Rocklegende Piet Botha oorlede

Piet Botha (Die foto is gepubliseer met vergunning van die fotograaf, Colin Windell)

Die Suid-Afrikaans rocklegende Piet Botha is in die ouderdom van 63 oorlede.

Botha is vroeër die jaar met pankreaskanker gediagnoseer. Die blues-en-rockmusikant was net meer as ʼn week gelede reeds te siek om by die Strab-musiekfees in Mosambiek op te tree. Hy was egter vasbeslote om op 14 Julie by die Bands for Bricks-konsert in Menlyn se Sun Arena op te tree.

Botha, die Hammer van die rockgroep Jack Hammer, was ‘n legende in die rockwêreld en sy laaste album, “Die middernagtrein”, wat in Maart verlede jaar bekend gestel is, het in April vanjaar die Ghoema-musiektoekenning ontvang vir beste rock-album. Dit was sy sesde vollengte album in Afrikaans.

Piet het vroeg in 2017 ernstige rugbeserings opgedoen in Margate toe hy van die verhoog afgeval het tydens ʼn Jack Hammer-konsert op die Suidkus-motorfietsfees. Hy het twee rugwerwels gebreek en moes ʼn operasie ondergaan.

Botha is op 18 Julie 1955 gebore en was reeds op skool deel van rockgroepe en het toe ook al begin liedjies skryf. Hy was van 1981 tot 1983 betrokke by die groep Wildebeest voor Jack Hammer in 1984 begin is.

Botha is in 1997 versoek om ʼn Afrikaanse album te skryf en op te neem en “Suitcase vol winter” was die produk daarvan. Sy album “Die Mamba” is in Augustus 2003 vrygestel en het groot lof ontvang. Botha is in 2002 in die SA Rock Hall of Fame ingelyf.

Pik Botha en sy sangerseun, Piet. Foto: Hein Waschefort via Facebook

Botha het in Mei 2006 die SAMA-toekenning vir lewenslange bydrae ontvang en het ook kort daarna ʼn Prestige-toekenning van die FAK ontvang vir sy bydrae tot Afrikaans.

In 2011 het Botha in die televisiereeks “Wie Lê Waar” op kykNET verskyn wat gelei het tot sy album “Spookpsalms”.

Botha laat onder andere sy drie dogters, Robynne, Jessica en Piya en sy sibbes, Roelof Botha, Anna Hertzog en Lien Botha agter.

Botha se pa, die politikus Pik Botha, is op 12 Oktober in die ouderdom van 86 jaar in Pretoria oorlede.

Botha was die langsdienende minister van buitelandse sake, van 1977 tot 1994, in die kabinette van John Vorster, PW Botha en FW de Klerk. Hy het ook onder oudpres. Nelson Mandela gedien as minister van minerale en energie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Dick Bailey ·

‘n Suitcase vol Winter …….rus sag Piet Botha een van ons grootste Rockers !!

Misousa ·

Wat ‘n man!
Wat ‘n musikant!
Groot leemte Piet!
SA sal jou mis!????????????

Anne ·

Het vir Piet al ‘n paar keer ontmoet. Ek besit van sy albums en hy is inderdaad ‘n legende. Sy live vertonings was briljant. Hy sal deur ons wat hou van goeie musiek gemis word.

Emmarentia Kirsten ·

Woorde kan nie eers die leemte wat Piet Botha agter los beskryf nie, sterkte aan almal wat n pa, vriend en hartsmens verloor het. Keep on Rocking ????

Veronica Ferreira ·

Jy was ‘n legend. Gaan gemis word by die feeste. RIP.

Jannie Buys ·

Rus sag Piet – het nou nog jou album “Bushrock” wat jy in die vroeer tagtigs vir my gegee het toe ek jou pa beveilig het.

Riaan ·

Ai, Piet. So ‘n anomalie – jou pa was ‘n politikus en diplomaat en jy was ‘n rebel en ‘n rocker. En hoe goed was jy nie… Goeienag, Generaal.

Sophia ·

Rus sag ou boere rocker ons sal weer ontmoet. Gaan jou baie mis Piet!

Ellisras ·

Ek was op Margate toe hy van verhoog af geval het. Te klein verhoog en donker. En tog het Piet blymoedig gebly. Rrus rustig ou maat.

Wielspore ·

Puik kunstenaar, sy liedere is almal oorspronklik, gesing met emosie en meelewing. So sal hy onthou word.

Pb ·

Salueer jou Generaal. No-nonsense kunstenaar, oorspronklik en eg. In my huis het 2 generasies jou geniet! Musikant van formaat en lief vir die lewe. Yster

JL ·

Wonderlike musikant gewees. Mag hierdie legende altyd onthou word.

Liamari ·

My hart is so seer.. Soveel vertonings deur die jare ervaar… soveel lang paaie gery met sy musiek. Diep siel, ware rocker!

Rus sag ·

Die man met die mooiste stem, hoevele kere as mens in Wonderpark rondloop, en jy hoor hierdie stem, het mens eenvoudig net geweet dit is hy, Rus sag, jou stem is stil.

SM ·

Het die voorreg gehad om hom twee keer by Strab te beleef – ‘n sagmoedige, rustige beskaafde man. RIP Piet. Jou musiek sal voortleef vir altyd.

Ronnie ·

‘n Pragtige stem is nou stil. Maar sy treffende en oorspronklike musiek sal voortleef. Rus in Vrede Piet. Ons sal jou mis.

Dirk Putter ·

So hartseer.
Al my band-pelle gaan dood.
Ralph Rabe (Kerkorrel),
Lourens Puren (Rockeye).
Piet Kitaar (Piet Joubert),
Deon Botha (One man Band).
George Lotz (Silver Creek Mountain Band).
Nooit saam met jou gespeel nie Piet, wel ‘n “sigaretjie saam gerook.
Die rockers wat oorbly moet nie gaan lê nie.

Francois ·

Ons eie boere blues koning is nou stil, maar as ons stil raak sal ons daai Fender-Start vir altyd hoor huil.
Sien jou weer ou yster!!

treurgrond ·

Gisteraand vir die eerste keer op die Suid Afrikaanse nuus gehoor hoe sing Piet Botha, ek was verstom – eerste keer dat ek hom gehoor het – ek ken nie die man nie maar was hartseer want het ek geweet van Piet Botha het ek laaaaankal ‘n CD gekoop. Jy het mooi gesing Piet. Ek kan dink jy gaan gemis word. Diep siel, ware Rocker. RIV Piet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.