Ritueelmoord: Borgtogaansoek afgekeur

Edward Raatji in die Mokerong-landdroshof op 20 Julie 2016 (Foto: ANA)

Edward Raatji in die Mokerong-landdroshof op 20 Julie 2016 (Foto: ANA)

ʼn Man van Limpopo, wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn vrou vir haar liggaamsdele vermoor het, se aansoek om borgtog is Vrydag in die Mokerong-landdroshof in Limpopo afgekeur.

Edward Raatji (50), ʼn voormalige onderwyser en ʼn tweedejaar regstudent aan die Universiteit van Venda, het sy mediese toestand, sy kinders en sy ouerskap voorgehou as redes waarom hy op borgtog vrygelaat moet word.

Hy is verlede maand by ʼn taxistaanplek in Polokwane (Pietersburg) in hegtenis geneem nadat hy ʼn vrou se kop en geslagsdele in sy besit gehad het. Volgens die staat het Raatji en sy medebeskuldigde, Stanley Mohlake (28), die onbekende vrou vermoor met die doel om haar kop en geslagsdele te verkoop. Die polisie is oor die ongewone transaksie in kennis gestel en hulle het ondersoek ingestel waarna die twee mans in hegtenis geneem is.

Tydens die inhegtenisneming het die polisie beslag gelê op ʼn kop, skedel en manlike geslagsorgane wat in ʼn koerant toegedraai is.

Die verdagtes het ʼn dag later die polisie na ʼn toneel in Mapela naby Mokopane (Potgietersrus) gelei waar ʼn verkoolde liggaam gevind is.

Raatji het tydens sy borgtogaansoek aan die hof gesê hy wil vrygelaat word sodat hy vir sy gesin kan sorg en met sy mediese behandeling kan voortgaan. Hy het egter versuim om enige bewyse in te dien wat staaf dat hy ʼn mediese toestand onder lede het.

Die staat voer aan hy het ʼn baie sterk saak teen Raatji en Mohlake. Die staat het aangevoer indien hy vrygelaat word, kan sy veiligheid ook nie gewaarborg word nie en dit is in die belang van geregtigheid dat hy in ʼn veilige omgewing tereg staan op die aanklagte.

Raatji se huis is afgebrand en verwoes deur ontstoke inwoners van Mapela. Raatji het aangevoer as hy vrygelaat word, sal hy skuiling hê in ʼn huis in Gauteng of by die Universiteit van Venda.

Landdros Charity Kekana het gesê dit is nie in die belang van geregtigheid dat Raatji vrygelaat word op borgtog nie, weens dreigemente en sy versuim om sy mediese toestand te bevestig.

Nadat sy aansoek afgekeur is, het Raatji stadig na sy sel toe teruggestap. Hy het deur gebaretaal met sy familie gepraat. Hulle het in die hof agtergebly, aangesien Raatji later weer in die hof moes verskyn op aanklag van huishoudelike geweld. Hy het glo ʼn beskermingsbevel, wat sy vrou teen hom bekom het, verontagsaam.

Die saak is tot 21 Oktober uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor die Limpopo-ritueelmoord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

KarooKlong ·

Lees ek te vinnig?
Hy het ‘n vrou vir haar liggaamsdele vermoor maar tydens inhegtenisneming lê die Polisie beslag op ‘n kop, skedel en manlike geslagsdele.
Is kop en skedel nie in beginsel dieselfde liggaamsdeel nie?

Ander Koos ·

Verstaan ook nie. Vrou is vermoor en blykbaar haar kop, maar manlike geslagdele is saam gevind Hoe rym dit? Waar is die man se lyk? Klink eerder of hy toordokter kan wees as onderwyser of aspirant regsgeleerde, maar een ding is seker, hy is ‘n gevaar vir die samelewing

Die Kryger ·

Absoluut Skokkend. Here U sal hierdie gruweldade nie ongestraf laat verby gaan. Hoe lank nog Here voor U Wegraping plaasvind kom Here kom gou

Pastoor ·

Tragies ongelooflik. Skokkend afgryslik. Sulke gruweldade sal verseker nie ongestraf gelaat word nie. Dit is sidderend. Kan nie dink dat daar sulke dinge plaasvind nie ai

S ·

Hou hom in die tronk en van die samelewing af – hy is n groot gevaar vir ane mense. Kan nie glo dat SAP en hof hom nog moet beskerm nie … hy het tuen teen een n vrou vermoor wat se kinders nkg klein is of wat na hul Ma soek. En om n mens te vermoor en jou liggaamsdele te wil verkoop …ag nee man. En sy storie is net so siek soos hy … moord is moord!! Hy moes van beter geweet het, n man van 50 wat n voormalige onderwyser was en nou n 2de jaar regsstudent!!

Weerligstraal ·

Verdomde weerligstraal, ewe skielik wil hy n eerbare ouer wees, sy kinders is beter af sonder hom, dan kom die huishoudelike geweld ook nog op, verpesting mag n regte weerligstraal jou tref! Jy vreet nou nog belastinggeld ook!

Nita ·

Wel,wel,wel! Met onderwysers en wetsgeleerdes soos hierdie, hoe kan ons verloor?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.