Rio-spele: DA wys Saskok-uitnodiging van die hand

Argieffoto (theweek.com)

Argieffoto (theweek.com)

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) moet meer geld op atlete en die algehele ontwikkeling van sport spandeer as ʼn “partytjie vir politici en administrateurs”, het die Demokratiese Alliansie Sondag gesê.

Die DA het Saskok se uitnodiging aan die parlement se portefeuljekomitee oor sport en ontspanning om die Olimpiese Spele in 2016 in Rio de Janeiro by te woon vir “oorsigdoeleindes” van die hand gewys, het partywoordvoerder Solly Malatsi gesê.

Saskok se aanbod was vir die “voorsitter van die komitee en twee ander lede” as “gaste om Span Suid-Afrika te vergesel” in ʼn oorsigtelike posisie. Die Olimpiese Spele vind vanjaar tussen 5 en 14 Augustus in Rio plaas. Akkommodasie is ook by die uitnodiging ingesluit.

“As lede van die parlement is ons grondwetlik verplig om alle entiteite aanspreeklik te hou vir die gebruik van openbare fondse, veral wanneer dit eties problematies kan wees,” het Malatsi bygevoeg. “Enige politikus wat onnodige reise aanvaar van entiteite wat aanspreeklik is aan die onderskeie portefeuljekomitees, benadeel hul onafhanklikheid en stel hulself bloot aan botsende belange.”

Malatsi het gesê die party daag die ANC-hoofsweep Jackson Mthembu uit om ANC-lede van die portefeuljekomitee ook te ontmoedig om nie die integriteit en die onafhanklikheid van die komitee te benadeel nie en nie met die Rio-spele se partytjie voort te gaan nie.

“Ons vind dit ook ironies dat Saskok, wat gewoonlik hul misnoeë uitspreek oor die gebrek aan finansiering om ons atlete te ondersteun tot die mate wat die organisasie wil, op een of ander manier dit kan bekostig om drie LP’s na Rio te stuur,” het Malatsi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

My opinie ·

Die anc sal nie die uitnodiging van die hand wys nie. Dis mos ‘n verniet paartie op die belastingbetaler se geld

patrys ·

Woorde so uit my mond. Dis glad nie om waar te neem nie, maar net om verniet vakansie te hou en te paartie!!!

christine ·

Een van die dae het ons nie rede om daar te wees nie want die ANC ontmoedig sport. Gaan kyk maar in die Kaap al die nuwe skole het net sokkerbane GEEN rugbybane nie

Johann Marx ·

Jisms, dit moet moeilik wees om ‘n Minister in Suid Afrika te wees? As jy aandring op “transformasie” in sportspanne is die span te swak om enigsens internasionaal te kompeteer, en bly almal by die huis………..en as jy wil saam kerjakker op die belastingbetaler se onkoste na internasionale toernooie toe, is die enigste span wat jou daar kan kry ‘n span vol talentvolle witmense met potensiaal….Wat ‘n katarsis….

Manie ·

Baie goed DA. Dit is mos hoe leiding moet werk. Spandeer die geld waarvoor dit bedoel is en nie op vergrype Politici nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.