Riool in Barberspan hoop op

Baberspan (Foto: Ventures4Jesus, Twitter)

Daar heers groot kommer oor die afname in die aantal voëls en diversiteit by die Barberspan-voëlpark naby Delareyville in Noordwes weens besoedeling in die Hartsrivier.

Volgens ʼn verslag van Noordwes se parkeraad ná ʼn oorsigbesoek deur die portefeuljekomitee oor ekonomiese ontwikkeling, omgewing, bewaring en toerisme, is vier niewerkende rioolaanlegte in die omgewing die hoofoorsaak van onbehandelde rou riool wat in die veld, vleilande en die Hartsrivier by Barberspan vloei. Volgens die raad is dié besoedeling klaarblyklik al die afgelope tien jaar reeds ʼn groot probleem.

Volgens Jacqueline Theologo, die DA se woordvoerder vir ekonomiese ontwikkeling, omgewing, bewaring en toerisme in Noordwes, is wanbestuur en wanadministrasie van die munisipaliteit die hooffaktore wat tot die besoedeling lei.

Theologo sê dit is betreurenswaardig dat die munisipaliteit se versuim om hul rioolaanlegte in stand te hou nou ʼn bedreiging vir die ekologiese integriteit van die Barberspan-voëlpark en sy “Ramsar-status” inhou.

Die Barberspan-voëlpark, ook bekend as die Barberspan-reservaat, is in 1971 tot ʼn “Ramsar-terrein”, of “vleiland van internasionale belang” verklaar. As gevolg van die diversiteit en oorvloed van watervoëls, veral trekvoëls, wat in die pan voorkom, is dit ook ingesluit in die lys van internasionale vleilande onder die Ramsar-konvensie en as ʼn “internasionale belangrike voëlgebied” verklaar.

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake se nasionale Ramsar-bestuurskomite, het Barberspan gekies om ʼn projek deur spesiale omgewingsondersoekers van dié departement, die departement van minerale hulpbronne en energie en die departement van water en sanitasie  te loods. Met die projek wil dié betrokkenes die effek van rioolaanlegte en myne en hul impak op die Hartsrivier ondersoek.

Tydens die ondersoek is drie tenkwa-operateurs op heterdaad betrap toe hulle rou riool in die veld en die rivier uitgepomp het.

Theologo sê die DA hou Kenetswe Mosenogi, die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewing, bewaring en toerisme, persoonlik verantwoordelik vir die omvang van die skade wat aan hierdie erfenisgebied aangerig is en die blote feit dat hy dit vir tien jaar toegelaat het om te gebeur.

Die DA vra nou ’n volledige verslag oor die vordering van die ondersoek na die onwettige storting van rou riool deur die drie tenkwaens en dat ’n formele klag by die Groen Skerpioene gelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Diline

SO besoedel die kaders als wat voorkom omrede hulle NIKS in stand hou nie. Hulle voel ‘n veer vir die natuur OF die welstand van die landsbugers. AL wat hulle goed kan doen is KORRUPSIE

Nie Verbaas

Kla hom aan en sluit hom toe. Miskien leer ander hopeloses n les hieruit.

Renier johannes

Dis hoe hulle lewe vuil soos varke

Kokerboom

Dis tyd dat betrokke dorp se belastingbetalers ontslae raak van korrupte onbevoegde ANC kadergemors!!! Hoekom is hul so passief?
Ek ry al vir jare die N14 vanaf Namibia deur Upington na Pretoria en dis skrikwekkend hoe eens mooi dorpe, Vryburg, Delareyville, Sannieshof , Coligny en Ventersdorp totaal vernietig is.

JM

Wat die ANC die afgelope 28 jaar in hierdie eens vooruitstrewende land veroorsaak het, is onbeskryflik ontstellend! By wyse van spreke kan die ligte maar afgesit word, want wat het nog nie in ‘n gemors ontaard nie! En steeds ploeter die kaders voort met hul vingers in die koekieblik.