‘Rioolramp’ tref Rustenburg

(Foto: Verskaf)

“Dis ’n rioolramp.”

Só beskryf inwoners van Rustenburg in Noordwes die rioolwater wat reeds ’n maand lank deur Arendsweg loop en selfs al by woonkomplekse begin invloei.

Benewens die reuk van riool wat inwoners onderkry, vrees inwoners dat hulle ernstig siek kan word. Hulle geduld raak ook op met die munisipaliteit wat skynbaar geen haas het om die probleem op te los nie.

Die oorsaak van die mees onlangse rioolstorting is een van vier beskadigde rioolpype wat nou al maande lank nie in die stad reggemaak word nie. Die pype, waarvan een nou sedert 2018 stukkend is, is op verskeie plekke in en om die stad geleë.

“Ek raak naar van die stank van rioolwater wat net buite my kantoorvenster in die straat lê,” vertel Chantél Niehaus, opsigter van die Santa Monica-kompleks in Arendsweg.

“Dit is ’n groot bekommernis dat die water ook verby ’n aftreeoord in die straat stroom. Dit stel die oumensies se gesondheid in gevaar.”

Volgens Gert du Plessis, ’n DA-raadslid in wyk 14, het rioolwater reeds in die Arendskloof-kompleks gestroom, wat tot die vrektes van talle voëls en visse gelei het. Die rioolwater loop in die damme en die rivier in die kompleks in.

“Luidens onbevestigde gerugte het mense in die kompleks hulle vir cholera laat toets weens die rioolwater,” sê Du Plessis.

Niehaus het aan Maroela Media vertel dat van die inwoners reeds maagderm-simptome begin toon het.

Du Plessis verduidelik die rioolramp het op 1 Februarie begin toe swaar reën veroorsaak het dat ’n mangat beskadig is, nadat ’n sinkgat in die straat buite die Santa Monica-kompleks ingeval en ’n boom omgeval het.

“Met die herstelwerk aan die mangat is ’n rioolpyp in die proses beskadig. Dié tussen 50 en 100 meter lange pyp – sowat vier meter onder die grond – moet nou vervang word,” verduidelik Du Plessis.

“Die munisipaliteit het nie begroot om die pyp te vervang nie en moet ’n private kontrakteur kry om die pyp te herstel. Spesiale toestemming moet nou verkry word om van die begroting af te wyk en dis hierdie proses wat sloer en sodoende die herstelproses vertraag.”

Lede van die publiek en raadslede van die munisipaliteit versoek diegene wat verantwoordelik is vir die goedkeuring van ’n private kontrakteur om werk daarvan te maak. Dit sluit in die waarnemende munisipale en finansiële bestuurder asook die voorsieningskettingbestuurder.

“Die munisipale bestuurder het egter pas in sy amp begin en die finansiële bestuurder was onlangs in die hospitaal,” sê Du Plessis.

Maroela Media het navraag oor die aangeleentheid aan die munisipaliteit gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Johann ·

Voorbeeld van wat vir ons almal voorlê. Algemene verval van alle dienste.

domheks ·

Hoop die Parlementslede kom kuier ‘n bietjie in Rustenburg. Algehele verval oral!

JohanR ·

‘n Riool ramp het SA al in 1994 getref! Ramp se naam is ANC.

Cherokee ·

Mieke..! Dit kos geld om reg te maak en geld groei nie op mense se rue nie!

Elize ·

Stem nie met jou saam nie. Wat word van al die geld wat die inwoners betaal aan die munisipaliteit. Dit sluit grondbelasting in. Hulle voel ‘n veer want so lyk dit in hulle gebiede

Cherokee ·

Ek sou verbaas (en teleurgesteld) gewees het as jy met my saamgestem het. En so effe verbaas oor die gedetailleerde verduideliking, maar dankie, nou verstaan ek ook:-)

Jr ·

Trump het gesê en was as rassis uitgekryt, nie as realis dat afrika ” is the sh***’hole of the world”

Cherokee ·

Jr, wat nou? Ek is ‘n Trump-aanhanger en dink hy is ‘n goeie wêreldleier. Ek let iets anders op wat my laat wonder hoe reg my opinie is want my mening word ook gedeel deur die Russe en Sjinese.

Eugene ·

Anderkleuriges is gewoond om so te lewe. Dankie ramp-phosa. Stank vir dank

annie ·

Meer plekke se name sal moet begin verander. Rustenburg pas beslis nie meer nie. En wat van die straatname. Ons was voorheen kwaai gebelg oor sinlose veranderinge, maar dit begin noodsaaklik lyk. Doen dit in goeie Ingels. Toeriste en parlementslede verstaan mos nie Afrikaans nie. Maak dit ‘n saak van beginsel by die volgende sitting van die hogeres onder die huidige week se draer van die goue ketting.

Renee ·

Wanner kry ons n’ minister van sanitasie en water aangesien hulle reesd beplan vir n’ minister van krag

Republikein in die Wes Kaap ·

Moenie worry nie. Dit sal mos vanself regkom.

Erika ·

Laat ek nou maar my kommentaar uit gil! REDE HIERVOOR IS, OMDAT DAAR NIE MEER INSTANDHOUDING PLAASVIND NIE! Oral is alles om mens vervalle. My beskeie opinie is, laat alles nou maar ten gronde gaan, elke liewe ding, waarna ons mense dit maar net weer moet opbou. Ons almal se harte bloei vir wat als in die eens mooi SA oral om ons aan die gebeur is.

Chris ·

Dit laat mens net met meer waardering kry vir wat vorige geslagte kon vermag deur infrastruktuur daar te stel – dit is jammer dat die huidige generasie nie eens die stelsels kan instand hou nie, wat nog van dit verder ontwikkel.

kragaap ·

Die mense in Europa het in die middeleeue al agtergekom hoe verder die mens van sy eie riool af bly hoe gesonder is die die omgewing en samelewing. Wat het verkeerd gegaan hier ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.