Robbeneiland Museum se nalatigheid ‘getuig van korrupsie’

Die reddingsoperasie (15 September 2017) Foto: NSRI

Die Demokratiese Alliansie het gesê dit is “ontstellend en uiters kommerwekkend” dat die Robbeneiland Museum nie bewus was van ʼn verslag in 2016 dat die veerboot Thandi “slegs in goeie weerstoestande” gebruik mag word nie.

Maroela Media het vroeër berig 68 persone, insluitend vier bemanningslede, is verlede Vrydag van die veerboot in Kaapstad gered. ʼn Noodoproep is uitgestuur toe water by die passasierveerboot Thandi ingelek het.

“Gegewe die onstuimige see en sterk winde in Kaapstad ten tyde van die voorval, moes die vaartuig definitief nooit toestemming gehad het om te vaar nie,” het Beverley Schäfer, DA-LP en woordvoerder oor ekonomiese geleenthede, toerisme en landbou, gesê. “Die feit dat die museum nie bewus was van die verslag wat die museum self op ʼn aanlyn regeringstenderwebwerf gepubliseer het nie, getuig van erge wanadministrasie en wanbestuur van die museum en sy veerbootbedrywighede. Dit wys ook dat die museum doelbewus optree sonder enige kennis oor die veiligheid en stand van sy vaartuie – dit is ʼn direkte bedreiging vir mense se lewens.”

Schäfer het gesê dit is ook verdere bewys van die beweerde korrupsie binne die bestuur van die museum wat nou ook na die veerbootbedrywighede deurgesyfer het.

“Ons versoek ʼn onafhanklike ondersoek oor hierdie voorval om die bron van hierdie erge nalatigheid te bepaal van ʼn entiteit wat deur die ANC nasionale regering in die Wes-Kaap bestuur word. Ek bly verbind daartoe om die oorsaak van hierdie voorval te bepaal om die lewens te beskerm van diegene wat die Robbeneiland Museum besoek. Ons kan nie toelaat dat korrupsie op ʼn nasionale vlak ons provinsie of die mense wat dit besoek, bedreig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

TDW ·

En so gaan die politieke klipgooi net aan en aan. Ek is al moeg vir hierdie speletjies waarmee die ANC begin het en waarmee die DA net saamspeel. Dis soos om tennis te kyk.

Johan ·

Die eiland se infrastruktuur is half verwoes en in ‘n skokkende toestand. Die tyd toe Korrektiewe Dienste dit versorg het was dit puik. En so verval alles in hierdie land onder bewind van ‘n Regering wat geen clue het om ten eerste die administrasie te bestuur nie. Destyds was amptenare hiervoor verantwoordelik, maar nou is dit politici.

Leahim ·

Ek stem saam die toergidse op die eiland is so oningelig oor die geskiedenis van die eiland dat nie eers buitelanders hulle glo nie …..maak hom weer n tronk.

Hendrik ·

Slaan die tronk plat, bou ‘n speelpark soos in Disneyland en maak die tema “Play in the Jail”. Dit gaan baie meer besoekers lok. Dit is ‘n grap mense en ek is dood ernstig. :-)

LV ·

Of bou n rugbystadion daar vir die Stormers dan kan hulle hul oorsese wedstryde ook wen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.