RKK vra ‘dieper denke’ oor grondhervorming  

Argieffoto (Foto: sspiehs3/Pixabay)

Die Rooms-Katolieke Kerk (RKK) het ʼn beroep gedoen op meer denke en minder slagspreuke in die debat oor onteiening sonder vergoeding.

In sy mondelinge voorlegging voor die parlementêre ad hoc-komitee oor die wysiging van artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik, het die RKK by monde van sy parlementêre amptenaar, Mike Pothier, gesê dié kerk sal hom nie in beginsel vir of teen onteiening sonder vergoeding uitspreek nie, want soms sal onteiening sonder vergoeding geregverdig wees en soms nie – dit hang af van die omstandighede.

Pothier het gesê sowel voorstanders as opponente van onteiening sonder vergoeding maak hulle in ʼn groot mate tans skuldig aan slagspreuke eerder as deurdagte denke, met die gevolg dat hulle nuanses mis.

Die RKK het vertroue in die howe en verwelkom dus die bepaling in die huidige teks van die voorgestelde grondwetwysiging dat enige nul-vergoeding deur ʼn hof onderskryf moet word. Dit beteken die persoon wie se grond op dié manier onteien word sal nie daarvoor hoef te betaal nie en dit sal nie lukraak gedoen kan word nie.

Pothier het gesê as mense die bepalings oor die rol van die hof in die proses behoorlik bestudeer sal hulle minder paniekbevange wees, want die voorgestelde bewoording van die wysiging gee wye diskresie aan die hof.

Die RKK stel voor dat onderskeid getref word tussen die onteiening van grond sonder vergoeding aan die een kant, en die onteiening van verbeterings en ontwikkeling op die grond sonder vergoeding.

Soos ander belangegroepe het die RKK uitgewys dat daar tans botsings voorkom tussen die voorgestelde grondwetlike wysiging aan die een kant, en aan die ander kant die onteieningswetsontwerp, wat in hierdie dae sy tydsame tog na parlementêre aanvaarding begin het.

Die voorsitter van die ad hoc-komitee, dr. Mathole Motshekga van die ANC, wou weet wat die omvang van die grond in besit van die kerk is.

Pothier het geantwoord dat daar wel in die verlede baie grond aan die kerk geskenk is deur individue, koloniale owerhede en stamowerhede, maar dat die RKK veral in die afgelope 30 jaar die meeste van die grond in sy besit aan plaaslike gemeenskappe oorgedra of teruggegee het.

Saffraanaanplantings op Saffricon se plaas tussen Calvinia en Williston.

Hy het gesê daar is hier en daar nog voorbeelde van groot kerkterreine soos dié van die St. Franciskus-klooster in Mariannhill buite Pinetown, en terrein wat aan Dominikaanse nonne-ordes behoort, maar dit is die uitsondering.

Hy het die omvattende gronde van die RKK in die omgewing van Springbok as voorbeeld genoem. Alles is aan die plaaslike gemeenskap oorgedra.

Dr. Mbuyiseni Ndlozi van die EFF het woedend gevra waarom die RKK “ambivalent is in sy steun vir onteiening sonder vergoeding as regstelling vir ʼn misdaad teen die mensdom”.

Ndlozi het gesê sendelinge het deelgeneem aan die moord op en plundering van die inheemse swart bevolking en nou wil die kerk al weer nie aan die regte kant van die geskiedenis staan nie.

Pothier het geantwoord dat die kerk geensins ambivalent is nie. Die kerk meen nie onteiening sonder vergoeding is altyd reg nie, en dis ook nie altyd verkeerd nie. Dit hang af van die omstandighede, en die kerk gaan nie in ʼn oorvereenvoudigde, simplistiese en ondeurdagte standpunt ingedwing word nie.

In hierdie verband het Pothier – tot verdere woede van die EFF – gesê die kerk meen nie dat om grond oor te dra van een persoon na ʼn ander noodwendig beteken dat dit produktief gebruik gaan word of tot voordeel van enigeen gaan wees nie. Dit toon die mislukking van die staat se huidige grondhervormingsproses alte duidelik, meen die kerk.

