Rob byt tiener op Kaapse strand

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Tiener is die afgelope naweek deur ʼn rob in Kaapstad gebyt nadat dié glo probeer het om aan die dier te vat.

Die Stad Kaapstad sê ʼn groep tieners het Saterdag vanaf Strand geswem en die dier in die see genader. “Hulle het glo probeer om aan die rob te vat en gevolglik is een van hulle deur die dier gebyt.”

Die tiener het ná afloop van die voorval behandeling ontvang.

Die rob word nou deur die departement van bosbou, visserye en omgewingsake dopgehou, aangesien die dier al gewoond geraak het aan mense wat hom by Harbour Island en die Gordonsbaai-hawe voer.

Owerhede van dié stad het lede van die publiek gemaan om nie robbe te nader of te voer nie.

“Om wilde diere te voer maak hulle gewoond aan mense, wat dikwels skadelike gevolge vir lede van die publiek én die dier inhou.

“Hoewel robbe oor die algemeen nie ʼn gevaar vir mense inhou nie, is dit belangrik om hulle in vrede te los sodat mens én dier die natuur kan geniet.”

Owerhede raai lede van die publiek aan om stadig weg te beweeg indien ʼn rob iemand wel nader.

“Die departement en die Stad Kaapstad werk saam met ander belangegroepe om ʼn werkbare oplossing vir die betrokke rob te vind sodat dié ook met rus gelaat kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

AW ·

Nou wonder ekke, Sal daardie Tiener ‘WEER’ aan ń Rob sal raak …..

Marisa W ·

So met die voerdery “mak” gemaak en nou pluk ons die vrugte – los die wilde goed uit.

Fanie ·

Ek verstaan die mensdom nie – dit is ‘n wilde dier – geen rob was nog ooit ‘n troeteldier nie. Los die diere uit. Paar jaar gelede het buitelander sleg tweede gekom toe die aan ‘n Dassie wou vat op Tafelberg -Hnad goed vervlenter. Die tiener kan bly wees hy/sy het nie hand of stuk arm verloor nie – robbe se tande “interlock” en het snykante voor en agter.

Elinette ·

Ja wel, oulik, maar jy sal seker nie na die rob toe swem en hom ‘n goedhartige kloppie op die koppie wil gee nie?

piet ·

Ware storie – Lank terug het ek op die strand by Kreeftebaai (‘n strandjie naby Bloubergstrand) gesit. Seker so 10 meter van die waterlyn af. Ek sien toe ‘n jong seeleeu (nie ‘n rob nie) seker so 15m regs van my uit die water kom. Die ding waggel toe (lyk asof hy loop want hy kan sy flippers onder hom invou) wragtig reguit na my toe en stop so 5 meter van my af. Ek was stomgeslaan, kon dit nie glo nie. So rukkie gewees toe vat hy weer pad water toe. Unreal.

Snowball ·

piet dalk was dit ‘n ‘selkie’ wat wou kom kennis maak maar toe kry sy koue voete (flippers)?

Elinette ·

Hy het maar net kom kyk of jy nie ‘n ánder seeleeu is wat onder sý harem wil kom nesskop nie ….

Natasha ·

Mense het nie meer respek vir moeder natuur en wild nie. Ons betree hulle grondgebied en kan dan nie verstaan hoekom ons aangeval word nie en dan wil ons hulle van kant maak. Ons moet meer respek toon!

Sandra ·

So die rob het gele en sy eie besigheid gemind, toe kom vat ‘n tiener aan hom, hy byt die tiener, nou is die rob onder observasie?? Hy het net gedoen wat natuurlik kom om homself te verdedig. Sy wou seker ‘n selfie vat met die rob. Want die tieners doen mos deesdae allerhande gewaagde goed om die beste selfie te vat.

piet ·

Interessante diere. Die olifant-rob kan sy asem vir langer as ‘n uur onderwater inhou en kan 1,25km diep duik.

DEON ·

Wel ek sien nie Robbe in die strate loop en aan almal wil vat nie…dis n seedier en hy hoort daar moenie karring aan die dier in sy habitat nie….. hoop les is geleer……

christo ·

‘Slim’ (bunny huggers) mense se ‘oulike’ voer gewoontes veroorsaak die onnodige dood van wilde diere.

Riaan ·

Ons vyfjarige seun is Vrydag op Houtbaai se hawe ook deur ‘n rob gebyt. Nie ernstig nie, maar moes ‘n klen-in-die-kaak-inspuiting kry. Net blou met ‘n klein wondjie. Darem nie permanente skade nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.