Rogue Rally: Lamborghini tref twee, amputeer bene

Foto: @LEB1sa op Twitter.

Foto: @LEB1sa op Twitter.

Die polisie ondersoek ʼn saak van nalatige en roekelose bestuur nadat ʼn Lamborghini Donderdag tydens die Knysna-fase van die week lange Rogue Rally twee toeskouers getref en albei bene van altwee persone geamputeer het.

Altesaam 51 van die wêreld se vinnigste en duurste sportmotors het vroeër die week in Johannesburg weggespring om 2 800 km van Johannesburg na Kaapstad af te lê. Die Rogue Rally word vanjaar vir die tweede keer aangebied.

As deel van die reis is ʼn tydtoets Donderdag in Knysna gehou waar die sportmotors op ʼn 2 km lange gedeelte van Ou Kaapseweg na die Simola Country Estate gery het. Dieselfde roete word vir die jaarlikse Simola Hillclimb gebruik, waar voertuie soms ʼn spoed van tot  240km/h op die kronkelpad bereik.

“Die bestuurder van die sportmotor het omstreeks 13:30 net voor die eindstreep beheer oor die voertuig verloor,” het kapt. Malcolm Pojie, ʼn polisiewoordvoerder, Vrydag aan Maroela Media gesê. “Dit het twee voertuie, wat langs die pad parkeer was, getref. Twee toeskouers, ʼn man en ʼn vrou, is ook getref en in die veld in geslinger. Dit het baie vinnig gebeur. Dit is nie bekend of die toeskouers op een van die voertuie gesit, of langsaan gestaan het nie. Albei het ledemate verloor.”

Die man en die vrou, wat glo ʼn egpaar in hul laat 40’s is, is na ʼn privaathospitaal geneem vir verdere behandeling. Hulle was Vrydag in ʼn stabiele toestand.

“Die bestuurder van die Lamborghini het geringe beserings opgedoen. Hy is ook na die hospitaal geneem en is reeds ontslaan,” het Pojie gesê.

Jacques van den Bergh, Rogue Rally se woordvoerder, het aan Maroela Media gesê dit is die eerste keer in die reis se bestaan dat só iets gebeur. “Ons het ʼn spesialismaatskappy gehuur wat al vir die afgelope vier jaar die Simola Hillclimb organiseer,” het Van den Bergh gesê. “Ons is baie gesteld op veiligheidsmaatreëls en het aan al die regulasies voldoen. Dis ʼn jammerte wat gebeur het.”

Van den Bergh het gesê die organiseerders onderneem om die polisie met hul ondersoek by te staan, en gaan ook hul eie ondersoek van stapel stuur om te verhoed dat so iets weer in die toekoms gebeur. “Voorlopige ondersoek dui daarop dat die twee toeskouers op ʼn plek was waar toeskouers nie toegelaat word nie. Hulle het hulself na bewering as regeringsamptenare voorgedoen om naby dié gevaarlike punt te kom,” het hy gesê.

Alle verdere verrigtinge is Donderdag ná die voorval opgeskort. Die reis het Vrydag hervat en eindig Saterdag in Kaapstad soos wat beplan is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Elfie ·

Volgens die woordvoerder “..is dit ‘n jammerte dat dit gebeur het”. Volgens berigte was die toeskouers waa rhul nie moes wees nie – sê dus nie veel van die organiseerders se vermoë om dinge reg te reël nie. Mens moet tog sekerlik met sulke byeenkomste voorsorg tref vir ALLE gebeurlikhede? Wie gaan vir hierdie mense se hospitaalkoste en terapie agterna betaal wonder ek.

Paul ·

Ja, blameer die organiseerders eerder as om grootmense wat vir hulself kan dink en op ‘n onveilige plek gaan staan het, en wat na berigte boonop gelieg het om buite die veilige area te kan kom, vir hul eie dade verantwoordelik te hou.
Dit maak mos sin. Dis nooit iemand se eie skuld as hy onveilig opgetree het nie.

