Rob Packham pleit onskuldig

Rob en Gill Packham. Foto: Facebook

Rob Packham het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof onskuldig gepleit op aanklag dat hy sy vrou vermoor het.

Die 57-jarige Packham het ook onskuldig gepleit op aanklag van regsverydeling. Hy word daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Gill Packham, in Februarie verlede jaar vermoor het. Gill is die oggend van 22 Februarie 2018 by haar huis weg op pad na Springfield Convent School waar sy gewerk het. Haar liggaam is later in die kattebak van ʼn uitgebrande BMW naby die Dieprivier-treinstasie gevind.

Die staat voer aan Robert het ʼn stomp voorwerp gebruik om Gill mee oor die kop te slaan en het toe haar BMW met haar liggaam daarin aan die brand gesteek om sy spore dood te vee.

Bernice Moore, ʼn kollega van Gill by die Springfield Convent School, is as die eerste getuie opgeroep en het getuig dat sy bekommerd geraak het toe Gill die dag nie vir werk opgedaag het nie.

Sy het op ʼn WhatsApp-groep ʼn boodskap gestuur, maar geen antwoord van Gill ontvang nie. Moore het Gill ook verskeie kere probeer bel.

“Dit was baie vreemd dat daar geen antwoord op haar sel- of huisfoon was nie. Ons het om 08:15 die voorval by bestuur aangemeld.”

Rob Packham tydens ʼn vorige hofverskyning. Foto: Tracey Adams/ANA

Die skool het ʼn persoon na Gill se huis gestuur, maar niemand was tuis nie en die alarm was geaktiveer.

Volgens Moore het hulle ook vir Rob Packham gebel, maar daar was geen antwoord nie. Sy het Packham se werkplek, Twizza, kort ná 09:00 gebel en is meegedeel dat hy nog nie by die werk is nie.

“Daar was kere dat sy selfoon dadelik na stempos gegaan het en ander kere het dit net aanhou lui. Ek het hom sewe keer gebel.”

Volgens Moore kon sy uiteindelik die egpaar se een dogter, Nicola, in die hande kry. Nicola het glo gesê sy sal haar ouers in die hande probeer kry, maar het Moore nooit teruggebel nie.

Moore het gesê sy het Rob Packham kort ná 10:30 in die hande gekry en hy het aan haar gesê hy is op die skoolperseel. Volgens Moore het Packham aan haar gesê hy wil sien met wie hy praat. Sy het ʼn slegte gevoel gekry oor dié uitlating. “Dit het my bang gemaak.”

Moore en Packham het ontmoet en moontlike plekke waar sy vrou kon wees, bespreek. Volgens Moore het Packham moeg gelyk en wou nie hê sy moet die skool se bestuur ontbied nie.

Craig Webster, Packham se regsverteenwoordiger, het egter gesê daar was niks vreemds daaraan dat Packham na sy vrou gesoek het nie.

Regter Elizabeth Steyn het die saak tot later vandag verdaag wanneer Nicola Packham na verwagting sal getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Hannelie ·

Ek hoop ook regverdigheid geskied eerder as geskiet…netnou is dit nog ‘n moord.

charmaine ·

Ek verstaan nie hierdie tipe ding nie, is moord al opsie waarop n ongelukkige huwelik kan eindig? Dit is net nooit die bloed op jou hande werd nie! Jy word uitgevang en daarna is jou lewe net hel.

Wie weet ·

SM hoekom se jy hy is evel ken jy hom Die man is dalk onskuldig

GRIET ·

Jaaaaaa-neeeeee….gaaaap hier gaat ons alwééér…?
Dog só dapper en manlik,as daar aangerand,gemoor en verkrag word…en agterna áltýd,dié stroopsoet ONSKULDIGE OU SEUNTJIE wat simpatie soek…siestog mammie ?

Karolis ·

Albatros, soms is dit baie veiliger om doodstil te bly, al is jy 100% korrek. (LoL)

LÍEWE GENADE,TOG! ·

Nou wonder ek,was daar ooook ñ listige Sarie-minnaresmiauwww-katjie by betrokke opi agtergrond of nie??
Wanneer sal die ou oompies, tog maar eerder besluit,of LÉÉR… om oop kaarte te speel en te skei soos ñ ware man,as hý nou nié meer kanssien of kan huishou nie, instede van gaan moor of sy ou geldtjies gaan mors ini hof…aiaiaiai tog!
Sterkte nietemin,aan die naasbestaandes

Lizelle ·

Hoeveel mans gaan nog hulle vroue vermoor en dink hulle gaan daarmee weg kom?

Andre Stander ·

Dink jy die twee in die nuus is die énigste twee wat probeer het….?

Hmmmmm……..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.