Rocker veil kitare, memorabilia op vir siek vrou

Valiant Swart en sy vrou, Lanelle. (Foto: Verskaf)

Limfedeem is onlangs by die sanger en liedjieskrywer Valiant Swart se vrou, Lanelle, gediagnoseer nadat sy twee jaar gelede ʼn operasie vir kanker ondergaan het waarna verskeie komplikasies ingetree het.

Limfedeem verwys na weefselswelling wat veroorsaak word deur die ophoping van proteïenryke vloeistof wat gewoonlik deur die liggaam se limfatiese stelsel gedreineer word. Dit beïnvloed meestal die arms of bene, maar kan ook in die bors, maag, nek en geslagsdele voorkom.

Lanelle (51) het tans limfedeem in haar regterbeen, maar dit kan moontlik na haar linkerbeen versprei.

As gevolg van haar toestand, wat mettertyd gaan vererger, is dié aktiewe ma, wat steeds studeer, gereeld stap, swem en reis, se toekomsplanne heeltemal omvergewerp. Pyn, ongemak, strawwe behandelings en oefeninge asook ʼn streng dieet het haar nuwe normaal geword – en om ver afstande per voertuig af te lê, wat noodsaaklik is vir haar musikantman se beroep, is nou ʼn onaangename en vermoeiende ervaring.

“Limfedeem beïnvloed alle aspekte van my lewe,” sê Lanelle, wat al vir drie dekades met die rockmusikant, skrywer en akteur getroud is.

“Buiten vir net chroniese swelling, pyn en ongemak, het dit ook ʼn invloed op my immuunstelsel en kan dit lei tot lewensgevaarlike bakteriële infeksie. Die ergste vir my is die vrees dat ek my beweeglikheid kan verloor. Hierdie operasie sal my ʼn kans gee om normaal te funksioneer omdat dit ʼn alternatiewe dreineringsroete vir die limf skep, wat weefselverandering help vertraag en die kanse om infeksie op te doen verminder.”

Volgens Valiant, wat met talle Samas (South African Music Awards) bekroon is en in die kykNET-drama Song vir Katryn die hoofrol vertolk het, het Lanelle haar lewe lank ʼn aktiewe leefstyl gelei en altyd die fort gehou wanneer hy op die pad moes wees.

“Limfedeem het egter haar daaglikse bestaan aansienlik verander en sy moet dag en nag ongemaklike, beperkende kompressiekouse dra om te voorkom dat haar bene opswel en haar toestand versleg,” verduidelik Valiant.

“Sy moet elke oggend, sonder uitsondering, spesiale oefeninge doen om swelling, pyn en komplikasies te voorkom. Ten spyte van haar gedissiplineerde oefenprogram en dieet ondervind sy steeds voortdurend pyn en ongemak en maak dit normale dinge soos om ʼn motor te bestuur, uiters uitputtend.”

Ná deeglike navorsing het Valiant en sy gesin ontdek dat daar in die buiteland ʼn mikro-chirurgiese operasie gedoen word om limfedeem te behandel. Daar is egter net ʼn handjievol instansies en chirurge wat hierin spesialiseer en hulle was gelukkig genoeg om ʼn hoogaangeskrewe Amerikaanse spesialis in Cleveland, Ohio, op te spoor, wat vroeg in 2022 ʼn operasie op Lanelle wil uitvoer.

Dié operasie, reis- en verblyf voor en na afloop van die operasie kos egter ʼn klein fortuin en daarom het die egpaar besluit om in samewerking met WOES, ʼn geldinsamelingsplatform, twee veilings in die Kaap en Gauteng aan te bied om geld in te samel om te help om dié uitgawes te dek.

WOES is met die aanvang van die Covid-19-pandemie gestig om kunstenaars geldelik by te staan, maar het intussen uitgebrei na ander instansies.

“Die veilingsgeleenthede gaan ook aanlyn gestroom word om ʼn groter gehoor te kan trek en ʼn uitstekende reklameplatform aan adverteerders te bied,” sê Valiant.

Buiten vir optredes deur bekende kunstenaars, gaan daar ook waardevolle Valiant Swart-memorabilia opgeveil word, waaronder Jinx (sy karakter in Song vir Katryn) se kitare wat gemonteer is in hout-en-glasuitstalkaste; ’n beperkte aantal nuwe elektriese kitare; handgeskrewe en geraamde lirieke van treffers uit die musikant se pen soos “Songvanger”, “Die Mystic Boer”, “Eyeshadow” en “Duisend myl blues”; die laaste oorblywende bottels Mystic Boer-brandewyn; getekende geraamde foto’s en kunswerke.

“Toe Kobie  van Vonk Musiek ons skakel om te hoor of ons vir Lanelle sal help om geld in te samel het ons dadelik ingestem,” sê Jaco van Dyk, een van die stigterslede van WOES.

“Ons sal graag soveel as moontlik wil insamel, aangesien die pad wat vir hulle voorlê finansieel nog baie onseker is.”

Die Gautengse konsert en veiling sal op 27 Januarie by die The Blue Crane Restaurant in Pretoria plaasvind. Inligting vir die Kaapse konsert en veiling sal nog bekend gemaak word.

Sakeondernemings en individue wat wil skenkings maak, pryse borg, advertensieruimte wil koop of betrokke wil raak, kan ’n e-pos stuur na [email protected] vir meer inligting.

Kaartjies vir die veiling, lootjies en konsert sal aanlyn beskikbaar wees op Tixsa by https://bit.ly/31L2T1I. Om die veiling op YouTube te volg klik op https://youtu.be/_NGhGRDzRbw.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

sterkte met die pad vorentoe, glo dat operasie suksesvol sal wees en ek bid vir genesing

Lakemalawi ·

Ai, kan iemand nie n Gofundme begin vir haar nie? Dis hartseer dat hy sy kitare, wat sy inkomste is, moet opveil?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.