Roland Schoeman het nog baie om SA te bied

Die Suid-Afrikaanse Olimpiese medaljewenner sê hy bly trots Suid-Afrikaans. (Argieffoto: Andrej Isakovic/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Olimpiese medaljewenner Roland Schoeman het die afgelope week sy Amerikaanse burgerskap gevier,  maar dié #southafricanamerican – soos hy na homself op Twitter verwys – sê hy het nog heelwat om sy geboorteland te bied.

Schoeman woon die afgelope sowat 20 jaar in Arizona in die VSA en die meeste van sy sakebelange is daar. Benewens sy voortgesette betrokkenheid by sport, is hy ook in die internasionale eiendomsmark betrokke.

Die ster-atleet het vandeesweek gesê hoewel hy nou ook Amerikaanse burgerskap het, reis hy steeds gereeld na Suid-Afrika. “Ek is ʼn Suid-Afrikaner met dubbele burgerskap en ek beoog om heelwat tyd in albei lande deur te bring,” sê Schoeman.

Hy is steeds nou betrokke by swem en bied jaarliks tussen 20 en 30 klinieke in die VSA aan.

“Die fokus is op tegniek, opleiding, ʼn hoëprestasie-instelling, resiesvoorbereiding en asemhalingstegnieke. Daarbenewens het ek ook al as konsultant saam met verskeie internasionale federasies gewerk.

“Ek spandeer ook tyd om jonger atlete op ʼn individuele grondslag te mentor.”

Schoeman sê deur Arizona as basis te gebruik, kan hy gemaklik tussen Suid-Afrika en die VSA pendel – hoewel daar natuurlik heelwat ander voordele aan sy Amerikaanse burgerskap verbonde is. Hy reis minstens een of twee keer per jaar steeds na Suid-Afrika en spandeer dan enigiets tussen twee en vyf maande hier.

Die gevierde swemmer het in Augustus verlede jaar gesê hy wil Suid-Afrika se minister van sport wees en het hy het ook ʼn brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf oor waarom hy dié pos wil beklee. Die aanbod het heelwat reaksie uitgelok.

Hieroor sê Schoeman hy het steeds heelwat om tot Suid-Afrikaanse swem – en sportontwikkeling – by te dra, vandaar die aanbod.

“Ek was meer as 20 jaar internasionaal in die wêreld van sport ingegrawe deur deelname, mededinging, bestuur, bemarking en ontwikkeling. Ek glo ek het ʼn ongelooflike hoeveelheid kennis wat moontlik kan help om insig te bied en kan help bydra tot die groei en verbetering van sport en swem in Suid-Afrika.

“Ek glo beslis dat ek ʼn bydrae kan lewer.”

Suid-Afrika het al talle topswemmers opgelewer, Schoeman onder die voorstes, en hy sê Suid-Afrika het geweldige talentvolle atlete met baie kundige afrigters. “Ek glo alles moontlik word gedoen in ag genome die beperkings wat swemmers en afrigters in die gesig staar.”

Hy glo tog dat veel meer gedoen kan word om plaaslike talent te koester en te ontwikkel.

“As jy na die laaste tien jaar van sport en swem in Suid-Afrika kyk, sal jy aanhou om ʼn bestendige afname te sien. Dit is nie noodwendig prestasiegewys nie, want ons sien nog steeds dat Suid-Afrika kampioene produseer – ek verwys na byvoorbeeld administrasie of borgskappe.”

Schoeman sê verskeie atlete wat in Suid-Afrika gesetel is, ding suksesvol op die wêreldverhoog mee, terwyl talle ander wat ʼn ander land as basis gebruik, die land van daar trots maak. Hy sê albei opsies is heeltemal haalbaar.

“Die belangrikste komponent is die atleet en hul ontwikkeling – en om aan hulle die beste geleentheid te gee om te presteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.