Robotte ingespan in soektog na Soweto-seuntjie

Robottegnologie word nou ingespan om reddingswerkers in hul soektog na klein Khayalethu Magadla (6) te help. (Foto: Verskaf / Robert Mulaudzi)

Robottegnologie is Vrydag ingespan om reddingswerkers in hul soektog na klein Khayalethu Magadla (6) te help nadat hy Sondag in ʼn oop mangat in Soweto geval het.

Maroela Media het vroeër berig dat die seuntjie saam met maats sokker in ʼn park in Dlamini gespeel het toe hy vermoedelik gegly en in die oop mangat geval het. Nooddienswerkers het sedertdien in verskeie gebiede langs die rioolstelsel na Khayalethu gesoek, onder meer in Kliptown, Klipspruit-Wes, Eldoradopark en Lenasia.

“Ons sal teruggaan na die pypleiding waar Khayalethu aanvanklik ingeval het. Ons sal ons tegnici instuur sodra ons kollegas by Johannesburg Water die water hier herlei het,” het Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddiens, Vrydag aan Maroela Media gesê.

“Ons sal ook robotte ontplooi, wat ʼn drywende boot met onderwaterkameras is. Daar is ook kameras bo die water. Dit sal vir ons ʼn 360 grade-uitsig al langs die pypleiding gee. Indien ons enige iets opspoor, sal ons ons tegnici daar instuur om die jong seuntjie uit te haal.”

Mulaudzi sê terwyl nooddienste dié soektog uitvoer, sal lede van Johannesburg Water voortgaan met die skoonmaak van die afloopkamers, wat drie bane het wat na die hoofaanleg loop.

Die reddingspanne hoop om die seuntjie op dié wyse op te spoor sodat die familie afsluiting kan kry.

Mulaudzi het vroeër reeds aan Maroela Media gesê die kanse is skraal dat die seuntjie lewend gevind sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

domheks ·

Het julle al vergelyk wat die koste aan die soektog is in vergelyking met behoorlike instandhouding?

Pieter J ·

Domheks ek dink nie instanhouding is die probleem nie. Die inwoners moet toesien dat mense uit hulle gemeenskappe nie alles in die omgewing wegdra nie. Gaan kyk maar hoe word heinings en ander infrastrutuur weggedra om te gebruik op hul erwe. Wat nie self gebruik kan word nie word aan skroothandelaars verkoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.