Rob Packham se dogter getuig in moordsaak

Rob Packham in die Wes-Kaapse hooggeregshof (Foto: Catherine Rice/African News Agency/ANA)

Rob Packham, wat daarvan beskuldig word dat hy sy vrou vermoor het, se jongste dogter het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig oor haar ouers se huweliksprobleme en haar pa se buite-egtelike verhoudings.

Nicola Packham (26) het aan die hof gesê sy het al ʼn paar jaar lank van haar pa se ontrouheid geweet nog voor haar ma in Oktober 2017 uitgevind het.

Voor sy met haar getuienis begin het, het regter Elizabeth Steyn ʼn aansoek toegestaan wat die media verhoed om die verrigtinge regstreeks uit te saai, omdat Packham nie wil hê haar gesig moet in die media verskyn nie.

Rob staan tereg op aanklag van moord en regsverydeling ná sy vrou Gill Packham in Februarie 2018 vermoor is. Hy ontken skuld. Sy het op 22 Februarie om 07:30 nie by Springfield Convent School, waar sy as sekretaresse gewerk het, opgedaag nie. Haar liggaam is later in die kattebak van haar uitgebrande BMW naby Dieprivier-treinstasie gevind. Die staat voer aan Rob het haar met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan en haar motor aan die brand gesteek om enige bewyse te verbloem.

Nicola het aan die hof gesê toe die skool haar omstreeks 09:00 die oggend van haar ma se verdwyning gekontak het, het sy gedink haar ouers is dalk by hul huweliksberader. Sy het aanvanklik by haar ouers gebly, maar 10 dae voor haar ma se moord na Johannesburg verhuis.

Sy het getuig haar ouers se verhouding was beter as vorige maande. “Hulle het gewerk daaraan om meer te kommunikeer en tyd saam te spandeer. Dit het gelyk soos die begin van ʼn nuwe verhouding. Dit het in daardie stadium goed gegaan.”

Hulle het selfs beplan om hul huweliksbeloftes te hernu en haar pa het oorweeg om vir haar ʼn motor te koop vir haar verjaarsdag die volgende maand.

Sy het gesê haar pa het haar ma in Oktober 2017 vertel van ʼn buite-egtelike verhouding nadat sy “daarop aangedring het” dat hy met haar moet praat sodat sy “kan weet wat aangaan”.

Die twee het weekliks ʼn huweliksberader gesien en Rob het in Desember ʼn ring van witgoud en diamante vir sy vrou gekoop. Hulle het nuwe huweliksbeloftes vir mekaar geskryf en hulself daartoe verbind om seker te maak die huwelik werk.

Nicola het bygevoeg haar ouers het ook individuele sessies met terapeute gehad en haar ma het voorskrifmedikasie ontvang vir emosionele spanning.

Die egpaar het op 21 Februarie, die dag voor Gill se verdwyning, ʼn afspraak gehad by die huweliksberader. Nicola het gesê hulle het gepraat oor die persoon met wie Rob in ʼn buite-egtelike verhouding was. Hy het vroeër aangedui hy het nie enige gevoelens vir die persoon nie, maar in daardie sessie het hy onthul dat hy wel gevoelens vir die persoon het en “my ma was baie ontsteld daaroor”.

Nicola het ook getuig oor die gebeure op die dag van haar ma se verdwyning. Sy het aanvanklik om 09:00 die oproep van die skool gehad en gesukkel om haar pa in die hande te kry tot later daardie oggend.

Sy het daarna gereeld van hom gehoor soos wat hy na verskillende plekke toe gery het. “In ʼn stadium het hy gehuil en hy was baie angstig, omdat hy reeds alle moontlike plekke waar sy dalk kon wees, besoek het.”

Nicola het later dieselfde dag nog op sosiale media ʼn plasing gedoen oor haar ma wat vermis word. “Aidan” het haar gekontak om te sê hy het kontakte in die polisie en sal probeer om haar by te staan. Hy het haar daardie aand gekontak om te sê ʼn motor, soos haar ma sʼn, is by Dieprivier-treinstasie gevind. Daar was ʼn liggaam in die kattebak van die motor en sy is aangesê “om die ergste te wagte te wees”.

Sy het haar pa gebel en hy is saam met sy sussie en ʼn familielid na Dieprivier-polisiestasie.

Nicola het die volgende dag na Kaapstad gevlieg.

Die saak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Gill Packham op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Lynette ·

Dat’n dogter nou al kan getuig van haar pa se buite-egtelike verhoudinga…..sies, skaam hierdie ‘man’ hom nie??

ANNA ·

Hoe bitterlik tragies…om nou jou vrou, jou kinders en jou eie lewe en ÁLS waarvoor jy hard gewerk het,jou lewe lank,te moet VERNIETIG….omdat WELLUS jou baas was en jy nié mansgenoeg was,om ñ eerlike oop skoon pad te loop met jou vrou en kinders…en maar net te skei, soos ander mense maar ook doen nie…
Jy sou waarskynlik minder onderhoud moes betaal,as jou moeilikheid,stres en ellende waarin jy,jouself NOU gedompel het …..?
Ennn die ou mendom…leer ook maar weiinig tot NIKS, uit andere se foute uit nie…

Domvraag ·

En so het Rhode ook ontken dat hy sy vrou vermoor het. As die hof bevind dat jy gelieg het dan moet dit as verswarend beskou word want jy het gee n berou en probeer jou los lieg.

Lindtjies ·

Op my broer se dogter se troue het die predikant by ons aan tafel gesit. My broer sê toe vir hom mense wil nie meer saambly nie. Hy sê toe nee getroude mense wil nie meer saambly nie. Hoe waar is die woorde nie. Buite egtelike verhoudings is aan die orde van die dag. Satan se aanslae op die huwelik is nou erger as ooit. My seun sê altyd “couples who prays together stays together.

SUSAN ·

Sodem & Gamorra. So sal die wêreld weer eens verwoes word….

Theresa ·

Die arme kinders. Baie sterkte. Hoop julle onthou net die mooi van julle ma en kan die stukke weer optel en met julle lewe aangaan.

jannie ·

Hoekom nie eerder skei as wat jy so goeie vrou vermoor nie…….die mans wat so rondneuk is pateties…geen ruggraat nie…

HARTSEER ·

Pragtig Lindtjies, daardie predikant is ‘n wyse wyse man en ja satan se aanslae is nou bitter erg op gesinne en huwelike – ons kan maar net vir huwelike, gesinne en geliefdes bid – want hierdie moorde lyk dit my, raak nou aan die orde van die dag. Alles gaan net oor wellus en menslike drange – wat het geword van liefde en selfbeheersing. Genade die wereld is op sy gatkant gedraai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.