Risiko vir oorstromings ná versengende hitte

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Nadat Suid-Afrikaners die afgelope paar weke ʼn versengende hittegolf moes verduur, word swaar reën in die oostelike dele van die land vir die volgende paar dae voorspel.

Hannelee Doubell, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê hoewel dit welkome nuus vir baie mense en veral boere is, kan die aanhoudende swaar reën aansienlike ontwrigting in sommige provinsies veroorsaak.

“Die weer sal hierdie naweek nog betreklik matig wees, met net ʼn klein kans op donderstorms Vrydag en Saterdag oor sommige van die oostelike provinsies. Nie die Wes-Kaap of die Oos-Kaap sal direk deur dié weerstelsel geraak word nie.”

Doubell sê weerstoestande sal egter teen Sondag begin versleg.

ʼn Afsnylaagdrukstelsel oor die noordelike dele van die Noord-Kaap gaan wydverspreide buie en donderbuie veroorsaak. “Namate tropiese lug suidwaarts oor Botswana en Suid-Afrika beweeg, sal toestande geleidelik gedeeltelik bewolk tot bewolk word.”

Reën sal Sondag deur die loop van die dag oor talle provinsies uitsak; dit sluit in Noordwes, die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en in ʼn mindere mate KwaZulu-Natal.

“Swaar reënval sal waarskynlik oor groot dele van die bogenoemde provinsies voorkom, wat die risiko van oorstromings sowel as rivieroorstromings verhoog.”

Die weerstelsel sal na verwagting tot Maandag voortduur. Grond gaan na verwagting vinnig versadig raak en tot oormatige afloop in strome en riviere lei.

“Alhoewel hierdie verskynsel uiteindelik tot verhoogde damvlakke sal lei, sal die risiko van rivieroorstromings en gepaardgaande padsluitings, sowel as algemene verkeersontwrigting besonder hoog bly.”

Numeriese weervoorspellingsmodelle dui tans daarop dat die reënval teen Dinsdag sal begin opklaar.

“Die publiek word versoek om gereelde weeropdaterings en waarskuwings wat deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik word, dop te hou.

“Rampbestuurpraktisyns word ook aangeraai om gedurende hierdie tydperk ʼn hoë vlak van waaksaamheid te handhaaf, sou riviervloede ʼn veiligheid- en gesondheidsrisiko vir die algemene publiek inhou.

“Motoriste en voetgangers word versoek om onder geen omstandighede riviere of strome wat reeds oorstroom is, te probeer oorsteek nie,” sê Doubell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sean ·

Hierdie selfde spul het gister gesê 90% kans vir reen in Randfontein Woensdag Ons wag nou nog Al Vrydag

KB ·

Klink my die SA Weerdiens behoort ook aan politici – hulle belowe en NIKS gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.