een van die mees omstrede vliegrampe nóg in Suid-Afrika – die ganse land geruk het.

Ná amper ses dekades kan die raaisel van wat presies daardie dag gebeur het, dalk eindelik opgelos word wanneer ʼn span navorsers sal probeer om dele van die vliegtuig se wrak te herwin.

Die Vickers Viscount “Rietbok”, van die Suid Afrikaanse Lugdiens, ‘n paar weke voor die ongeluk. (Foto: Verskaf)

Die Rietbok – ʼn Vickers Viscount-passasiersvliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) – het op 13 Maart 1967, met altesame 20 passasiers en vyf bemanningslede aan boord, naby Oos-Londen die see in verdwyn. Die werklike oorsaak van die ramp bly egter tot vandag toe ʼn raaisel.

Wouter Botes, vlieënier, ondersoeker en vervaardiger van die TV-reekse Flights to Nowhere, Plane Wreck Hunter en Doodloopspore, sê egter dat die mees waarskynlike oorsaak van die ramp moontlik ʼn oordeelsfout van die vlieënier aan bevel, kapt. Gordon Lipawsky, en die swak weerstoestande was.

Dit is danksy Botes en sy span se harde werk dat die Rietbok se wrak na jare se soek in Augustus 2022 op ʼn diepte van 65 m in die see gevind is, nie ver van waar dit neergestort het nie.

Hy hoop dat die weer gaan saamspeel.

“Indien die weersomstandighede nie in April en Mei reg is nie, sal ons die herwinningspoging tot September moet uitstel.

“Ons hoofdoel vir April is om ordentlike opnames van die wrakvelde te doen deur van baie goeie 3D-toerusting gebruik te maak sodat ons presies kan bepaal wat waar lê, hoe groot dit is, en wat ons kan of nie kan herwin nie. Ons wil dus graag kyk of ons ordentlike foto’s kan kry van hoe die wrak op die seebodem versprei lê.

“ʼn Mens kan skaars jou hand voor jou sien op daardie diepte in die oseaan en ons sal spesifieke koördinate aan die duikers moet verskaf om van die wrakstukke uiteindelik te herwin.”

Die sigbaarheid op die seebodem en sterk seestrome is ons grootste uitdaging. (Foto: Verskaf)

Oor of die wrakstukke wel herwin sal word, sê Botes, “dit gaan en sal hierdie jaar gebeur, die presiese tyd hang egter alles af van die seestrome en weer”. Vlug 406 van Port Elizabeth na Johannesburg via Oos-Londen en Bloemfontein het laat die Maandagmiddag in slegte weer vertrek. Kapt. Lipawsky was in bevel met vier bemanningslede en 20 passasiers aan boord. Lipawsky het met meer brandstof as gewoonlik in die vliegtuig vertrek omdat hy besef het dat hy dalk weens die heersende ongunstige weersomstandighede nie in Oos-Londen sou kon land nie.

Die vliegtuig het later, omstreeks 19:15, naby Kayserstrand in die see gestort.

(Foto: Verskaf)

“Die oorsaak van die ongeluk was heel waarskynlik dat Lipawsky laer gevlieg het as wat hy gedink het. Weens die slegte weer was die lugdruk by seevlak laer as gewoonlik en dit het veroorsaak dat die vliegtuig se hoogtemeter, wat die hoogte deur barometriese druk bepaal, nie die korrekte lesing aangetoon het nie.”

Die soektog na oorlewendes was uiters uitdagend weens die swak weerstoestande en sigbaarheid.

“Die seestrome was sterk en die golwe hoog, wat die reddingsoperasie byna onmoontlik gemaak het. Ongelukkig was die poging vergeefs en almal aan boord het in die ongeluk omgekom.”

Botes sê dit is vir hom uiters belangrik om die wrakstukke te herwin omdat die families van die oorledenes nog nie afsluiting kon vind nie.

“Die families het niemand gehad om te begrawe nie en die kanse om menslike oorskot te kry is basies nul, maar as ons die wrakstukke kan herwin, kan ons op ʼn manier afsluiting vir die families van die 25 slagoffers bring.

Die passasiers en bemanning wat in die ongeluk dood is. (Foto: Verskaf)

“Ek wil graag hê die families moet weet ons sal nooit hierdie tragiese ongeluk vergeet nie. Ons sal dit elke jaar op die 13de Maart herdenk – ons sal elke jaar iets spesiaals doen om die slagoffers van dié vliegramp te onthou.”

