RMS-voorsitter dood aan Covid-19

Prof. Lungile Pepeta. Foto: NMU

Prof. Lungile Pepeta, wat einde Junie as die nuwe voorsitter van die Raad op Mediese Skemas (RMS) aangestel is, is aan Covid-19-verwante komplikasies dood.

Volgens berigte is Pepeta Vrydag in ʼn hospitaal in Port Elizabeth dood. Pepeta, ʼn mediese dokter en akademikus, was ten tyde van sy dood ook die dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Nelson Mandela-Universiteit (NMU).

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Pepeta einde Junie as nuwe voorsitter van die RMS aangestel nadat sy voorganger, dr. Clarence Mini, in Mei vanjaar aan Covid-19 dood is.

Die NMU het gesê hy het met groot hartseer kennis geneem van Pepeta se dood.

“Sy afsterwe is nie net ʼn groot verlies vir die universiteit nie maar ook vir die Nelson Mandelabaai-metro, die Oos-Kaap en die land,” het prof. Sibongile Muthwa, visekanselier, gesê.

Pepeta het op 1 Januarie 2017 by die universiteit aangesluit en as ʼn bekende pediatriese kardioloog het hy aan die spits gestaan van die universiteit se reaksie rakende Covid-19 in die instelling, in gemeenskappe en in die breë samelewing.

“Pepeta was baie passievol en toegewyd aan die land se gesondheidsektor, veral in die Oos-Kaap, waar hy grootgeword, gestudeer en die grootste deel van sy roemryke loopbaan deurgebring het.”

Pepeta het ook al as waarnemende uitvoerende hoof van die Dora Nginza-hospitaal gedien, asook in vername strukture van die Raad op Gesondheidsberoepe.

“Die universiteit wil sy diepste medelye betuig met Pepeta se vrou en gesin, sy studente en kollegas.”

Pepeta se vrou, Vuyo, is ook ʼn dokter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Remlut

JINX

Hennie

Gevaarlike beroep?

Danie

Ryk arm slim dom wit swart, die virus diskrimineer nie.
Ek hoop mev Pepeta bly veilig in haar beroep.