Rietvlei-renosterkalf toe ʼn bulletjie

Renosterkalf Alpha saam met sy ma (Foto: Executive Mayor of the City of Tshwane, Cllr Randall Williams, Facebook)

Bewaringsamptenare kon eindelik bepaal dat die renosterkalf wat twee weke gelede in die Rietvlei-natuurreservaat buite Pretoria gebore is, manlik is. Die geslag kon nie dadelik na geboorte bepaal word nie omdat bewaringsamptenare hom en sy ma nie wou steur nie en hulle genoeg tyd wou gee om ’n band te vorm.

Randall Williams, burgemeester van die Tshwane-metro, het in ’n verklaring bevestig die kalf heet van nou af Alfa.

“Name word gewoonlik alfabeties toegeken. Alfa is die eerste renosterkalf wat sedert die laaste kalf, Zoeloe, gebore is,” sê Williams.

Alfa is tans nog onder sy ma, die renosterkoei India, se beskerming en sy hou hom nog weg van besoekers. “Soos ons die wintermaande ingaan, sal jong Alfa meer gewoond raak aan menslike kontak. Dit sal dan baie makliker vir die publiek wees om hom te sien wanneer hulle die reservaat besoek.”

Dit is reeds die vierde kalf waaraan India in Rietvlei geboorte geskenk het. India is in 2011 van die Hluhluwe-wildreservaat in KwaZulu-Natal na Rietvlei oorgeplaas. Haar eerste kalfie is in 2014 gebore.

Dana Wannenburg, lid van die burgemeesterskomitee vir omgewings- en landboubestuur, het vroeër aan Maroela Media gesê die renosters teel tans goed in die Rietvlei-natuurreservaat aan omdat hulle in so ʼn goeie toestand is en goed versorg word. Die reservaat het bewaarders wat na die renosters omsien en mooi oppas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pierre ·

Hoop nie hy gee hulle soveel drama soos die motor nie… ;-)

Pieter ·

Bly vir die aanwas. Maar moet dit aan die groot klok gehang word? Renosterstropers weet nou waar om renosterhoring te gaan haal, tenminste van die ma…

Roedolf Johannes ·

Versrei dit nog meer,maak dit nog makliker vd Stropers sodat hulle lekker kan boekhou.Maar dan ja dan kan daar weer oor n paar jaar n lekker storie geskryf word oor die uitroei van Renosters

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.