Roerende huldeblyk aan vierpotige polisielid

Die snuffelhond, Black.

Die polisie se honde-eenheid op Humansdorp het die afgelope week met hartseer afskeid geneem van hul geliefde polisiehond, Black.

Black, ’n bloedhond-Blue Tick-kruising, is verlede maand dood.

Die hond het in April, ná nege jaar by die honde-eenheid, weens ʼn hartkwaal afgetree. Hy het daarna tot en met sy dood permanent by sy polisiehanteerder gewoon.

Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, sê Black is in 2011 saam met vier van sy broers en susters deur hanteerders by die polisie se opleidingsentrum in Atteridgeville touwys gemaak voordat hy by die honde-eenheid in Humansdorp aangesluit het.

Hy was toe een jaar oud.

Black en sy hanteerder, ao. Maurice Konzani. (Foto: SAPD)

Volgens Govender het Black homself vinnig bewys as een van die beste spoorsnyhonde in die eenheid en het hy poot bygesit om verskeie sake van veediefstal en huisbraak op te los.

“Black het ʼn belangrike rol gespeel in die herwinning van versteekte goedere, karkasse en die identifisering van misdaadtonele.”

Hy het in 2012 onder meer ʼn soek-en-reddingspan gehelp om ’n vermiste vrou in die Stormsrivier op te spoor en in 2013 het hy gehelp om vyf veediewe in die omgewing van Fort Beaufort vas te trek.

Die boer wie se vee destyds gesteel is, het Black se lof daarna in ’n brief aan die polisie se Oos-Kaapse hoofkantoor besing. Die boer het gesê Black het gehelp om sy vertroue in die polisie te herstel nadat hy vroeër ’n groot verlies weens veediefstal gely het.

Black en sy hanteerder, ao. Maurice Konzani. (Foto: SAPD)

Black en sy hanteerder, ao. Maurice Konzani, is die jaar daarna as top-presteerders in die kategorie vir misdaadvoorkoming in die Oos-Kaap benoem. Hulle het eindelik as naaswenners weggestap.

Konzani het in ’n roerende huldeblyk afskeid van sy vierpotige kollega geneem.

“Black het sy eie verhaal op die honde-eenheid se muur van herinnering geskryf. Hy het tydens sy diensjare die polisie se snuffelhondvlag hoog laat wapper. Ek salueer hierdie dapper vegter wat sy roeping getrou nagekom het.

“Ek sal my maat onthou as ʼn moedige vegter. Rus in vrede, my vriend,” het ’n emosionele Konzani gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Innige meegevoel.

JohanF

Baie sterkte AO. Konzanie, ek voel saam met jou, dit is soos ń kameraad….deel van die familie..!!
Sterk staan, mag jou volgende vierpotige jou vertroosting gee,en volg in Black se voetspore…!!
Saluut Black……

Cornelius

Pragtige afskeid.