Elfie ·

…moet voorsorg tref vir ALLE gebeurlikhede. Hoekom het toesighouers nie gesien hulle is op ‘n onwettige plek nie. Al het hulle gelieg moes hul dan eenvoudig gesê het al is jy die koning van Thailand, jy MAG nie daar staan nie. Nee wat daar is nie streng genoeg voorsorg getref nie. Mense wat sulke goed reël moet JUIS voorsorg tref vir mense wat DALK sal probeer reëls verbreek, want mens kry hul oral. Moenie dink so iets sal by ‘n F1 byeenkoms plaasvind nie – reëls is te streng! Mense sal beslis nie daar kan by gevaarlike plekke kom selfs al sou hulle lieg. En sou iemand wel êrens beseer word waar toeskouers is sal F1 beslis betaal. Dis mos waarvoor mense versekering moet uitneem – vir die wis en onwis. Wakker word!

Paul ·

Nee. Jy wil steeds GROOTMENSE soos kinders behandel. As jy nie wil hoor nie, moet jy maar voel.
Dis grappig hoe min jy klaarblyklik van motorsport (insluitend F1) en die veiligheidsmaatreels daarvan weet.

sjoe!! ·

Dit is vreeslik erg!!! Ek stem saam, maak nie saak of hul was waar hulle nie veronderstel was om te wees nie, waar is die sekuriteit wat hulle moes keer? Ek hoop regtig dat hierdie organiseerders vir hulle sal betaal vir al hul uitgawes met hospitaal, trauma behandeling en hul kunsbene en alles wat hul nodig gaan hê, “mobility scooters” ens. Ek weet net, hoe laer jou been af is hoe makliker; en as jy nog n knieg het kan jy amper normaal aangaan, maar dit bly vreeslik en die aanpassing is net nooit maklik nie, wat nog te praat van albei bene verloor en jou hulp (man/vrou) is in dieselfde posisie. Dis vreeslik erg, my hart gaan uit na julle twee. Baie sterkte!!!!!

Paul ·

Nee.
Dis grootmense. Hulle besef dat om naby ‘n pad waarop motors tydtoetse doen, gevaarlik kan wees. Hulle het (na berigte) gelieg om buite die veilige area toegelaat te word. Dis dan tog hul skuld, nie die organiseerders se skuld nie.

Kry eerder die motorbestuurder jammer, want selfs al is hy nie verantwoordelik nie, gaan hy tog sleg voel oor die gebeurtenis.

Illa Conradie ·

Ek stem saam met Paul. Hierdie mense het moeilikheid gesoek deur reëls te oortree. Dis net hulle eie skuld, niemand anders s’n nie. En ek is ook jammer vir die bestuurder en organiseerders wat getraumatiseer is oor ander mense se onnoselheid en nalatigheid. Moenie die skuld op onskuldiges pak nie. Mense moet van kleins af leer om reëls te gehoorsaam en verantwoordelikheid vir hulle eie dade te aanvaar.

VerVanRyn ·

Die organiseerders het heel moontlik alles gedoen wat hulle kon om dit te verhoed, hierdie is “grootmense” wat nie ‘n besef het waarom reëls bestaan nie. Die bestuurder moet ondersoek word, want hy was dalk nalatig, maar hierdie twee “regeringsamptenare” het hulself onwettig voorgedoen as amptenare en het ‘n area betree wat buite perke was. Hulle het geen verskoning of kans om vergoeding te eis nie, maar moet aanspreeklik gehou word vir die oortredings.

piersang ·

Nou kan ek vleisbraai op kyalami baan en as iemand my durf raakry is hulle skuldig

Sollie ·

@piesang – klim terug in die boom en probeer L O G I E S dink voor jy dom kommentaar lewer.

Luke ·

Ons was nie daar om te weet wat gebeur het nie en ons kan nie met sekerheid se of die man en vrou hulle werklik as dit voorgedoen het nie. Ja iemand het opgeslip en soos dit vir my klink is daar meer agter die verhaal as wat gese word. Vir wie het hulle gese hulle is dit? Want dan is daai persoon skuldig dat hy of sy nie hulle werk reg gedoen het nie en as die persoon in diens is van die organiseerders dan is hulle ook te blaam. Onthou, toeskouers vat kaanse want hulle verwag nie so iets nie. Iemand het op geslip…

Nathan ·

Motor resies hoort nie op n openbare pad en in die publiek gehou te word nie, daarvaoor is renbane gebou. In die geval van tydrenne, dit word op grondpaaie in die boendoes gehou, die regte plek. “Rouge Rallies” behoort verban te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.