Rioolstorting in Oranjerivier gestaak

Riool word uit die mangate gepomp. Foto: AfriForum

Riool word uit die mangate gepomp. Foto: AfriForum

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Saterdag die Joe Gqabi Distriksmunisipaliteit geloof nadat die munisipaliteit stappe gedoen het om die storting van rou riool in die Oranjerivier te staak.

Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Oos-Kaap, het gesê rou riool uit ʼn mangat in Aliwal-Noord vloei al vir langer as ʼn jaar direk in die Oranjerivier. Van Dalen het verskeie gesprekke met amptenare van die Maletswai Plaaslike Munisipaliteit en die Joe Gqabi Distriksmunisipaliteit gevoer in ʼn poging om die besoedeling te stop.

Fiona Sephton, direkteur van kommunikasiedienste by die Joe Gqabi Distriksmunisipaliteit, wat ook tans as munisipale bestuurder waarneem, was dadelik gewillig om ʼn onmiddellike oplossing vir die probleem te vind, het Van Dalen gesê.

“Sephton het [Donderdagmiddag] bevestig dat ʼn gekontrakteerde riooltrok weer voltyds besig is om riool te pomp. ʼn Kontrak wat van 17 Desember 2015 tot 17 Januarie 2016 geldig is, is aan ʼn maatskappy toegeken om riool uit die mangate te pomp. Die betrokke partye is tans in gesprek om die kontrak te verleng,” het Van Dalen gesê. “Volgens Sephton skep die rioolpyplyn in Aliwal-Noord al vir ʼn geruime tyd ʼn probleem, omdat dit baie oud is en lekplekke en blokkasies dus gereeld voorkom. ʼn Hoëdrukspuit word deur die munisipaliteit ingespan om die pypleiding oop te spuit.”

Konstruksie aan die nuwe pompstasie is onderweg. Foto: AfriForum

Konstruksie aan die nuwe pompstasie is onderweg. Foto: AfriForum

Volgens Van Dalen is bouwerk reeds aan die gang om ʼn nuwe pompstasie op te rig en die foutiewe pyplyn te herstel. Dit sal na verwagting teen 31 Maart vanjaar afgehandel wees.

“Sephton het verduidelik dat die kontrakteur wat vir die rioolpompwerk verantwoordelik is, nagelaat het om die pyp uit die mangat te verwyder. Sy het gesê dit het die munisipaliteit onkant betrap toe water weer skielik in die stelsel begin vloei het nadat die Oranjerivier, wat opgedroog het, weer begin loop het en die mangate dus weer oorgeloop het,” het hy gesê.

“Munisipale gesondheidsdienste monitor die mangate op daagliks, aangesien hulle besef dat dit ʼn ernstige gesondheidsgevaar vir mens en dier inhou. Selfs nadat ʼn permanente oplossing vir die probleem gevind is, sal die mangate steeds vir drie maande gemonitor word.”

Van Dalen het Sephton geloof vir haar bereidwilligheid om saam met AfriForum te werk om ʼn permanente oplossing vir die probleem te vind. “Ek vind dit verblydend om nog ʼn amptenaar in ʼn munisipaliteit raak te loop wat steeds ʼn passie vir haar werk het en werklik die belange van die inwoners op die hart dra,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

DPJ ·

Dit is een ding om beloftes te maak en almal aan vaar dit en ‘n ander om dit pemanent op te los.

Piet ·

Dit beteken Orania gebruik al vir n jaar ecoli besoedelde water?!!
Ons mense word verswelg deur die manier van die watmoetekhulnoem!

Broer Jack ·

Jà Piet, ek sien hierdie watmoetmenshulnoems is besig om ons ondergang te word op alle maniere wat saak maak, maar ons mense dink alles is nog hunkiedorie.

Johann Marx ·

Munispale amptenaar wat nog passievol is…..hahahaha….wat jy waar kry? Dis “verkiesing” binnekort, en as jy nie nou jou gat in rat kry en jou job doen nie, is jy jou pos kwyt, jou inkomste kwyt, jou pensioen kwyt, jou bonus kwyt…..Jy kan nou uit amper enige munisipale amptenaar enige iets kry….en hulle glimlag en is vriendelik en doen dit dadelik. Wag maar tot na die verkiesing……..dan gaan jy wag tot twee maande voor die volgend verkiesing vir hulle om te presteer.

Pieter.v ·

Hier kan jy sien dat iets daadwerklik gedoen word die nuwe pompstasie is alreeds in aanbou en dit word beam deur Afriforum as daar iets positiefs gedoen word om die problem op te los laat ons dankbaar wees en erkenning gee want dit gebeur nie aldag in die nuwe SA,

Lynette ·

Ek is van Aliwal-Noord. Fiona is fantasties, sy het ons nie een keer met die water krisis of daarna in die steek gelaat nie. Sy is definitief nie maar net nog ‘n munisipale amptenaar nie.

Vicus ·

Ek is van Aliwal noord en ja ons is baie dank teenoor Afriforum verskuldig. Feit van die saak is egter dat hulle al baie lank hiervan weet maar net n blinde oog gedraai het.Toe die moontlikheid groot raak dat dit in die koerant gepubliseer kanxword toe kanzsy skielik reageer. Alles oeverblindery!

Lenie ·

Dankie Afriforum vir al jul harde werk, in elke opsig is jul n ware mense organisasie. Jul kry soveel reg en dit is bloot oor jul so hard werk. BAIE BAIE DANKIE..

Elfie ·

Dit vat toe ‘n vrou om die ding dadelik aan te spreek… LOL

Nics ·

Verkiesings foefie of te nie, dankie AFriforum en dankie aan Me Sephton wat die probleem aangespreek het. Ten minste is iets nou gedoen! Wees tog BIETJIE positief mense en gee erkenning waar dit verdien word, alla wêreld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.