Hy sê alhoewel daar bewerings was dat sekere individue die wrak in latere jare ontdek het, is geen openbare aankondiging ooit daaroor gemaak nie.

“Luidens die amptelike verslag destyds is die wrak nooit opgespoor nie en geen poging is deur owerhede aangewend om enige artefakte of wrakstukke te herwin nie.”

Botes het egter in 2019 met die hulp van moderne tegnologie begin om die legkaartstukkies een vir een bymekaar te sit. Hy het onder andere saam met die Universiteit van Port Elizabeth gewerk en ʼn span saamgestel om te help om die presiese ligging van die wrak te bepaal.

Wouter Botes (Foto: Verskaf)

Maroela Media gaan Botes en sy span in April vergesel waar hulle ʼn poging sal aanwend om dele van die vliegtuig te herwin.

“As ons die vliegtuig kan herwin en ʼn sekere stuk van die vliegtuig kan opspoor, sal ons die laaste stukkie van die legkaart bymekaar kan sit.”

Botes sê wanneer van die wrakstukke wel herwin word, sal dit na die museum in Oos-Londen geneem word om in spesiaal toegeruste chemiesebaddens behandel te word.

“Ons is ook reeds besig met onderhandelings dat van die wrakstukke in Gauteng en Oos-Londen uitgestal sal word sodat mense van die Kaap en van die noorde van die land dit sal kan sien.”

Botes sê die feit dat die Rietbok die enigste vliegtuig van SAL was wat nog ooit vermis geraak het, was die hoofrede waarom hy die soektog na die wrak van stapel gestuur het.

“Hierdie ongeluk het in ʼn tyd gebeur waar die tegnologie nog baie beperk was. Met die moderne tegnologie het ek geweet ek staan ʼn kans om die wrak uiteindelik te vind.”

Lang, uitgerekte proses

Botes sê dit was ʼn baie lang en uitgerekte proses om die presiese ligging van die wrak te bepaal.

“Ek het ongelooflik baie navorsing gedoen. Dit was uiters moeilik om te bepaal presies waar die wrak kon lê, veral weens die grootte van die oseaan en die rowwe seetoestande by Oos-Londen.

Hy het met die koördinate van die amptelike verslag begin, maar kon niks vind nie. “Ek het toe die vlug uit ʼn vlieënier se oogpunt gerekonstrueer en die legkaart het toe meer begin sin maak.”

Hy het later geheime dokumente na aanleiding van ʼn koerantberig ontvang van ʼn groot skip wat geologiese opnames gedoen het en toevallig op die wrak afgekom het sonder dat hulle dit besef het.

“Dit het ons vermoede oor waar die wrak lê, bevestig. Ek het daarna individue genader om spesifieke funksies te verrig om my te help met my poging om die wrak op te spoor. Ek moes byvoorbeeld ʼn boot en duikers inspan en ek moes borge kry om dit te finansier.”

Botes en die span wat hy saamgestel het, het kort daarna op die wrak – wat oor twee wrakvelde versprei lê – gevind.

“Daar was ander aanduidings ook, stukkies van die wrak het byvoorbeeld op Kayserstrand begin uitspoel, waarna ek later – met behulp van rekords wat die Universiteit van Port Elizabeth oor onder meer die sterkte van die seestrome saamgestel het –  kon bepaal waar die stukkies wat op die strand uitspoel, vandaan kom.”

Koerantberig net ná die ongeluk met die soek na alles wat uitspoel op die strand. (Foto: Verskaf)

Audrey Rosenthal. Een van die twee passasiers wat heelwat samesweringsteorieë ontketen het, omdat sy die ANC en PAC families van gevangenes ondersteun het, terwyl hulle familielede in die tronk was. Sy was ‘n Amerikaanse burger. (Foto: Verskaf)

Die inskrywing van die staatslykshuis van die menslike torso wat uitgespoel het. Dit was die enigste menslike oorskot wat volgens die amptelike verslag, ooit gevind is. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Madeleine ·

Die staar van daardie tyd was net so boos soos die staar van nou.

KB ·

Julle is soos ʼn spul kinders.
Stop die politiekery, dit het niks te make met die ramp nie.
Waardeer liewers die werk van Wouter Botes en die span, ondersteun waar julle kan…dit kan baie mense berusting bring.

Cassie Carstens ·

KB ek stem 100% saam. Mense met skeefgetrekte idees moet liewers stilbly. “n Toe mond is ‘n heel mond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.