Rogue Rally: Lamborghini tref twee, amputeer bene

Foto: @LEB1sa op Twitter.

Foto: @LEB1sa op Twitter.

Die polisie ondersoek ʼn saak van nalatige en roekelose bestuur nadat ʼn Lamborghini Donderdag tydens die Knysna-fase van die week lange Rogue Rally twee toeskouers getref en albei bene van altwee persone geamputeer het.

Altesaam 51 van die wêreld se vinnigste en duurste sportmotors het vroeër die week in Johannesburg weggespring om 2 800 km van Johannesburg na Kaapstad af te lê. Die Rogue Rally word vanjaar vir die tweede keer aangebied.

As deel van die reis is ʼn tydtoets Donderdag in Knysna gehou waar die sportmotors op ʼn 2 km lange gedeelte van Ou Kaapseweg na die Simola Country Estate gery het. Dieselfde roete word vir die jaarlikse Simola Hillclimb gebruik, waar voertuie soms ʼn spoed van tot  240km/h op die kronkelpad bereik.

“Die bestuurder van die sportmotor het omstreeks 13:30 net voor die eindstreep beheer oor die voertuig verloor,” het kapt. Malcolm Pojie, ʼn polisiewoordvoerder, Vrydag aan Maroela Media gesê. “Dit het twee voertuie, wat langs die pad parkeer was, getref. Twee toeskouers, ʼn man en ʼn vrou, is ook getref en in die veld in geslinger. Dit het baie vinnig gebeur. Dit is nie bekend of die toeskouers op een van die voertuie gesit, of langsaan gestaan het nie. Albei het ledemate verloor.”

Die man en die vrou, wat glo ʼn egpaar in hul laat 40’s is, is na ʼn privaathospitaal geneem vir verdere behandeling. Hulle was Vrydag in ʼn stabiele toestand.

“Die bestuurder van die Lamborghini het geringe beserings opgedoen. Hy is ook na die hospitaal geneem en is reeds ontslaan,” het Pojie gesê.

Jacques van den Bergh, Rogue Rally se woordvoerder, het aan Maroela Media gesê dit is die eerste keer in die reis se bestaan dat só iets gebeur. “Ons het ʼn spesialismaatskappy gehuur wat al vir die afgelope vier jaar die Simola Hillclimb organiseer,” het Van den Bergh gesê. “Ons is baie gesteld op veiligheidsmaatreëls en het aan al die regulasies voldoen. Dis ʼn jammerte wat gebeur het.”

Van den Bergh het gesê die organiseerders onderneem om die polisie met hul ondersoek by te staan, en gaan ook hul eie ondersoek van stapel stuur om te verhoed dat so iets weer in die toekoms gebeur. “Voorlopige ondersoek dui daarop dat die twee toeskouers op ʼn plek was waar toeskouers nie toegelaat word nie. Hulle het hulself na bewering as regeringsamptenare voorgedoen om naby dié gevaarlike punt te kom,” het hy gesê.

Alle verdere verrigtinge is Donderdag ná die voorval opgeskort. Die reis het Vrydag hervat en eindig Saterdag in Kaapstad soos wat beplan is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elfie

Volgens die woordvoerder “..is dit ‘n jammerte dat dit gebeur het”. Volgens berigte was die toeskouers waa rhul nie moes wees nie – sê dus nie veel van die organiseerders se vermoë om dinge reg te reël nie. Mens moet tog sekerlik met sulke byeenkomste voorsorg tref vir ALLE gebeurlikhede? Wie gaan vir hierdie mense se hospitaalkoste en terapie agterna betaal wonder ek.

sjoe!!

Dit is vreeslik erg!!! Ek stem saam, maak nie saak of hul was waar hulle nie veronderstel was om te wees nie, waar is die sekuriteit wat hulle moes keer? Ek hoop regtig dat hierdie organiseerders vir hulle sal betaal vir al hul uitgawes met hospitaal, trauma behandeling en hul kunsbene en alles wat hul nodig gaan hê, “mobility scooters” ens. Ek weet net, hoe laer jou been af is hoe makliker; en as jy nog n knieg het kan jy amper normaal aangaan, maar dit bly vreeslik en die aanpassing is net nooit maklik nie, wat nog te praat… Lees meer »

Boesman

Dis nou vir jou flippen onnodig!

VerVanRyn

Die organiseerders het heel moontlik alles gedoen wat hulle kon om dit te verhoed, hierdie is “grootmense” wat nie ‘n besef het waarom reëls bestaan nie. Die bestuurder moet ondersoek word, want hy was dalk nalatig, maar hierdie twee “regeringsamptenare” het hulself onwettig voorgedoen as amptenare en het ‘n area betree wat buite perke was. Hulle het geen verskoning of kans om vergoeding te eis nie, maar moet aanspreeklik gehou word vir die oortredings.

piersang

Nou kan ek vleisbraai op kyalami baan en as iemand my durf raakry is hulle skuldig