Roerende huldeblyke na geliefde Klofies-juffrou sterf

Carin de Beer. (Foto: Facebook)

Tientalle boodskappe van medelye het ingestroom na die dood van Carin de Beer, ʼn onderwyseres verbonde aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria.

De Beer was die skool se departementshoof van fisiese wetenskappe en ʼn geliefde onderwyseres onder honderde leerlinge.

Sy is Vrydag dood. ʼn Vriendin van De Beer het op Facebook geskryf sy het weens Covid-19 gesterf.

“Dit is ʼn groot verlies vir Klofies en ons harte gaan uit na Carin se drie seuns en familie in hierdie moeilike tyd. Ons het nie woorde om ons hartseer te beskryf nie,” het die skool in ʼn boodskap gesê.

“Mag God julle styf vashou en dra in hierdie hartseer tyd.”

(Foto: Hoërskool Waterkloof/Facebook)

Die skool het mense ook genooi om Saterdag ʼn blom by die skoolhek ter nagedagtenis aan De Beer neer te lê.

“Jesus het een van sy grootste engele kom haal. Jy het die standaard vir ‘goeie vrou’ baie hoog gestel. Tot weersiens, my liefste moeder,” het Nicholas de Beer, een van Carin se seuns, geskryf.

Leenta Grobler het De Beer as haar grootste inspirasie bestempel, asook die rede hoekom sy ʼn ingenieur geword het en in hoër onderwys werk.

“Ek dink nie daar kon ʼn beter natuurwetenskap-juffrou op aarde bestaan nie en die wêreld en my lewe is ewig armer na vandag.

“Sy het dalk drie seuns in die wêreld gebring, maar sy het baie meer as drie van ons grootgemaak,” lui Grobler boodskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokkie

So jammer. Te oordeel aan die kommentare was sy die volmaakte moeder en onderwyseres . Haar soort is dun gesaai. Baie dankie vir jou wonderlike invloed op talle kinder-en jongmenslewens, ‘juffrou’. Rus in vrede.

Jaco

Lyk my almal sterf deesdae aan Covid-19. Tog bly sterftesyfers normaal in vergelyking met ander jare. Is Covid-19 dus regtig ‘n pandemie?

johanf

Rus sag Mev de Beer, my innige simpatie aan die familie, ander naasbestaandes en kenisse.
Mag God vertroosting bring..

Tracey

Jy sien sommer Jesus se liefde op haar gesig. Mag Jesus julle dra in die bittere seer. So jammer. Bid vir julle

Mariaan

Ag nee..die lewe is sommer net hartseer! 3 seuns sonder n mamma..hoe op dees aarde kan dit tog nou enigsins “ok” wees….hoekom? Die Here gee tog nie vir jou 3 kinders..net sodat hul sonder jou moet grootword nie…maak net gladnie vir my sin nie..