Riooldepot-span red twee maande oue baba uit huisbrand

(Foto: Van links, Quinton Sakala, Claudia Josias, Ismail Boer, Gideon Tyman, Faeeza Malherbe, Verona Joseph, Naziem de Jager en Lee-Roy Sheldon)

ʼn Span van die Stad Kaapstad se riooldepot in Pinelands, verbonde aan die departement van water en sanitasie, het hulle op presies die regte oomblik op die regte plek bevind toe ʼn brand by ʼn dubbelverdiepingwoning in Heideveld uitgebreek het.

ʼn Twee maande oue baba was in ʼn slaapkamer op die boonste vloer vasgekeer en is deur die dapper spanlede uit die vlamme gered.

Zahid Badroodien, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê die span het verlede Maandag toevallig op die brand afgekom terwyl hulle op pad was om ʼn rioolprobleem in Athlone te gaan ondersoek.

“Hulle was op Klipfonteinweg toe hulle skielik ʼn huis in vlamme gesien het.

“Die spanlede het dadelik besluit om in te spring en hand by te sit. Van die spanlede het die ouers en hul drie jong kinders uit die huis na veiligheid gehelp en hulle weg van gevaar gehou, terwyl twee van die ander spanlede heldhaftig op die dak van die motorhuis geklim en deur ʼn venster gebreek het om ʼn twee maande oue baba te red wat in ʼn slaapkamer op die boonste verdieping vasgekeer was.

“Daarna het die span die brandende huis met nie-drinkbare water in hul voertuig geblus. Die water, wat nie drinkbaar is nie, word normaalweg gebruik om rioolblokkades mee te verwyder,” sê Badroodien.

(Foto: Pinelands se riooldepot-span het Maandag heldhaftig tot die redding van ʼn gesin gekom wie se huis reeds in vlamme was. Van links (voor): Ismail Boer; Quinton Sakala; Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie; Claudia Josias; Gideon Tyman; Faeeza Malherbe; Verona Joseph; Naziem de Jager en Lee-Roy Sheldon. Van links (agter): Isaac Claassen; Simphiwe Dube en Bradley Biko)

By die aankoms van die amptelike brand-en-reddingsdienste op die toneel was die brand reeds geblus en Lee-Roy Sheldon, Gideon Tyman, Naziem de Jager, Verona Joseph, Ismail Boer, Quinton Sakala, Faeeza Malherbe en Claudia Josias is as die helde van die dag geloof.

Badroodien sê hy het die span ontmoet om hulle “vir hul uitstaande diens, deernis en flinke denke te bedank en te eer”.

“Die heldhaftigheid wat hierdie span getoon het, wys hoe amptenare elke dag saamwerk om Kaapstad werklik ʼn stad van hoop te maak.

(Foto: Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, bedank die span vir hul dapperheid)

“Hulle het ons stad se waardes met waagmoed uitgeleef en alles opsy gesit om op die noodsituasie te reageer. Die opregtheid en sorg vir die welstand van die gesin in hul oomblik van nood is prysenswaardig,” sê Badroodien.

“Ná die voorval het die amptenare dit selfs ʼn stap verder geneem en – in hul persoonlike hoedanigheid – basiese noodsaaklikhede aan die gesin geskenk om hulle te help om hul lewe te herbou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Cindy ·

Ek hoop hierdie hele span word beloon met ‘n verhoging. Wel gedaan.

Laeveld ·

Met die tipe van storie voel dit asof daar tog hoop is vir Suid-Afrika.

Oom Charles ·

Medemenslikheid, betrokkenheid, onbaatsugtigheid. Trotseer die rook en vlamme en skenk boonop middele uit eie fondse. Julle is my helde.

Ella ·

Well done! Hoop elkeen word beloon met ‘n toekenning en ‘n geldjie daarby.

Zilla ·

Ek kry sommer ‘n snik in my keel toe ek die berig lees. Ons het soveel ongelooflike mense in SA.

Waarnemer ·

Hierdie span behoort die “Wolraad Woltemade” medalje en prys vir dapperheid te kry….dit is nou te se as iemand in die huidige regering ooit weet wat behelds die “Wolraad Woltemade” toekenning.

Bolandse Nooi ·

Dié manne en vroue verdien almal ‘n “krismis” bonus en medalje vir hul dapperheid, waaksaamheid en bereidwilligheid om in te spring en te help! BRAVO, manne en vroue van dié span van die Stad Kaapstad se riooldepot in Pinelands!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.