‘Robot’ help spesialiste met saalrondtes in hospitaal

Die robot genaamd Quintin (Foto: Verskaf)

ʼn Professor aan die Universiteit Stellenbosch (US) het met die idee vorendag gekom om ʼn robot in te span om spesialiste by die intensiewesorgeenheid van die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad by te staan.

Die robot sal spesialiste in staat te stel om saalrondtes virtueel te kan doen. Dié robot gaan ingespan word wanneer van die spesialiste dalk die Covid-19-virus sou opdoen en fisiek nie daartoe in staat sou wees om saalrondtes te doen nie.

Dié robot, genaamd Quintin, lyk soos ʼn tabletrekenaar en beweeg op twee wiele rond. Hy gebruik ʼn giroskoop en versnellingsmetersensors in die basis, en kan beheer word deur middel van ʼn skootrekenaar, tablet of slimfoon. Kommunikasie tussen dokter en pasiënt word moontlik gemaak deur ʼn mikrofoon en ʼn vergrotingsfunksie, en kan lewensfunksie-tekens deurgee van hoogs aansteeklike pasiënte.

Die gebruik van dié robot sal die spesialiste daartoe in staat stel om steeds ʼn diens te kan lewer, al doen hulle self die virus op.

Coenie Koegelenberg, professor van pulmonologie aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het voor die instel van die landwye afsonderingstydperk begin eksperimenteer met opsies om virtuele saalrondtes in die intensiewesorgeenheid by die Tygerberg-hospitaal te doen.

“Die kanse is redelik hoog dat minstens een van die spesialiste in die hospitaal siek kan word. Dus was dit nodig om realistiese planne te maak vir moontlike gebeure,” sê Koegelenberg.

Hy sê die idee van die inwerkingstelling van die robot was ʼn spanpoging.

“Ek het die idee van ‘virtuele’ saalrondtes in ʼn intensiewesorgeenheid gekry. My vrou, dr. Suretha Kannenberg, ʼn dermatoloog, het voorgestel dat ons die ‘Double Robotic’-robot van die SunSkill-kliniese-opleidingsfasiliteit van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe moet gebruik,” vertel Koegelenberg.

Die personeel van die opleidingsfasiliteit het sonder huiwering ingestem dat die robotte in die hospitaal ten tyde van die pandemie gebruik kan word. Prof. Ian Vlok van die fakulteit se afdeling neurochirurgie en Bronwyn Stockenstrom, die opleidingsfasiliteit se bestuurder, het Koegelenberg vinnig touwys gemaak oor hoe om dié robot te gebruik.

Koegelenberg en dr. Usha Lalla, hoof van die intensiewesorgeenheid by die Tygerberg-hospitaal, het Vrydag die robot vir die eerste keer in die hospitaal getoets.

Koegelenberg sê die gebruik van die robot by die Tygerberg-hospitaal is nog ʼn voorbeeld van hoe die pandemie vindingrykheid en samewerking na vore gebring het.

Dié soort robotte word ook in Italië gebruik, waar die pandemie reeds baie lewens geëis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.