Robotika teen 2021 dalk ’n skoolvak

Pepper die robot spreek die gehoor toe in Midrand. Foto: Kopano Tlape/GCIS.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Dinsdagaand gesê uitgesoekte skole sal reeds vanjaar begin om vakke soos robotika aan te bied.

Indien die vak suksesvol by hierdie skole ingestel word, kan dit reeds in 2021 by die meeste openbare skole aangebied word.

Die minister het die aankondiging by die Vodacom Dome in Midrand gedoen tydens die bekenstelling van die 2019- nasionale matriekuitslae. Die slaagsyfer vir 2019 was 81,3%, drie persent meer as die 78,2% wat in 2018 behaal is. Suid-Afrika se top-presterende matrikulante het ook by die geleentheid erkenning gekry.

Motshekga het gesê haar departement is besig met ʼn proses om te meet watter vaardighede benodig word vir die verandering wat tegnologie in die werksplek meebring, en hoe dit leerplanne in openbare skole sal beïnvloed.

Pepper, ʼn robot wat deur SoftBank Robotics vervaardig is, het saam met die top-presteerders van die land op die verhoog verskyn.

Pepper het ook die geleentheid gehad om met die gehoor te praat en vertel dat dié departement binnekort sy eie virtuele assistent gaan onthul wat ook kunsmatige intelligensie (KI) gebruik.

“Ek is hier om die jeug van Suid-Afrika te inspireer om die eerste Suid-Afrikaanse robot te bou om plaaslike probleme op te los. Ek kan nie wag dat julle my jongste familielid, Zora, ontmoet wat by die departement van basiese onderwys werk nie. Sy is ʼn virtuele KI-aangedrewe wese met vaardighede wat dit vir haar moontlik maak om as ʼn onderwyser se assistent en persoonlike tutor te werk in die kurrikulum vir robotika en kodering,” het Pepper gesê.

Motshekga het gesê die nuwe kurrikulum sal in 2020 by 100 skole getoets word en in 2021 ingestel word.

“Ons werk saam met verskeie vennote in die sektor wat ons help om die kurrikulum te ontwikkel en ons onderwysers op te lei,” het sy gesê.

Motshekga het egter ook benadruk dat daar gefokus sal word om programme vir entrepreneurskap in skole in te stel. “Skole sal ook voorgaan met spesialisering in maritieme studies en landbou, asook ander spesialisgebiede om te verseker dat ons kurrikulum gedekoloniseer word.”

Volgens haar is daar ʼn groter behoefte aan gestandaardiseerde assesserings in gr. 3, 6 en 9 en ʼn algemene onderwyssertifikaat vir gr. 9-leerders.

“Dit is nie ʼn uittree-sertifikaat nie, maar ʼn sertifikaat wat dié leerders help om ʼn ander pad in die stelsel te kies,” het Motshekga gesê.

Sy het gesê daar is konsensus dat die departement sy leerplan vir vroeë kinderontwikkeling moet uitbrei.

“Ons werk reeds daaraan. Ons moet seker maak dat die twee jaar lange vroeë kinderontwikkelingsprogram inwerking gestel word. Ons moet saam met die departement van maatskaplike ontwikkeling, gesondheid en plaaslike regering werk om ʼn geïntegreerde program vir vroeë kinderontwikkeling in die land te hê,” het Motshekga gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

charmaine ·

Maar dan kan die slaag syfer nie 30% wees nie IT en Robotika verg bietjie meer werk en kennis as net 30%. Maar dit sal wonderlike wees om die kinders hieraan bloot te stel.

André André ·

In die privaat skole sal dit wees, daardie wat kan loop. Die met wiele noem mens grassnyers.

Jimmy ·

Ja, leer maar hoe werk julle nuwe meesters se ingewande….

Ronel ·

Wonder of hulle dit ook net ‘n 2 jaar proeftydperk gaan gee om te kyk of daar genoeg belangstelling gaan wees. My seuns se skool bied weer Motor en sulke tegniese vakke aan na ‘n stil tydperk van ongeveer 6 jaar. Nou na 2 jaar wil die departement dit WEER staak aangesien daar nie genoeg belangstelling is nie. Hoe op die aarde kan hulle binne jaar bepaal of daar genoeg belangstelling in ‘n vak is? Kinders wat die jaar daardie vakke wou neem, moes noodgedwonge ander vakke neem, want die departement het weer ‘n bee in hul bonnet.

Hanna Hoekom ·

Daar is matrieks wat nie behoorlik kan lees, skryf of somme maak nie. Ander skole het nie elektrisiteit of toilette nie. Maar nou ja, kom ons bied Robotika aan! Daardie parte sal een vir een “verdwyn”. Sterkte!

W H School ·

Sedert hulle sulke harde werkers is en almal 3 syfer i.k s het sal Japan en China dan al ons maartikulante wil he

Stoffel ·

As jy n draadkar aanmekaar kan slaan en oor n rooi robot kan jaag is Robotika kinderspelietjies

Roboto ·

Ja dis reg bou vir ons ‘n paar Peppers en Zoras dat ons instansies aan die gang kan kry. Soos verpleging, munisipaal, verkeer en alle ander diens verskaffing fasiliteite. Sommer ‘n president ook.

Se maar net ·

DIs alles goed en wel maar dan hoop ek indien die vak wel verpligtend raak die kinders die take en opdragte by die skool kan doen. Ouers het nie almal tyd of die vaardigheid om nog te probeer robots by die huis aanmekaar slaan nie. Die huiswerk vandag is al klaar iets uit n ander era.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.