Roete vir Twee Oseane op nipper verander

Die 2018 Twee Oseane-ultramarathon. Foto: Phando Jikelo/ANA

Die roete vir Saterdag se Old Mutual Twee Oseane-ultramarathon oor 56 km is op die nipper verander in belang van deelnemers se veiligheid te midde van betogings in die Kaap.

Organiseerders het Vrydagoggend op die marathon se webblad aangekondig dat betogings moontlik ontwrigtings en bedreigings vir deelnemers op die oorspronklike roete kan inhou. Daarom sal die roete dus nié meer oor Chapmanspiek loop nie, maar eerder al langs Ou Kaapse-weg.

Dié besluit is ná ʼn gewik en weeg met die polisie, die plaaslike regering, die Stad Kaapstad asook betrokke verkeers- en nooddienste eindelik deur die organiseerders geneem.

Die verandering sal geen invloed op deelnemers van die Twee Oseane-halfmarathon oor 21km hê nie en dié roete asook wegspringtye sal soos beplan gevolg word.

Die afloswedloop wat vanjaar vir die eerste keer sou plaasvind, sal egter nié meer plaasvind nie. Dié kennisgewing sal egter aan die betrokke deelnemers van die aflos gekommunikeer word, het die organiseerders verseker.

Dit is vanjaar 50ste keer dat dié ultramarathon aangebied word.

“Ons is vol vertroue dat hoewel die roete verander, dit steeds sal voldoen aan die belofte van die mylpaal van ons 50ste herdenking vanjaar,” het die organiseerders gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vonkprop ·

En so word alles wat oor die jare vlot verloop het negatief beinvloed deur mense wat niks het om te verloor nie. Kom ons noem hulle maar boelies voordat iemand weer aanstoot neem. Toekennings is nou al beinvloed, marathonne, kerke en so gaan die lys aan. Ons word gevangenisse in ons eie lewens en belangstellings

Andreas ·

Dis jammer om te sê, maar ons het nie polisie om mense te beskerm nie, dis ook hoekom die polisie wat by die betogings is, ook net ‘n wakende oog hou, en as daar iemand wat betoog, die wet oortree, waak die oog.

Linkses ·

Die linkses beskerm die plunderaars, en maak die polisie en howe kragteloos.

Ekke ·

Is betogers nou baas van ons land? Dis onvergeeflik dat hulle so ver kan gaan om die hele land stop te sit. Wie is hulle eintlik? Hoekom word hulle nie vasgevat? Stop die betogings ! Ons kon gister nie in Brits ons weeklikse inkopies doen ivm betogings. Hulle het ons net agressief van die paaie afgedruk. Nee man, dit kan en mag nie so wees nie

Kerrie Vlamskiet Briekstreep ·

.
.
Ek is bly om te sien ek is nie die enigste een wat die gefaalde regering van 25 jaar se “struggle” protesteer nie!
.
.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.