Riool kan ook vir Covid-19-toetsing gebruik word

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Dit is nie moontlik om die hele land se bevolking individueel vir die nuwe koronavirus deur middel van toetstoestelle te toets nie. Ook nie alle pasiënte toon noodwendig simptome van die virus nie. ’n Kenner aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) meen nou riool kan gebruik word om mense in groepe vir Covid-19 te toets.

“Wat aan wetenskaplikes bekend is, maar nog nie vir die publiek duidelik is nie, is dat die virus in menslike afval voorkom. Dit staan bekend as viral shedding en dit is ook nou bekend dat dit lei tot ’n naspeurbare teenwoordigheid in sowel urine as ontlasting tot voordat ’n pasiënt simptome toon en nadat die pasiënt behandel is,” het dr. Anthony Turton van die sentrum vir omgewingsbestuur aan die UV Dinsdag in ’n verklaring gesê.

Turton het daarop gewys dat daar 824 afvalwaterbehandelingswerke in Suid-Afrika is wat verskillende gebiede of voorstede se riool opvang.

“Deur rioolmonsters volgens ’n duidelik omskrewe protokol te neem, is dit nou tegnies moontlik om die virale lading van die hele bevolking in die opvangsgebied van daardie spesifieke rioolwerk te bepaal. Hierdie gegewens kan weekliks vergelyk word en daaruit kan bepaal word of die totale virale lading toeneem of afneem,” het Turton gesê.

Hy verduidelik dat dit moontlik is om klein elemente van die virus wat in menslike afval voorkom, in riool op te spoor.

Volgens Turton word monsters by die inlaat van afvalwaterwerke geneem waar rou riool gemeng word. Monsters kan dus op spesifieke pypleidings wat van verskillende buurte afkomstig is, geneem word om meer noukeurige data te bekom.

Turton verduidelik dat dus nie moontlik is om persone individueel te toets vir Covid-19 deur middel van riool nie, maar dat dié manier van toets wel ’n prentjie kan help skets oor die totale virale lading wat op ’n bepaalde tydstip by ’n bepaalde groep mense voorkom.

“Dit is ’n maklike manier om data in te samel oor die tempo van verandering en spesifieke episentrums van verandering of waarskynlike brandpunte.”

Volgens Turton word die manier van toets tans in Nederland gebruik en word dit nou in ander ontwikkelde lande geïmplementeer.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Skep sommer glas water uit die Vaal dan toets hulle miljoene op een slag .

Boortor ·

Gaan nie hier werk nie. Ons is nie n ontwikkelde land nie.

Fedup ·

So? They are that brave to play with sewerage?
My dear little soul.

Nico ·

Kom kyk hoe dit lyk in Standerton met die riool water wat die strate vol loop, riool loop in die Vaalrivier en dit is waar dit bly, daar is nie fondse om onderdele vir pompe te koop nie, Standerton sit ook met pyp stelsel wat lankal moes vervang word. Die ry mos duur voertuie, hou duur partytjies. betaal buitensporige bedrae vir vir tente by begrafnise en dies meer. Die geskooldes met grade word af gesit en die verkeerdes word aangestel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.