Rolbalspeler sterf tydens toernooi

Barry Liebenberg. (Foto: Facebook / Kraaifontein Bowls Club)

ʼn Rolbalspeler van Brackenfell in die Wes-Kaap is Sondag langs die baan dood waar hy aan ʼn toernooi in Stellenbosch deelgeneem het.

Barry Liebenberg was die afgelope vier jaar ʼn lid van die Kraaifontein-rolbalklub.

Volgens Janet Schmidt, president van dié rolbalklub, was Liebenberg in sy 60’s. Liebenberg het glo gekla dat hy siek voel en kort daarna inmekaargesak.

Hoewel die amptelike oorsaak van Liebenberg se dood nie bevestig is nie, word daar vermoed dat hy aan ʼn hartaanval dood is.

Schmidt sê Liebenberg was die enigste lid van die klub wat aan die toernooi deelgeneem het, en dat sy nie al die inligting oor die voorval tot haar beskikking het nie.

Barry Liebenberg. (Foto: Facebook / Kraaifontein Bowls Club)

“Soos ons verstaan, het hy nog gesels met die mense wat hom te hulp gesnel het, voordat hy dood is.”

Sy sê Liebenberg se afsterwe is ʼn reuseslag vir die klub en rolbalgemeenskap.

“Hy het werklik ʼn hart van goud gehad.

“Hy was ʼn mense-mens met deernis vir sy spanmaats en vriende. Hy het nooit vir enigiets teruggestaan nie en het álles vir sy sport en familie gegee.”

Die klub het foto’s van Liebenberg op hul Facebook-blad gedeel en hul medelye met Liebenberg se familie uitgespreek.

“Rus in vrede, Barry. Ons gebede en gedagtes is by Tokkie, Corlia, Eric en die kleinding in hierdie hartseer tyd,” lui die inskrywing.

Lede van die Raad van Militêre Veterane Organisasies van Suid-Afrika (RMVO) het ook hul medelye op Facebook betoon.

“RMVO-SA-voorsitter en lede van die bestuur betuig simpatie, deel sterkte en seënwense aan die familie van wyle militêre veteraan Barry Liebenberg (Pantser). Saluut.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.