Riool help Maties om verspreiding van virus te keer

(Foto: pixabay)

Die Universiteit Stellenbosch (US) beplan om die uitbreking van Covid-19 op hul kampusse na te spoor deur afvalwater te toets. Hiervoor is ʼn waarnemingsplatform ontwikkel wat reeds by die US se Tygerbergkampus getoets is.

“Die projek is ʼn uitvloeisel van die instelling se verbintenis om alles binne sy vermoë te doen om die kampusgemeenskap te beskerm,” sê prof. Gideon Wolfaardt, direkteur van die US se waterinstituut.

Hoe dit werk

Kort ná die Covid-19-uitbreking het wetenskaplikes vasgestel dat genetiese materiaal van die virus uit die bestaande RNS-genoomfragmente bestaan. Dit beweeg later deur die spysverteringsisteem van geïnfekteerde mense en in hul feses in.

“Hierdie genoomfragmente dien as ’n molekulêre vingerafdruk van die oorspronklike virus, ongeag of ʼn geïnfekteerde mens simptome toon of asimptomaties is. ʼn Toename in virale RNS-vlakke in afvalwatersuiweringswerke verskaf ʼn waardevolle vroeë waarskuwing oor stygende getalle van infeksies en die gepaardgaande verwagte toename in plaaslike hospitalisasies,” sê dr. Edward Archer, navorsingsgenoot aan die US se departement mikrobiologie.

Archer werk sedert die begin van die pandemie saam met prof. Wolfgang Preiser, verbonde aan die US se mediese virologie-afdeling, en dr. Rabia Johnson, adjunkdirekteur van die MNR se Biomediese Navorsings- en Innovasieplatform (BRIP), om die metode op die US se Tygerberg-kampus te toets.

Die loodsprojek wat op dié kampus getoets is, het die navorsers in staat gestel om blokke, of selfs geboue waar geïnfekteerde mense werk of bly, te identifiseer.

Danksy die sukses van die aanvanklike projek gaan sekere studentekoshuise op die US se ander kampus ook só gemonitor word. Volgens Archer gaan die koshuise se rioolpype ʼn paar dae elke week getoets word om die verspreiding van die virus te bekamp.

“Ons hoop dat hierdie metode ook eendag as ʼn instrument gebruik kan word om die verspreiding van die siekte in gemeenskappe te evalueer.”

Bykomende gesondheidsmaatreël

Hierdie platform is in samewerking met navorsers van die Universiteit van Bath in Engeland ontwikkel, asook die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.

Archer sê die platform sal dien as ʼn bykomende maatreël om die koronavirus op die kampus te monitor.

“Dit is byna onmoontlik om siftingstoetse op elke student op gereelde, kort intervalle te doen en asimptomatiese infeksies kom meer voor onder jong mense. Dié metode sal ons in staat stel om vroegtydig moontlike brandpunte op die kampus op te spoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

OW ·

Nee die wêreld is nie mal nie.Jare gelede met die cholera uitbraak is rioolaanlegte al getoets vir Vibrio Cholera en rivierstrome wat invloei in jurisdiksie areas van munisipaliteite.Dit gee ‘n aanduiding van die voorkoms en verspreiding van spesifieke viusse en bakterië.

SomeOne ·

dit klink na ‘n goeie idee, nou moet julle in aanmerking neem, sekreet vat gemiddeld 30 uur voor dit gepasseer word, gaan julle iemand 24 uur per dag aanstel om monsters te neem, in 30 uur kan daar baie ander reeds aangesteek wees,
julle praat van ‘n paar dae per week se monster neming wat die aansteek tyd verhoog
ek vra maar net

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.