Roedtan-plaasmoord: Agt weer in hof

plaasaanvalle

Argieffoto: SAPD

Agt verdagtes wat in September in hegtenis geneem is in verband met die moord op Piet (69) en Tilla van Zyl (66), renosterboere van Roedtan in Limpopo, sal minstens nog tot November agter tralies moet bly voor hulle om borgtog kan aansoek doen.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die verdagtes, Nthondo Shabane, Bheki Mhoboni, Mabuza Bhongazi, Nkosi Dumisani, Sfiso Mlazi, Willis Phiri, Vission Pokodisa en Enocent Moidondo het verlede week in die Thabamoopo-landdroshof verskyn.

“Die saak is tot 24 November uitgestel vir verdere polisieondersoek. Hulle bly in aanhouding,” het Ngoepe gesê.

Maroela Media het vroeër berig die Van Zyl-egpaar is op 20 Augustus deur ʼn familielid dood op hul plaas buite Mokopane (Potgietersrus) aangetref.

ʼn Groep verdagtes het glo die egpaar se slaapkamerdeur oopgebreek en hulle oorrompel. Die verdagtes het die egpaar met pistole aangehou en die huis geplunder. Die aanvallers het die egpaar doodgeskiet, vermoedelik oomblikke voordat hulle gevlug het. Die slagoffers se liggame is die Sondag omstreeks 09:00 in die huis aangetref.

Hul hande was vasgebind en hulle het verskeie skietwonde aan hul liggame gehad. Twee jaggewere, een handwapen en een rewolwer is tydens die aanval gesteel.

Ngoepe het vroeër gesê Pokodisa, ʼn Zimbabwier, was ʼn voormalige werknemer van die egpaar.

Daar is tydens die inhegtenisnemings op 4 September beslag gelê op ʼn vuurwapen, ʼn magasyn en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan ·

Julle is meer as n week te last met julle verslag gewing. Ongelukkig is dit nie n sensasionele gebeuertenis nie, net nog n boer wat vermoor is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.