Rimpeleffek van alzheimersfliek lei tot opleiding vir talle versorgers

Rejane le Grange (middel) saam met haar lewensmaat, Rob Nichols, en haar ma. (Foto: Verskaf)

Die Vereniging vir Demensie en Alzheimersiekte van Suid-Afrika (Adasa) in Gauteng het ʼn finansiële hupstoot van R65 000 gekry danksy die rimpeleffek van die nuwe Russell Crowe-fliek, Sleeping Dogs.

Adasa is daarop gefokus om netwerke te bou en bewusmaking oor Alzheimer se siekte en demensie onder gemeenskappe kweek. Die organisasie funksioneer sonder staatshulp en bied gratis dienste aan alzheimers- of demensiepasiënte en hul geliefdes, hetsy deur konsultasies of opleiding.

Die skenking van R65 000 het uiteindelik altesaam 111 personeellede van verskeie Adasa-sorgdiensverskaffers geborg, wat nou opgelei is as alzheimers- en demensieversorgers. Die opleiding was aangebied aan personeel wat in informele behuising en staatsinstellings werk.

Die fondse het verder ook altesaam tien een-tot-een-gesinskonsultasies geborg vir gesinne wat nie die ondersteunende en terapeutiese dienste kan bekostig nie.

Rob en Rejane se huis in Melbourne. (Foto: Verskaf)

Tydens hierdie konsultasies word die gesin of eggenoot van die pasiënt betrek, en pasgemaakte aanbevelings word dan gemaak maak om ʼn “persoongesentreerde sorg”-benadering te ondersteun. Só word gesinne en eggenote bemagtig om beter na hul geliefdes wat met demensie of Alzheimer se siekte worstel, om te sien.

Dít volg nadat Rejane le Grange en haar lewensmaat, Rob Nichols, besluit het om die honorarium wat hulle deur die rolprentmakers van Sleeping Dogs ontvang het vir die gebruik van die vooraansig en voordeur van hulle geskiedkundige huis in Oos-Melbourne, Australië, vir dié organisasie te skenk.

Sleeping Dogs handel boonop toevallig oor dimensie.

Crowe vertolk die rol van ʼn afgetrede moordspeurder wat gedwing word om ʼn ou saak te heropen terwyl hy behandeling vir Alzheimer se siekte kry. Die fliek is geskoei op die Roemeense skrywer Eugen Chirovici se topverkoper-misdaadroman The Book of Mirrors.

Rejane, wat in Suid-Afrika gebore is en al meer as 20 jaar in Australië woon, het aan Maroela Media vertel dat dit “bloot toevallig” is dat die paartjie se woning vir dié rolprent uitgesoek is.

“Daar het letterlik een dag iemand aan ons deur kom klop en gesê hulle gaan hierdie internasionale rolprent met Russell Crowe in Melbourne verfilm, maar dit moet lyk asof dit in Chicago afspeel, so ons huis se buitekant sou perfek daarvoor werk,” verduidelik sy.

“Ons huis dateer uit 1882 en is op ʼn ikoniese plek geleë naby die Melbourne-krieketklub. Dis baie naby aan die stad, so daar is baie beweging in die omgewing, en die huis kan maklik raakgesien word.”

Daar is gevra of daar vir ʼn dag buite dié Victoriaanse huis in Mei verlede jaar geskiet kan word. In die rolprent word die buitekant van die huis as die vroulike hoofkarakter, vertolk deur Karen Gillian, se woning gesien.

“Ons het net gedink ‘hoekom nie’? Hulle het in die begin dat gesê daar sal dalk ʼn honorarium wees, maar het niks aan ons belowe nie. Ons was nie oor die geld gepla nie; ons het dit meer vir die pret gedoen.”

Daar is ʼn steelfoto van Russell Crowe deur die paartjie se slaapkamervenster geneem. (Foto: Verskaf)

Hoewel die paartjie nie met Crowe skouers geskuur het nie, is hulle volgens Rejane uiters vriendelik deur die produksiespan ontvang en is hulle toegelaat om die dag op die stel rond te stap. Sy skerts dat daar wel ʼn steelfoto van Crowe deur ʼn venster geneem is.

