‘Roekelose’ vragmotorbestuurder Woensdag in hof

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Albertus de Wee (52), die vragmotorbestuurder wat Saterdag in hegtenis geneem nadat hy glo onder die invloed van alkohol bestuur het en glo ook in verskeie geringe botsings in Noordwes en die Noord-Kaap betrokke was, verskyn Woensdag in die hof.

Lt. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder van die Oos-Kaap, het aan Maroela Media gesê De Wee is reeds op R500 borgtog vrygelaat. Hy staan tereg op aanklagte van dronkbestuur en roekelose of nalatige bestuur.

“Daar word vermoed dat die man teen ʼn Opel Corsa-bakkie in Kuruman gebots het,” het Kock gesê. “Geen beserings is aangemeld nie, en tot dusver is net een botsingsaak by die Kuruman-polisie aanhangig gemaak,” het Kock gesê.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het hom Saterdagmiddag naby Schweizer-Reneke in Noordwes begin afspeel. ʼn Motoris het ʼn video geneem van die hoe die vragmotor oor die pad slinger en in die weg van aankomende verkeer inbeweeg, en sommige motors naelskraap mis. Die bestuurder het glo verskeie verkeerstekens verontagsaam, en ander motoriste van die pad af gedruk.

Hy is uiteindelik ná ʼn wildejaagtog met buurtwaglede van AfriForum, in Kuruman aangekeer en in hegtenis geneem. Klik hier vir meer inligting en om ʼn video van die voorval te sien.

PJ Nel, ʼn Maroela Media-leser, het ná die berig gesê hy en vriende was Saterdag onderweg na Schweizer Reneke toe hulle ook die vragmotor oor die pad sien slinger. “Ons het in ʼn Toyota Yaris gery en aanvanklik gedink die bestuurder swaai vir ʼn slaggat uit,” het Nel gesê. “Toe ons weer sien, en teen ʼn spoed van 110km/h, moes ons vir die vragmotor uitswaai om ʼn trompop botsing te vermy. Ons het so geskrik en amper die kar in die veld langs die pad gerol. Dit het te vinnig gebeur om sy nommerplaat te kry. Ek is net bly dat hy darem in hegtenis geneem is,” het Nel bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

scalla ·

Sy lisensie behoort opgeskort te word, hoort nie op die pad nie!

Bruno Stef ·

Ek vra maar net sou dit nie beter sin gemaak het as die ondersoek beampte van die Noordkaap was in plek van die Ooskaap soos in die beriggewing gemeld word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.