Risiko’s weens inenting kleiner as daarsonder

(Foto: Jean-Christophe Verhaegen/AFP)

“Enigiemand wat nog bekommerd is daaroor om die entstof teen Covid-19 te ontvang, moet daarvan bewus wees dat die risiko’s wat gepaardgaan met die besluit om nié ingeënt te word nie, veel swaarder weeg as enige ander bekommernis oor die entstof.”

Só sê dr. Jacques Snyman, ’n kenner in kliniese risikobestuur en mediese raadgewer vir die Health Squared- mediese fonds.

In ’n poging om die gevare daarvan om nié ingeënt te word nie, uit te wys, sê Snyman in ’n verklaring  dat jou kans om weens Covid-19 in Suid-Afrika te sterf veel groter is as om deur weerlig getref te word.

Hy sê voorts die land se oortollige sterftes sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie dui daarop dat tot een uit elke vier sterftes direk of indirek aan die pandemie toegeskryf kan word.

“Hierdie getalle illustreer die statisties beduidende gevare om nie ingeënt te word nie. Moenie met jou lewe dobbel nie. Oorweldigende bewyse toon dat entstowwe die kliniese risiko aansienlik verminder en die beste beskerming teen Covid-19 bied,” pleit Snyman.

Hy wys ook daarop dat die entstof teen Covid-19 nie noodwendig verhoed dat ’n mens Covid-19 opdoen nie, maar wel sy of haar kans op hospitaalopname en sterfte verminder.

“Dit is baie belangrik om te onthou dat almal Covid-19 kan oordra, ongeag of hulle ingeënt is of nie.”

Só werk entstof teen Covid-19

Snyman sê voorts die entstof teen Covid-19 bevat nie die lewende koronavirus nie en ’n pasiënt kan dus nie deur die entstof met Covid-19 besmet word nie.

“Na gelang van die entstofvervaardiger, is daar ’n klein fragment proteïen of RNA in die entstof wat jou liggaam leer hoe om weerstand teen Covid-19 te identifiseer en op te bou, sodat jou immuunstelsel gereed is om infeksie voortaan te herken en te beveg.”

Wanneer ’n ingeënte persoon die werklike koronavirus teëkom, sal sy of haar liggaam ’n “aanpassende immuunreaksie” voortbring.

“As deel van hierdie reaksie herken die spesiale ‘geheue’-selle van die immuunstelsel die virus as ’n bedreiging en aktiveer dit ander selle om die virus direk aan te val of om teenliggaampies af te skei om die virus te neutraliseer.

“Die liggaam leer om weerstand teen die teenwoordige antigene, of vreemde stowwe van die patogeen, in die entstof te identifiseer en op te bou, sodat die immuunstelsel voortaan gereed is om infeksie wat met die antigeen verband hou, te herken en af ​​te weer.”

Snyman meen dis heeltemal normaal vir ’n pasiënt om siekerig te voel of ligte newe-effekte te ervaar nadat hy of sy die entstof ontvang het.

Hy wys daarop dat entstowwe, ongeag die soort, die immuunstelsel stimuleer om ’n vreemde patogeen soos ’n virus te herken. Dié reaksie het die vrystelling van sogenaamde selbemiddelaars tot gevolg wat verantwoordelik is vir die griepagtige simptome of teerheid rondom die inspuitplek wat sommige pasiënte ná ’n entstoftoediening ervaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.