“Ek het in Karen [Gillian] vasgeloop toe ek iets in die huis moes kry, en sy was baie oulik. Daar’s instaan-akteurs wat gebruik word om die lig en alles te toets, so die hoofakteurs word dikwels eenkant gehou, maar mens kan dit heeltemal verstaan. Dis lang dae wat hulle skiet, en mens wil dan nou nie met elke Jan Rap en sy maat noodwendig geselsies aanknoop nie.”

Regisseur Adam Cooper het die paartjie persoonlik kom groet en bedank.

Welma Geldenhuys, senior maatskaplike werker by Adasa se Gauteng-tak, saam met nuut opgeleide versorgers. (Foto: Verskaf)

“Ek onthou hulle moes dit laat lyk asof dit ʼn koue dag in die toneel was terwyl dit kokend warm in Melbourne was. Hulle het ook gesê vyf minute se goeie beeldmateriaal in ʼn fliek ʼn hele dag se verfilming kan neem. Dis ongelooflik hoeveel moeite daar in rolprente gaan.”

Danksy ʼn geldelike bydrae aan die rolprent deur die staat van Victoria, waarin Melbourne geleë is, is daar later ʼn honorarium aan die paartjie toegeken. Dit was Rob se voorstel om die geld aan ʼn goeie doel in Rejane se geboorteland te skenk.

“Ons het met ʼn vorige besoek aan Suid-Afrika geld aan ʼn kinderhuis geskenk, en ek het besluit om ʼn skoolvriendin, Marlene Ehmke, te vra om vir ons te help om ʼn saak of organisasie te help vind aan wie hierdie geld kon gaan.”

Op Marlene se aanbeveling het Rejane ʼn jaar gelede kontak met Adasa gemaak. Nes Sleeping Dogs het sy as arbeidsterapeut én die dogter van ʼn alzheimerspasiënt ʼn sterk verbintenis met dié siektetoestand.

Rejane het jare se ondervinding in die versorging en ondersteuning van seniors en hulle gesinne, spesifiek mense wat met demensie leef. Sy het in 2004 ʼn toekenning van die Australiese regering ontvang vir haar werk as ʼn arbeidsterapeut en diensbestuurder van The Village in Inglewood, Perth, waar sy ʼn unieke versorgingsmodel daarvoor geïmplementeer het.

Rob en Rejane het verder gegaan en ander Australiërs gemotiveer om ruim skenkings by die honorarium te voeg om sodoende meer gesinsondersteuningsessies te borg vir diegene wat dit nie andersins sou kon bekostig nie.

Welma in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Marinda en Stefan Buys, ʼn Suid-Afrikaanse egpaar uit Londen, het ook volgens Rejane ʼn groot bydrae gemaak.

“Ons wou nie hierdie geld vir navorsing gee nie. Ons het gevoel daar kan meer bereik word om in opleiding te belê en pasiënte se lewens op hierdie wyse beter maak.

“Daar is ʼn gesegde wat lui: If you can’t cure, care’, en dit is veral van toepassing wanneer dit by hierdie tipe siekte kom. Ek is baie bly dat ons Adasa kon help. Hulle is baie verantwoordbaar en het deurlopend vir ons terugvoer gegee oor hoe die geld gebruik is.”

“Sonder hierdie bydraes deur Rejane-hulle sou die opleiding van versorgers, gesondheidswerkers en konsultasies met pasiënte en hul gesinne in verskillende gemeenskappe nie moontlik gewees het nie,” sê Welma Geldenhuys, senior maatskaplike werker by Adasa se Gauteng-tak.

“Dit het ʼn reuseverskil in soveel mense se lewens gemaak, en ons kan nie genoeg dankie daarvoor sê nie.”

Sleeping Dogs sal vanaf Vrydag 19 April in plaaslike fliekteaters te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.