Die RKK meen onteiening moet geregtigheid, regstelling en die versekering dat dit in die huidige tydsgewrig tot voordeel van die land moet wees, in ag neem.

“Soms, as jy ʼn fout probeer regstel, maak jy nuwe foute,” het Pothier gesê.

Die ANC-LP Sibusiso Gumede wou weet of die betrokkenheid van die hof nie deur teenstanders van grondhervorming gebruik sal word om die proses eindeloos te vertraag met appèlle nie.

Pothier het geantwoord dat die hofproses wel stadig is, maar dat dit verkieslik is bo ʼn geval waar die owerheid kan maak soos hy wil, veral omdat onteiening alle eiendom kan betrek, nie net grond nie.

Nog ʼn voorlegging voor die parlementêre ad hoc-komitee was dié van die Suid-Afrikaanse Akademiese Navorsingsgroep (SAANG), gedoen deur prof. Elmien du Plessis van die Noordwes-Universiteit.

Du Plessis het, anders as sommige ander belanghebbendes, aangevoer dat daar wel ʼn verskil is tussen nul-vergoeding aan die een kant en onteiening sonder vergoeding aan die ander kant, omdat nie net markwaarde ter sprake is nie, maar ook die grondwetlike vereiste dat die vergoeding regverdig en regverdigbaar moet wees.

Die sleutelvraag vir die toekoms is hoe om daardie berekening te doen, want die omstandighede in elke onteieningspoging sal verskil. In sommige gevalle sal nul-vergoeding volgens SAANG wel regverdig en regverdigbaar wees, maar in ander gevalle nie.

SAANG het die prominente rol van die howe voordat ʼn nul-betaling kan plaasvind, verwelkom, hoewel Du Plessis gewaarsku het die staat kan daardie bepaling systap deur ʼn uiters klein bedrag as vergoeding te betaal.

Die ANC-LP Cyril Xaba wou by Du Plessis weet wat sy dink van die voorstel in sommige van die openbare voorleggings dat nul-vergoeding die verstekposisie moet wees en dat enigeen wat wel vergoed wil word, ʼn saak daarvoor sal moet uitmaak.

Du Plessis het gesê dit sou ondeurdag wees want die publiek moet teen lukrake gedrag deur die owerhede beskerm word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hennie J ·

Verstaan ek reg. Die RKK sit pens en pooitjies op die draad en wil nie standpunt inneem nie. Nie n vreeslike goeie voorbeeld vir hulle ondersteuners nie. Dieselfde geld ook vir hulle ampsdraers wat sekere perke oorskrei.
Moet ook nie te veel waarde heg daaraan dat nul vegoeding deur n hof ondersteun moet word nie. Dit sal niks vat van die anc om n grondhof daar te stel met uitgesoekte regters nie.

OW ·

Lees weer paragraaf 2 en 14,en jy sal sien dat die Rkk nie ‘n draadsitter is nie.

daniel ·

Die EFF is net agterryers vir die Chinese en die liberale rasiste..

Joggie ·

RKK kan hulle self nie kerk noem nie! Hulle wil nie standpunt inneem teen sonde van diefstal nie!

daniel ·

Ek verstaan nie die denke van sommige nie. Wie het eienaarskap toegeken aan swartes van die hele afrika..
Kan n blote velkleur genoeg bewys wees vir wettige eienaarskap ?.

Hennie ·

Maak sin , maar die hoofrede hoekom slagspreuke gewild is, is omdat 99.57% van EFF ondersteuners (wat 99.92% werkloos is) nie vir hulself kan dink nie. Baie van hulle kan lees, maar 99.632% van die goed verstaan nie wat hulle lees nie…So, dis maklik om een ding oor en oor te sê todat dit ‘n slagspreuk word. Maar laat die goed aangaan, die boere gaan die banke laat kantel en vou, dan sal almal hul gatte sien. Dink net, geen geld of kos beskikbaar nie! Viva ANC Vivaaaaaaa!

Jack ·

Die hof se rol kan wyd strek maar die einste hof is na my mening onder verdenking en reeds gedeeltelik gekaap. Ek het geen vertroue meer in die regspraak van ons howe nie. Jammer want dis al ligpuntjie wat daar nog was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.