“Welkom by Hotel Sky. Ek is nie ʼn persoon nie, maar ʼn virtuele agent,” verduidelik ʼn veelkleurige robot in die voorportaal van ʼn hotel in Sandton.
Hotel Sky, wat reeds in 2019 robotte ontwikkel het as deel van sy algehele ontwerp, het onlangs ná sy opening die nuwe tegnologie in gebruik geneem in ʼn poging om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan.
“Niemand het gedink die robotte sou so handig te pas kom in ʼn tyd waar kontaklose dienste aangemoedig word nie,” sê Herman Brits, bestuurder van dié hotel.
Die hotel het in November, te midde van die inperkingsregulasies, sy deure oopgemaak.
Volgens Nikhil Ranchod, medestigter van CTRL Robotics, die maatskappy agter die installering van dié robotte, het die pandemie net die strewe na outomatisering op dié vasteland versnel.
“Robotte is skaars in ontwikkelende lande waar arbeid dikwels goedkoper is, so die nuutheid van die hele stelsel is ʼn groot aardigheid in Suid-Afrika.”
Die robotte gebruik daagliks hysbakke en navigeer ook die gange van die hotel terwyl hulle gaste se bagasie dra en kos aflewer.
“Ons doel is nie om personeel te vervang nie, maar eerder om hulle aan te vul,” sê Ranchod. “Vra die personeel by die ontvangstoonbank en hulle sal vir jou sê dat die robotte hulle ekstra tyd gee om hul pligte meer kreatief en beter te verrig.”
Hotel Sky meen hy is die eerste hotel in Afrika om robotte in diens te neem.
“Baie van die gaste vind die robotte opwindend en dit verleen ʼn heel nuwe dimensie aan die hotelbedryf,” sê Brits.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
So kan ons die eerste robot unie verwag later vanjaar? NAROUSA! as ek solank ‘n voorstel kan maak
Uitstekende idee. Geen stakings en geen regstellende aksie!
Klink alles opwindend, maar ek kan nie help om hartseer te voel nie. Daar gaan nog werksgeleenthede by die deur uit. Dit kon kos op iemand se tafel gesit het. Robotte eet nie…… nog nie!!
Wel Met al die staakings verhoogengs , mislike paroeneel arogansie tips vrae , is kaboe . Die robot vrae nie selaaris nie vrae nie vir tips nie en kan menslik wees sonder aroegansie nie raak ontslae van die mense
Ek hoop die robotte kan my gunsteling kos voorberei! Kan hulle diepsee duik vir jou lekker vars oesters?