Rina, Johan sterk tuis aan ná Covid-stryd

Rina Hugo en Johan van Rensburg.

“Ons het groot geskrik,” sê die sangeres Rina Hugo oor die koronavirus wat sy en haar man, die musikant Johan van Rensburg, vir weke lank beveg het.

“Ons is nou OK. Ons is deur ʼn tonnel, maar ons is anderkant uit en ons is só dankbaar daarvoor, want soveel mense is nie so gelukkig nie.”

Hugo sê aan Maroela Media dat dit nou beter gaan met albei van hulle, maar dat hulle nog effens sukkel met hulle longe.

Van Rensburg het langer as twee weke behandeling vir sy longe in die hospitaal ontvang en het ook ʼn geruime tyd in die waakeenheid deurgebring.

Hugo, wat ook in die hospitaal opgeneem is, en Van Rensburg is albei intussen ontslaan. Hugo sê Van Rensburg sukkel nog met erge rugpyn, wat voordat hy positief getoets het vir Covid-19 met ʼn groot operasie behandel sou word.

“Dit klink darem asof die dokters hom binnekort sal kan opereer, sodra die aantal Covid-gevalle daal en daar minder hospitaalgevalle is.”

Sy sê hulle word nog vinnig moeg, maar dat hulle nou weer op die been is. “Johan kan nie ver loop nie, maar hy loop genadiglik nog self hier in die huis rond. Hy sit en lê ook met redelike gemak. Hy gebruik sterk medikasie om die pyn te beheer.”

Hugo vertel dat hulle nou uiters versigtig vir die virus is en dat sy geleer het om hulle inkopies aanlyn te doen.

“Dit is vir my swaar, want ek hou daarvan om self te sien wat ek wil hê. Ons vermy dit egter nou sover ons kan om tussen mense te wees, want ek wil nie die kans vat om ooit weer in my lewe daardie siekte te hê nie.”

Sy en Van Rensburg het siek geword voordat hulle ingeënt kon word en word later vandeesmaand ingeënt.

Hulle musikant-seun, Riaan van Rensburg (43), het ook die siekte opgedoen, maar het aansienlik vinniger as sy ouers herstel, sê Hugo.

“Sy twee kinders en sy vrou het gelukkig ook nie aangesteek nie. Hy sê hy word nog vinnig moeg as hy met die kinders speel.”

Haar dogter, Anri, en haar gesin het ook tot dusver die virus vrygespring. “Almal bly vir eers tuis, want ek dink hulle het groot geskrik toe hulle sien hoe siek ons was. Hulle is ook maar almal baie versigtig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johannes ·

Wat van natuurlike immuniteit (antiliggame is gevorm deur immuunstelsel)
nadat persoon die siekte onderlede gehad het? Is dit dan regtig nodig om nog te vaksineer?

Annakapat ·

Ja, Johannes. My skoondogter het die virus in Augustus gehad, is reeds geent agv haar beroep en het weer die virus gekry maar met matige simptome.

Kathleen ·

Covid-19 is verseker nie vir sussies nie , ek het dit gehad en so ook van my familie en vriende , van ons het dit gemaak anderkant uit , maar van my vriende en familie-lid was nie so gelukkig nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.