Rohde se tweeling ‘wil nie pa ook verloor nie’

Jason Rohde (Foto: Henk Kruger/ANA/African News Agency)

Jason Rohde se tweelingdogters sukkel nog om die dood van hul ma, Susan, te verwerk en voel hulle sal nog ʼn ouer verloor indien hul pa tronk toe gestuur word.

Rohde het Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn waar met voorvonnisverrigtinge begin is. Die staat het Rian Perry, ʼn maatskaplike werker, geroep om ter strafverswaring te getuig.

Perry het ʼn verslag saamgestel oor die impak van Susan se dood op haar dogters en direkte familie. Perry het op 26 November in Wynberg met die Rohde-egpaar se tweelingdogters, Alexandra Oliveia (Alex) en Joanna Georgie (Josie), onderhoude gevoer. Hy het die onderhoud gelyktydig met die tweeling gedoen.

Die tweeling het einde verlede maand hul matriekeksamen aan die Diocesan School for Girls in Grahamstad voltooi en is tans in Kaapstad.

Volgens Perry het Alex ʼn wonderlike verhouding met haar ma gehad en het hulle baie pret gehad. Josie het gesê sy en haar ma het ʼn hegte verhouding gehad en daagliks gesels. Perry het gesê Josie was baie emosioneel tydens die onderhoud en het dikwels nie woorde gehad nie en dit moeilik gevind om haarself uit te druk.

Die tweeling het Susan as hul hoofouer beskou, het Perry getuig. Hy het gesê volgens die dogters het hul pa na hul ma se dood dié rol begin vervul. “Hulle hele lewe is omgekeer met die dood van hul ma. Sy was die kern van die familie.” Volgens Perry het hulle nie geglo hul ma is dood nie en soms net gedink dis ʼn nagmerrie.

“Toe hulle hoor hulle pa is in hegtenis geneem in verband met hulle ma se dood, is hulle lewe weer omgekeer.” Die tweeling sukkel om hul ma se dood te verwerk aangesien hul pa se verhoor steeds aan die gang is, het Perry getuig.

Alex en Josie het albei vir terapie gegaan maar het albei later behandeling gestaak aangesien hulle gevoel het dit het nie gehelp nie. Alex kon daarin slaag om akademies steeds goed te presteer en het universiteitsvrystelling gekry. Josie se akademiese prestasie het agteruitgegaan maar sy het ook vrystelling gekry.

Perry het getuig die tweeling het ook hul verhouding met hul familie moeilik gevind. Aan die een kant was daar hul ouma wat gerou het oor die dood van haar dogter en aan die ander kant hul ouma wat haar seun bystaan.

Susan en Jason Rohde. Foto: Facebook

Volgens Perry is dit vir die tweeling moeilik om te begryp dat hul pa tronk toe kan gaan. “Hulle voel hulle gaan nog ʼn ouer verloor indien hulle pa tronk toe gaan. Hulle het nog nie hul ma se dood verwerk nie en dit veroorsaak emosionele pyn vir hulle en nou weet hulle nie wat met hulle pa gaan gebeur nie.”

Die hof het ook gehoor dat die Rohde-egpaar se oudste dogter, Kathryn (20), namens haar pa wil kom getuig. Volgens Perry het Kathryn aangedui dat haar ma se dood elke aspek van haar lewe geraak het en dat haar pa nou die enigste mens is wat is sy vertrou.

Perry was die staat se derde getuie wat ter strafverswaring getuig het. Sy getuienis is voorafgegaan deur David Anderson, die prokureur wat Susan se boedelsake behartig. Hy het onder meer getuig dat daar op 1 Februarie vanjaar ʼn surplus van R4,25 miljoen in Susan se boedel was en dat Rohde se regspan hom genader het om geld vir sy verdediging beskikbaar te maak. In totaal is  R2,9 miljoen al aan Rohde voorgeskiet.

Dr. Naeemah Abrahams, adjunk-direkteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se geslag- en gesondheidsnavorsingseenheid, is ná Anderson geroep om te getuig. Sy is onder meer uitgevra oor studies wat gedoen is rakende vroue wat deur hul intieme maats vermoor word. Die saak gaan Donderdag voort.

Rohde is op 8 November skuldig bevind aan die moord op sy vrou, Susan, op 24 Julie 2016. Regter Gayaat Salie-Hlophe het Rohde ook aan regsverydeling skuldig bevind. Sy het in haar opsommende uitspraak van 38 bladsye gesê Rohde se weergawe van gebeure dat Susan selfmoord gepleeg het toe die egpaar die naweek van 22 tot 24 Julie 2016 Sotheby’s International Realty se jaarlikse geselligheid op die Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch bygewoon het, kan onmoontlik nie waar wees nie.

Die regter het gesê die bewyse dui daarop dat Rohde sy vrou met die vuis in die gesig geslaan, haar gewurg en haar met ʼn kussing versmoor het. Hy het toe probeer om haar dood na selfmoord te laat lyk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

leser ·

jason erken net die waarheid, jy weet jy lieg oor susan se dood

jaco ·

glo hulle na AL die bewyse steeds nie dat hy die moord gepleeg het nie???

