Riviergids verdrink by Stormsrivier

Stormsrivier (Foto: Verskaf deur die NSRI)

Die liggaam van ʼn riviergids is uit die Stormsrivier in die Tsitsikamma-streek aan die Tuinroete in die Oos-Kaap gehaal ná hy vermoedelik tydens ʼn vaart op die rivier verdrink het.

Hy was saam met nog ʼn gids en verskeie gaste toe die voorval plaasgevind het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.

NSRI Oesterbaai het Sondagoggend vanaf die eerste lig die Suid-Afrikaanse Polisiediens, ʼn duikeenheid van die polisie en SANParke-bewaarders saamgewerk om die liggaam van die 31-jarige man uit die rivier te haal.

Lodewyk van Rensburg, stasiebevelvoerder van NSRI Oesterbaai, het gesê NSRI Plettenbergbaai het Saterdagaand vroeg saam met polisiebeamptes reageer toe nege persone, twee riviergidse en sewe gaste, nie op die verwagte tyd teruggekeer het van ʼn vaart op die Stormsrivier nie. Hulle het met roeibote gaan vaar.

“Met hul aankoms by die toneel het agt van die nege persone aangekom. Hulle het egter gesê een van die riviergidse het stroomop in die water geval. Die groep het hom uit die water gehaal en ‘vir ʼn geruime tyd’ KPR gedoen, maar die man het nie weer bygekom nie,” het Van Rensburg gesê.

ʼn Plan is van stapel gestuur om die liggaam van die man Sondagoggend vroeg te gaan haal. “Die liggaam van die man is aan beamptes van die forensiese patologiediens van die Oos-Kaapse departement van gesondheid oorgegee. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.”

Van Rensburg het sy meegevoel met familie en vriende van die oorlede man betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.