Rietvlei-natuurreservaat renosterkalf ryker

Die renosterkalf wat onlangs in die Rietvlei-natuurreservaat gebore is (Foto: Executive Mayor of the City of Tshwane, Cllr Randall Williams, Facebook)

Die Stad Tshwane is verheug oor ’n renosterkalf wat onlangs in die Rietvlei-natuurreservaat buite Pretoria gebore is.

Randall Williams, burgemeester van Tshwane-metro, sê in ’n verklaring die kalf is Sondag vir die eerste keer by sy ma, die renosterkoei India, opgemerk. Daar word beraam dat die kalf ongeveer vier dae oud is.

“Die geslag van die kalf kan nog nie bepaal word nie, aangesien bewaringsamptenare die ma en kalf nie wil steur nie en genoeg tyd wil gee om ’n band te vorm,” sê Williams.

Die kalf sal eers ’n naam kry nadat die geslag bepaal is.

Dit is reeds die vierde kalf waaraan India in Rietvlei geboorte gegee het.

India is in 2011 van die Hluhluwe-wildreservaat in KwaZulu-Natal na Rietvlei oorgeplaas. Haar eerste kalfie is in 2014 gebore.

Die Rietvlei-natuurreservaat, wat meer as 4000 ha beslaan, is in 1929 gestig en het ’n oorvloed van wild. Dit word as een van die grootste stedelike natuurreservate in Suid-Afrika bestempel.

Dana Wannenburg, lid van die burgemeesterskomitee vir omgewings- en landboubestuur, sê die renosters teel tans goed aan omdat hulle in so ʼn goeie toestand is en goed versorg word.

“Die reservaat het bewaarders wat na die renosters omsien en mooi oppas,” sê Wannenburg.

Die reservaat spog met drie van die groot vyf. Die reservaat werk daaraan om sy leeubevolking te hervestig. Dit volg nadat talle leeus die afgelope paar jaar grusaam van kant gemaak is.

Vanweë die heersende Covid-19-beperkings is besoekersgetalle in die reservaat beperk, en mense word aangemoedig om hul besoeke vooraf te bespreek by die volgende e-posadres: [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.