DS ·

Hy het haar vermoor en nou gebruik hy nog die geld wat in die boedel is en eintlik vir die kinders bedoel is net om verder te lieg en bedrieg. Dogters glo my julle is beter af SONDER hom in julle lewens.

Pop ·

Pa of te nie, ek vind dit skokkend dat die kinders wil he hulle pa moet skot ry loop vir hulle ma se dood. As my dogter deur haar man vermoor word sal ek my kleinkind bitter moeilik vergewe as sy vir hom in die bres tree

Dieter ·

Soveel mans se lewens sou soveel beter gewees het indien hulle nooit getrou het nie.
Dink net…..geen verantwoordelikhede nie, net ‘n klomp speelgoed soos vliegtuie, motorfietse, gewere ens. En genoeg tyd om die speelgoed te geniet.

Maar nee, hulle spandeer eers ‘n klein fortuin om te trou, en dan later ‘n groot fortuin om te skei. Om nie te praat van die allemintige fortuin om kinders groot te maak nie.

Lani ·

Siestog, hoe arm moet jy nie wees om so te redeneer nie… Geniet maar jou plastiek speelgoed…

Petro Potgieter ·

Ek verstaan nie hoekom hy nie moet tronk toe gaan nie. Die meisies kan maar by die oumas gaan bly en hul pa besoek,
Wie gee hom die reg om sy vrou dood te maak .
Dit is okay, hulle sal wel aan pas soos wat hulle ouer word, maar hy kan nie net weg kom nie.

Suanette Ludick ·

Dit is belaglik, hy manupileer die dogters met sy jammer gesiggie. Hoe kan enige kind haar pa vertrou nadat hy haar ma verneuk het en toe nog gaan vermoor ook. Die kinders het nog nie besef wat aan gaan nie. sluit hom toe en gooi sleutel weg.

jakes ·

Met so n ernstige misdaad sal die hof geensins Rhode se vonnis tersyde stel of versag net omdat sy dogters nou ouerloos sal word omdat hy tronkstraf utdien nie. Hy het nie net sy vrou vermoor nie maar ook in die proses twee prag kinders se lewe verwoes. Die meisies sal al die bystand wat hulle kan kry, nodig he om die skerwe van hul lewens op te tel en aan te beweeg. Rhode bly hul pa en moet hulle hom seker maar ondersteun vir baie jare wat hy gestraf gaan word.

Lana ·

Ekskuus?!
Hy het Susan vermoor en gebruik nou haar geld om hom te verdedig.
BELAGLIK

lovie ·

VOEL JAMMER VIR DIE MEISIES MAAR HULLE AL MOOI GROOT. WEET MOS WAT PA GEDOEN HET IS AFSKUWELIK VERKEERD. DUISENDE KINDERS WAT SONDER ALBEI OUERS GROOT WORD. NEE WAT GEEN VERSAGTING NIE. HET HY AAN HULLE GEDINK TOE HY SUSAN VERMOOR HET..NEE NET AAN SY EIE BELANG.. SIES DIT WYS NET SY MORELE WAARDES IS UP TO DUST…

Estelle ·

Ai mense, wat het geword van vergifnis? “Die wat sonder foute is, ‘by all means’ gaan voort ‘have your say'”
Elke daad [goed of sleg] het gevolge. Kom ons staan saam – en bid vir ‘n positiewe uitkoms/ uitspraak. Bid vir die kinders se welstand, vrede and rustigheid. Maak nie saak die ouderdom, die tragedie het ‘n impak op almal! Bid vir die familie [aan albei kante] – Ek kan my net indink hoe almal geraak is deur die tragedie.

Vinkie ·

Liewe Estelle,
Ek is ook kwaad en wou ook iets lelik kwytraak toe lees ek jou skrywe. NIE EEN van ons is sonder sonde nie en ons is dikwels sò gou om te oordeel! ek stem saam met jou, ons moet vir die wat onskuldig is, bid. Jason sal sy straf kry en dis dit. Wil net graag vir sy drie dogters die mooiste toewens in hul toekoms.

AH ·

Rohde het ‘n walglike daad gepleeg en hy verdien ‘n laaaaaaang vonnis. Sy kinders sal hom dalk vergewe, maar as dit ek was wat in daardie posisie was, beslis nie! Hy sal natuurlik nou op sy kinders se gevoelens speel om nogsteeds voor te gee dat hy onskuldig is, maar waarom het hy nie aan hul gevoelens gedink toe hy hul Ma vermoor het en dit probeer toesmeer het nie!

SARIE VAN HEERDEN ·

Wat ‘n jammertlike besigheid. Laat die gereg sy gang gaan en staan die arme kinders by net soos kindersbygestaan word wat onder dieselfde omstandighede hul ouers moet verloor.

Megan ·

DE BLOEDIGE HAND ER NEEMT GEEN ERFFENIS………

Hoe kry hy geld direk uit haar boedel? Dit is teen die wet?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.